Tuesday, September 25, 2007
Ek bieg in Berlyn
Na my aankoms gister-oggend in Berlyn en nadat ek by die hotel ingeboek is, besluit ek om soos gewoonlik wanneer ek in ‘n vreemde stad is, ‘n ent te gaan loop. Ek vra ’n stadskaart by die hotel-ontvangs, en laat die ontvangsdame met ’n sirkel op die kaart aandui waar die hotel is. Omdat ek darem ook nie heeltemal vreemd in Berlyn is nie, neem ek nie veel notisie van die kaart nie, maar slaan sommer ’n rigting in langs die Spree-rivier ; ek het nog nooit in hierdie hotel gebly nie, maar vol selfvertroue begin ek loop. Nadat ek so 30 minute lank geloop het, stap ek by twee dames verby, en die een vra of hulle in die regte rigting stap om by die Hauptbahnhoff (Berlyn se hoof-stasie) uit te kom. Met ‘n 100% seker houding, bevestig ek dat hulle in wel reg is, en ek stap verder.
Na ’n rukkie besef ek egter dat niks bekend lyk nie, en ek gaan sit om die kaart te bestudeer. Na verskeie minute kom die twee dames by my verby geloop, en met ’n knik van die kop groet ons mekaar. En hulle loop verder. Ek vermoed ernstig dat ek (ons) in die verkeerde rigting stap, en ek draai om ; terug hotel toe. By die hotel vra ek, en Ontvangs bevestig dat ek weliswaar in die verkeerde rigting gestap het. En ek besef dat ek die verkeerde inligting aan die twee dames gegee het.
Jammer dames – ek weet nie waar julle ge-eindig het nie, en weet ook nie wanneer julle besef dat julle verkeerde raad van my gekry het nie.
My straf was seker dat ek later die dag erg verdwaal het ; soveel so dat ek iewers ge-eindig het wat nie op die stadskaart aangedui is nie, en dat ek na vele vrae uiteindelik weer by die hotel uitgekom het ; met meer as agt ure se stap agter die rug, sopnat gesweet en lekker voetseer !
Monday, September 17, 2007
Bloeisels en Blikke
Hoe mooi is die pragtige wit en roosrooi en blou blommetjies wat guitig-skielik hulle verskyning in byna elke boom en struik in Pretoria gemaak het. ’n Visuele simfonie van kleure, en ja, ook geure.
Hierdie jaar is daar egter ’n nuwe lid in die orkes wat ’n bykomende wanklankie bydra. Groot, swart vullisdromme staan regop-soldaat en waghou op elke hoek en om elke draai. Boggelrug-vol swart sakke hou vele vullisdromme geselskap gedurende die groot wag. Honderde, of miskien duisende wat nou al na byna twee weke met ’n wanklankie die suiwer lentelug-simfonie besoedel.
Die vullis-verwyderaars van Pretoria staak !
Thursday, September 13, 2007
Tydelik Gestrem !
Iets so simpel soos om van die parkeerterrein deur die prosesse om op die vliegtuig te kom, raak 'n nagmerrie. Die vlug self, byvoorbeeld waar om die krukke te sit, en hoe om op te gaan sit terwyl jy byna beenaf is, en ander dinge - mense, dit was 'n openbaring. Die manier hoe ander mense jou hanteer, ensovoorts. Dit was waarskynlik een van die mees uitputtendste dae in my lewe.
Ek het geen idee gehad nie !
Miskien sal ek later meer oor die ondervinding / ervaring skryf. Alhoewel ek myself as redelik ingelig beskou tov gestremdheid, was vandag vir my 'n openbaring !
Tuesday, September 11, 2007
Hospitalisasie en die admin-monster
Maar vandag, nie uit eie keuse nie, is ek opgeneem, en weereens verbaas die admin-monster my. Ten spyte van die feit dat ons familie hierdie hospitaal al vir jare gebruik (goed ondersteun is dalk 'n beter woord), moet mens van voor af dieselfde inligting ten minste drie of vier keer weer neerskryf. Dan word dit waarskynlik weer iewers in 'n rekenaar ingevoer. En ek moes seker vyf keer my handtekening iewers neerpen.
Is dit nie moontlik om al my vorige inligting van die databasis af te trek, sodat ek dit kan bevestig en enige veranderinge aanbring nie ? Opname sal dan mos baie vinniger en meer koste-effektief wees.
Dan word 'n reeks plakkers met al my inligting gedruk en orals op verskillende vorms opgeplak. Maar daar is nog steeds ten minste meer as tien plakkers wat ongebruik gelaat is. Waarskynlik word 'n paar wel nog gebruik deur die loop van die dag, of tot wanneer ek ontslaan word. Maar ek is oortuig daarvan dat 'n paar nie gebruik sal word nie. Hierdie gom-plakkers is duur items. As mens na al die 'voorsienings' kyk wat gedurende die proses gebruik word, wonder ek hoeveel onnodige kostes dit veroorsaak. 'n Bietjie hier en 'n bietjie daar, en weliswaar, die rekening kry sommer nog 'n nul by.
Ek is oortuig daarvan dat bietjie Organisasie en Metode fokus heelwat optimisasie en koste-besparings teweeg kan bring, en die produktiwiteit wesentlik kan verhoog.
En ek hou nog steeds nie van hospitale nie ; gelukkig is almal tot op hede baie vriendelik en hulpvaardig.
Ek hou net nie van die "Nul per Mond" teken agter my bed nie...
Sunday, August 26, 2007
Die Otter : 7 - Die Einde
Die laaste 6,8 kilometer word aangepak, met Nature’s Valley in gedagte. Soos elke dag is daar uitdagings in die begin, maar selfs ek begin agterkom dat my rugsak heelwat ligter is as ’n paar dae vantevore.


Plek-plek loop die span een-een ; plek-plek loop groepies van twee. Elkeen met sy of haar eie gedagtes. My knie gun my egter geen rus nie, maar selfs dit maak geen indruk op emosies van die oomblik nie.


Uiteindelik lê die lang en wit strand van Nature’s Valley voor ons, maar om daar te kom moet ons nog berg-af. En dis nie sommer net vir afdraf nie ; dis ’n afklim van formaat.
Toe die span almal onder is, word handdrukke en gelukwense uitgedeel, en die groep neem hande en gee lof en eer aan die Vader vir ’n ongelooflike ervaring.
’n Paar honderd meter se stap op die strandsand neem ons na die klein restaurant en kroeg, waar almal na keuse ’n vars koelerigheid en iets wat in ’n kombuis gemaak is geniet. Daarna waardeer almal Wynn en Tacey se gasvryheid by hulle vakansiehuis met die luukse van ’n warm stort.
Dit was die Otter. Wat ’n voorreg ! Wat ’n ondervinding. Wat ’n span !

Die Otter : 6 - Bloukransrivier-dag
Teen 03:45 is almal gestewel en gespoor en gerugsak ; en dis donkerder as pikdonker. Behalwe vir ’n klompie dapper sterre wat koppie uitsteek, is daar van die maan geen sprake nie. Met ons kopligte aangeskakel en al stappend soos eendjies-eendjies-in-‘n-ry, kronkelend berg-op en slingerend berg-af, lyk ons kompleet soos ’n troep mynwerkers. Die roete is uiters uitdagend en is plek-plek so hoog dat jou kopliggie verlore raak en totaal verward moed opgee in die teerswart duisternis as jy afkyk na die see aan die linkerkant reg onder jou. Soos bergklimmers klou en haak ons plek-plek aan skerp rotspunte, en met genade van Bo is daar geen insidente en ongevalle nie. Later, nog steeds in die donker, loop ons deur die Tsitsikamma woude, en lang-lang bome troon uitdagend meters die lug in. In die sterk-flou ligskynsels van die kopflitse lyk die omgewing ietwat sinister en skrikwekkend, maar terselfdertyd ook veilig en vol vrede. Mens is daar so ver verwyderd van die daaglikse onsin en chaos waarmee die wereld ons konfronteer.



Op makliker plekke voltooi die groep ’n paar kilometers in tussen vyftien en vyf-en-twintig minute per kilometer, en ons kom by die Bloukrans volgens plan ; ons is daar in goeie tyd teen 09:20. Moeg en natgesweet, maar baie bly en gelukkig dat ons op tyd is, en daar word geen tyd gemors om ook hierdie struikelblok suksesvol aan te durf nie. Almal is positief en gefokus, en die voorbereidings word gedoen. Die oorleweringssakke word uitgehaal, stewels uitgetrek, Rocky’s en sandale kom te voorskyn, almal maak seker dat dit wat in ZipLock sakkies moet wees, daarin is en goed toegemaak is, en dan is dit tyd.
Daar is drie moontlikhede waar die oorgang gemaak kan word, maar daar word eenstemmigheid bereik dat die mees veiligste opsie die een is wat die naaste aan die see in die mond is. Dit beteken wel dat daar ten minste nekhoogte in die (koue) water geloop moet word, en branders moet trotseer by die rotse. Ongelukkig is dit ook so dat daar onsigbare kolkgate is, en ek, soos die meeste van die span, trap hier en daar mis en word kop-oor-gat in die maalgate ingetrek. Sand in die ore, sout in die oë, soutwate in die mond ! Uiteindelik is almal veilig oor en deur, en hier moet spesiale erkenning ook aan Wynn, Reece, Adolph, Ferdi en Dewald gegee word vir die ongelooflike hulp en ondersteuning wat hulle aan die span gegee het. Welgedaan julle ! Julle is sterre !





Aan die ander kant van die rivier sit en kuier ons vir lank ; maak ontbyt, drink koffie en geniet die fantastiese natuur om ons. En die wete dat ons die Bloukrans oorwin het !


Later word die finale paar kilometer na die hutte aangepak, en ook op hierdie been word ons almal getoets met stewige rotsklimmery wat veel druk plaas op ons moed en uithouvermoë, maar die span het vasbyt en druk deur ! Voornemende Otter-stapper moet nie hierdie laaste 3,8 kilometer of so onderskat nie.





Hier op die plato loop ons ook van die mooiste proteas in blom en ander blomme raak.


Laatmiddag kom ons by Andre se Hut, en almal is maar lekker moeg na ’n lang en uiters uitmergelende dag. Ons weet daar is maar nog net 6,8 kilometer oor, en elkeen kan al amper sê dat sy of hy die Otter gedoen het. Of eerder miskien, dat die Otter ons gedoen het.
Vanaand eet ons wat in die rugsakke is. Kos is nie meer so belangrik nie. Rus is meer belangrik.
Die Otter : 5 - Ons het die Otter ritme





Nadat elkeen sy ontbyt na keuse geniet het, val ons weer in die pad. Teen die tyd weet ons ook dat daar onmiddellik nadat jy die oornaghut verlaat het, jy ’n paar stywe klimme kan verwag. So is dit toe ook vanoggend, maar gelukkig raak die rugsakke dag vir dag effens ligter. Maar ons bene en spiere ly onder die druk, en die effense gewigsverligting maak in wesentlike terme nie ’n groot verskil nie. Of so het dit vir my ten minste gevoel. En my knie soek aanmekaar geselskap !






Net ’n gedagte oor een van die stappers se aanslag op ontbyt. Hy neem sy kits-hawermout net so droog, direk uit die pakkie ; so asof hy ’n Grandpa-poeiertjie sluk. Wel, dit werk seker vir hom.


Toe kry ons die Lotteringsrivier. Darem nie heeltemal op hooggety nie, maar sodanig dat ons skoene, broeke en hemde moes uittrek, en byna borshoogte deur hierdie yskoue water moes gaan. Ook hier moes ons die eerste keer ons oorlewingssakke (“survival bags”) gebruik om die rugsakke en skoene en al daarin te sit, om dit veilig en droog aan die ander kant te kry.






Weereens neem die roete ons deur die mooiste en ongeskonde natuurskoon van die Tsitsikamma-woude en pragskone seetonele. Die blouste blou water, die mooiste rotsformasies. Mens kan net nie genoeg kry daarvan nie, ten spyte van die pyne en moegheid en rugseer. En nog steeds dink my knie hy’s belangrik !
Vanaand het ons nie meer vleis nie. Aandete bestaan uit onder ander Pro Vita met John West tuna en mossels as voorgereg, pasta met lekker kaas en sampioensous, en Ferdi tower ’n blik met “meatballs” vanuit die dieptes van sy rugsak op. Saam met koffie, Cremora en ’n goeie skeut Amarula daarin, eet ons feestelik en soos konings.

Na ’n lekker saamsingsessie en gesellige kuier met Old Brown Sherry om die vuur, word bedwaarts gekeer. Almal onder die indruk van more se uitdaging om deur en oor die Bloukransrivier te kom. Vanaand se rus is uiteraard ’n kort slapie, siende dat ons op die laatste teen 09:30 by die Bloukrans moet wees om laaggety te vang, moet ons al voor 04:00 Sondag-oggend voetvaardig wees.
Die Otter : 4 - Ons vat die tweede dag
Al swetend bereik ons laatoggend die pragtige Skilderkrans, waar ons so bietjie rus.







Deur die loop van die dag sien ons van die mooiste kuslyn in die land, pragtige rotsformasies, en laatmiddag, toe ons by die Scott hutte aankom, weereens ’n uitsonderlike Afrika sonsondergang.
Aandete vanaand is weer braaivleis, met pasta en kitskapokaartappels, en ’n groente-en-sop-en-speserye souspoging wat ek bou.



Vanaand sing ons nie, maar kuier lekker om die vuur. Genoeg Old Brown Sherry hou die koue ook weg, en werk ook met die spierpyne. Vandag het ek gevoel asof my rug af is, en my knie is ernstig besig om prioriteits-aandag te soek. Gelukkig was die knieskerm wat ek op laaste gedagte ook in my tas gegooi het, uiteindelik ’n bewese inspirasionele gedagte.
Vanaand het Carmenn ook iewers ’n swart-gebrande potjie en ’n verfblik-emmer gevind - vermoedelik ongemagtig - en gebruik daarvan gemaak om sommer water op die vuur te kook om ‘n warmwater-bad-poging te beredder. Hierdie blink gedagte is deur ’n paar van die stappers nagedoen ; die yskoue water in die bos-storte het nie veel aantrekking gehad vir sommige van ons nie.


Uiteindelik het almal maar ’n slaappoging gepleeg.
Die Otter : 3 - Die eerste dag
Ontbyt word aangepak, en hierdie is vir sekere voornemende stappers ’n laaste finale poging om die rugsakke nog ligter te maak. Ander lede van die groep besluit om eerder gebruik te maak van die geriewe van die restaurant op die terrein om ’n laaste “beskaafde” ontbyt te nuttig.

Nadat verdere amptelike formaliteite – met diensleweringfrustrasies – afgehandel is, het ons almal die uurlange DVD van die roete gaan kyk. Ek dink dis hier waar sekere van die werklikhede en realiteite wat vir ons wag, vir die eerste keer gevisualeer is. Die video het waarskynlik ook ’n prentjie van sekere moontlike uiterste omstandighede geskets, maar hoe sou ons ook nou dit kon weet of raai. Terwyl die video intens bestudeer is deur almal, het daar plek-plek stiltes neergedaal oor die groep. Party mense is bekommerd oor hoogtes, ander miskien meer oor hoe om deur riviere te kom ; terwyl die twyfel van Sondag-oggend se 03:00 opstaan en te begin loop om met laaggety by die Bloukransrivier te kom as ’n sekerheid gemanifesteer is in almal se gemoed.
Toe is dit tyd !

Na ’n paar fotos geneem is, word die eerste paar tree van die meer as 42 kilometer van die roete geneem. Nou loop die adrenalien sterk en almal is hoogs gemotiveerd en lus vir die ding. Die werklikheid van ’n poskaart-mooi dag met ’n blou hemel, sonskyn en nie ’n wolkie in sig nie, dra veel tot die atmosfeer by. Medestapper Dylan is nog steeds nie heeltemal gesond nie, maar met eie wil en deursettingsvermoë pak hy die uitdaging volstoom aan.

Spoedig is almal natgesweet, maar geniet die pragtige natuurskoon. Met die groen van die woude om ons, die blou van die Atlantiese Oseaan, en die gerusstellende klank van die brekende golwe teen die strandrotse, is hierdie ’n voorreg wat vir min mense beskore is.











Vroegmiddag, by ’n waterval en op die strand, gun ons onsself ’n blaaskans vir middag-ete. Hier word die buitelugtegnologie getoets, en die gasstofies slaag met vlieënde vaandels om water binne byna sekondes tot kookpunt te bring. Twee-minuut kitsnoedels, en koffie met ’n knerts Amarula het nog nooit so lekker gesmaak nie. Terwyl die meeste van die span ietwat met voete in die lug ontspan, voel die dapperes onder die dapperes hulleself genoë om die yskoue poel onder die waterval swemsgewys aan te durf.



Laatmiddag, en net betyds, kom ons by die eerste oorslaaphut aan. Daar word vinnig van die rugsakke ontslae geraak, en die omgewing verken. Op die strand is ’n waterpoel, en die jonger geslag (en nie heeltemal so jonk nie) besluit dis swemtyd. Weereens is die temperatuur van die water onbeskryfbaar, maar dit blyk nie tersake of ’n faktor te wees nie. Uiteindelik is die meeste van die span in die water, weliswaar een vir een, en in die meeste gevalle vinniger uit as in.
Daarna word groot vuur gemaak, en terwyl eetplanne aandag kry, word daar gesing dat die biesies bewe. Ons sing, uit volle bors, Afrikaans en Engels. Liedjies en songs soos “Al lê die berge nog so blou”, “Green Berets”, “Boesmanland”, “Blink Vosperd”, “Blouberg se Strand”, “Alibama”, “Amazing Grace”, “Die Dapper Muis”, “De la Rey”, “Die Mannetjie”, “From a Jack to a King”, “Ou Kraalliedjie”, “Loslappie”, “Song Sung Blue”, en vele meer is afgestof en gesing soos nog nooit tevore nie. Wel, sal waarskynlik ook nooit weer heeltemal op dieselfde manier voorgedra word nie ; en dis dalk ook goed so.


Weereens braaivleis en ander bykomstighede vir aandete – ’n ete waarop nie verbeter kan word nie, ’n lekker lang kuier langs die vuur, en die groep kom ter ruste vir ’n welverdiende nagrus.
Die Otter : 2 - Uiteindelik, op pad
Dis nou die Parys wat nie ’n Eiffel-toring het nie.
Nadat almal mekaar so ietwat onderlangs beloer het en ons gesien het dat hierdie span die potensiaal het om ’n SPAN te word, en mekaar se rugsakke getoets het en ons besef dat almal “oorgewig” is, trakteer die gasvrye Tacey en Wynn ons met heerlike tuisgemaakte groentesop. Uiteindelik is almal ietwat onwillig kamers toe om ’n paar uur rus in te kry voor die groot trek Stormsrivier toe.
So net na 03:00 Woensdag-oggend is almal weer op en wakker, gesiggies gewas, blinkogies en hare gekam (die wat wel hare het om te kam), en opgewonde oor wat vir ons voorlê die volgende paar dae. Het ons maar geweet...
Die konvooi, bestaande uit drie voertuie en ’n sleepwa, met die elf opgewonde stappers, vat die pad so teen 04:00. Nog steeds pikdonker en bitter koud, maar binne in die motors is dit lekker warm en almal bespreek die Otter en gebruik die geleentheid om hulle medestapper-passasiers te leer ken.
Na ’n lekker Wimpy-ontbyt, ’n paar padstoppe, en ’n pasteie middag-ete so ent van Port Elizabeth af, arriveer ons uiteindelik laatmiddag by die pragtige Stormsrivier. Met die formaliteite afgehandel by die kantoor en die chalets se sleutels in hand, moet die finale uitpakkery en herpakkery van rugsakke aangepak word.
Een lid van die groep voel egter ietwat onlekker, en almal is bekommerd oor ons medestapper. Medisynes word uitgegrawe en rate word voorgestel, en later lyk dinge ietwat beter. Intussen word die braaivleisvuur gebou, maar die inhoudelike van die rugsakke bly nog steeds ’n prioriteit. Onder die dekmantel van vriendelikheid en vrygewigheid word lekkers, droë vrugte en nog meer van een bekommerde aan ’n ander ewe bekommerde geskenk ; dit alles in dringende pogings om die individuele rugsakke ligter te maak.
Onder die skoonheid en ‘n byna gewyde atmosfeer van die Oos-Kaapse sonsondergang en in aansig van die brekende golwe teen die strandrotse geniet ons aandete van braaivleis, broodrolletjies en groentepogings, raak ons stiller en kom uiteindelik tot ruste.
Almal met hulle eie gedagtes oor wat die volgende vyf dae vir ons inhou.Saturday, August 25, 2007
My eie keuse
“I have come to the frightening conclusion that I am the decisive element.
It is my personal approach that creates the climate.
It is my daily mood that makes the weather.
I possess tremendous power to make life miserable or joyous.
I can be a tool of torture or an instrument of inspiration, I can humiliate or humor, hurt or heal.
In all situations, it is my response that decides whether a crisis is escalated or de-escalated, and a person is humanized or de-humanized.
If we treat people as they are, we make them worse.
If we treat people as they ought to be, we help them become what they are capable of becoming."
- - - Goethe - - -
Thursday, August 02, 2007
'n Voordrag van Formaat !
Ek was by die algemene jaarvergadering van die Phyllis Robertson Tehuis vir Gestremdes in Pretoria. Soos dit maar gaan in jaarvergaderings soos hierdie, werk mens maar stelselmatig deur die agenda – die jaarverslag van die voorsitter, die finansiële state, die planne vir die komende jaar, bedankings, ensovoorts.
Maar toe gebeur dit – net voor bedankings. ’n Ouerige dame wat 'n inwoner van die tehuis is, wat op die oog af ernstig gestremd is, word voorgestel om ’n voordrag te doen. Die vroutjie is iemand wat mens nie sommer sal raaksien nie ; eintlik is dit mos maar “natuurlik” om verby “hulle” te kyk – net soos ons verby bedelaars, armlastiges en ander mense kyk wat swaarkry. Selfs toe sy sê wie sy is en wat sy gaan doen, neem mens maar eintlik nie notisie nie ; sy praat sag en half onduidelik.
Maar toe sy haar voordrag lewer, ondergaan hierdie vrou ’n gedaanteverwisseling. Sy praat met mag en met ’n stem wat goed sal geld op ’n verhoog deur enige professionele akteur. Sy lewer een of ander Engelse oratio met passie, en met ’n perfekte Shakespeariaanse aksent. Dit is asof die vrou skielik sewe voet groot word ! Ek twyfel of ek in staat sal wees om die voordrag sal kan memoriseer om dit so volledig voor te dra. Daarna lewer sy ’n tradisionele Afrikaanse voordrag – weereens foutloos en sonder om dit van iewers af te lees. Wat ’n kragtoer !
Ek was gefassineerd, en het maar net besef dat sy, die nietigste van alle mense volgens ons, dit slegs sal kan doen wanneer die Vader haar in Sy hand koester en die krag gee. En sy die geloof het om dit te doen.
Ek kan nie eintlik my gevoelens beskryf nie, maar ek het klein gevoel. En dankbaar dat ek weet dat niemand te klein is of te min werd is dat die Here Hom hom of haar nie as Sy kind aanvaar nie ; aan Sy bors te koester en vir elkeen van Sy skepsels te gee wat hom of haar so ongelooflik uniek en spesiaal maak. Hoe maklik vergeet ons dit nie.
Soos hierbo genoem, kan ek nie die ervaring en emosie in woorde stel nie. Maar ek was werklik bevoorreg om dit te kon sien en hoor.
Thursday, July 19, 2007
Die Otter : 1 - Beplanning en toerusting
Ek het 'n paar weke gelede vir my 'n stel baie duur stewels in Duitsland gekoop met die Otter in gedagte ; toegegee, dit was ’n ietwat irrasionele en miskien onverantwoordelike aankoop, maar dis so en gedoen. Vir 'n paar dae het ek maar my dagtoelaag geknyp dat die trane loop.
Intussen het ek ook nou al met verskeie mense wat die loop geloop het gesels en na hulle raad geluister, en ook in verskeie buitelewe-winkels met kundiges gesels. En dis duidelik ; die vervaardigers en die mark sien hulle slagoffers op ’n myl aankom ! Daar is weliswaar vir sekere produkte “goedkoper” alternatiewe, maar die uitgeslape verkopers wys baie gou die swakplekke en ontwerpfoute aan jou uit – baie oortuigend ook. En ek as koper luister gewillig, en sonder die nodige kennis en ondervinding voel ek byna soos ’n skaap wat ter slagting gelei word. Mens wil mos die staptog geniet, sonder om onnodig swaar te kry. Volgens die kundiges het jy definitief kouse nodig wat reukwerend is, en wat nie ’n naat oor of naby die tone het nie, want anders gaan dit jou in ’n ander bloedgroep in skaaf. Jy het “aktiewe” hemde nodig, en vinnig-droogword broeke. Selfs die broeke is blykbaar reukwerend (dit sal ons maar moet sien...)
Jy het kamaste nodig, anders gaan daardie een klippie in jou stewel inval wat jou al jou dae se probleme gaan gee, of die klitsgras en ander bosgoeters gaan in jou kouse kom en weereens pyn en lyding veroorsaak totdat die bloed loop. En dit wil mens tog nie !
Jy het ’n gasstofie nodig wat so klein opvou soos drie pakkies vuurhoutjies, en die ding werk op Kilimandjaro sonder probleme en kry die water en sop blitsvinnig warm ; sal waarskynlik op die maan ook werk. En jy het verseker waterdigte vuurhoutjies ook nodig ; ek het nie eers geweet jy kry sulke goed nie. Om te keer dat jy allerhande nare dinge oorkom met die berg- en rivierwater wat jy gaan drink het jy watersuiweringsdruppels nodig. Drie druppels per liter water en dis asof jy Schoonspruit drink - volgens hulle.
Dan kom die rugsak ! Mense, daar is tegnologie ingebou wat skrik vir niks ! Jy kan die ding stel op millimeters na en selfs die struktuur buig om jou unieke lyf, lengte, breedte, en postuur te pas. Die materiaal is afkomstig vanuit die ruimte ; of wel gebruik hulle dit in die ruimte. Die ritssluiters word nou wel nie gewaarborg om waterdig te wees nie, maar daarvoor is ook voorsiening gemaak met die ontwerp van die sak. Die ding het ’n ingeboude reenjas om die hele sak mee toe te maak wanneer dit reen. Jy het toegang na jou goed in die sak deur middel van vele openinge en ritssluiters. Lyk my mens moet ook universiteit toe gaan om te leer hoe om die ding te pak ! Feit is, die sak kos byna 'n huispaaiement !
Loopstokke is veral belangrik en nodig. Dit help glo om die druk van jou kniee te verlig, jou balans te hou, en moeilike plekke gemaklik aan te durf. Die loopstok moet ook die skokke kan hanteer en weghou van jou af, en dis tog so belangrik dat die stok van titanium gemaak is. Dan het jy ook ’n kopflits nodig om saans die dinge by die kampvuur uit te kyk, en jou hande los te maak vir ander dinge (watter ander dinge is ek nie heeltemal seker oor nie...) Ook hier speel ruimte-tegnologie ’n belangrike rol in die flits. Maar meneer, dis klein, baie lig, kan lig maak wat skrik vir niks, en die battery sal jou tot tussen 40 en 100 uur hou.
’n Gewone sonbril is ook nie aanvaarbaar nie. Jy het ’n spesiale een nodig wat byna tot jou ore toemaak. Anders gaan jy nie die wandel werklikwaar kan geniet nie. Dan ook ’n uiters liggewig reenjas, warm baadjie – ook hier is die materiaal op spesiale maniere geweef om sekere hittes en koues en toestande te weerstaan en is gelukkig vir jou ook genommer sodat jy weet watter graad van weersomstandighede jy kan aanpak. Jou gewone en gemaklik sweetpak is blykbaar heeltemal buite orde, volgens die kundiges.
Dan het jy het ook ’n oorlewingssak nodig – die sogenaamde “survival bag” - wat groot genoeg moet wees om jou rugsak en alle ander goed wat nie mag nat word nie, oor die riviere te kry – in die geval van die Otter, vir ten minste een rivier, die Bloukrans. Hier het ek ’n probleem – alles moet droog bly behalwe ekself !
Ook die waterbottels en kosmaaktoerusting is ’n besluitnemingssaak van formaat. Die keuses is legio – gemaak van verskillende materiale, groottes, en wat nog ! Dan het jy ’n pot en ’n pan en ’n ketel ook nodig ; ook hier kan jy kies uit liggewig titanium aan die een kant – hoogs aante bevole, of as alternatief die outydse “Hart” aliminium-potte wat blykbaar nie heeltemal reg en goed is nie. Veral nie vir jou nie, meneer !
Dan is daar nog ander aanbevelings soos toue, flitse, fakkels, fluitjies, “space blankets”, oprol-wasbakke (sowaar as vet !), spesiale noodhulpstelle, opvou-emmers (op my erewoord), tegnologies-gevorderde slaapsakke, grondseile, spesiale “beanies”, waterdigte klere, hemde wat asemhaal, lanterns en flikker weet wat nog !
My kredietkaart gaan binnekort in stilstuipe in !
Dan die spesiale kosgoed en verpakkings en dinge ; maar dis ’n ander storie vir ’n volgende keer.
Oorlewing is ook nie meer soos dit was toe ek in die Weermag was nie en met “browns”, “full kit”, ’n hout-en-yster draagbaar en ’n R1 geweer in die berge (koppies) in Suikerbosrand naby Heidelberg en ook in Oudtshoorn rondgewatsenaam was deur die korporaal en kaptein en ander ewe nare trawante nie ; met ’n bottel OBS in die gatsak !
En o ja, met wat ek hier ter plaatse gesien het, was daardie Duitse stewels uiteindelik toe nie heeltemal so duur gewees nie...
Ek vertel later verder...
Daar's Lewe !
Daar is weer lewe hier langs hierdie gat. En dis lekker om terug te wees.
Dis nou net meer as sewe maande vandat ek weer terug in Suid-Afrika is, maar weliswaar was die laaste sewe maande 'n uiterste gejaag - my eintlik min kans gegee om regtig gevestig te raak en myself weer in my familie te integreer. Hulle - Annatjie en die seuns - verdien eintlik 'n medalje, maar hou dit maar stil en vir julleself ; netnou verwag hulle dit regtig. Ek het ook die laaste twaalf weke wesentlik gependel tussen Pretoria en Kaapstad, en Pretoria en Duitsland. Hopelik sal dinge nou bietjie rustiger raak en stabiliseer.
Maar ek wil graag die Kuiergat weer lewendig kry, en daarvoor het ek ook julle hulp nodig. Lewer asseblief bydraes, en flitspos my. Kom ons kyk saam hoe die Kuiergat gaan ontwikkel en lyk gedurende die volgende maande.
Ek hoor graag van julle !
Sunday, December 03, 2006
Om te weet
Monday, November 27, 2006
Gemors met 'n trekkery
Net ter agtergrond. My kontrak hier in Duitsland verstryk die einde Desember, en ek gaan dus terug huis (Suid-Afrika) toe. Die groot trek gebeur so teen die middel van Desember.
Terug in die woonstel. Ek ontdek goed waaroor ek Annatjie al 'n keer of wat mee gekonfronteer het (ek het darem in stilte in my binneste vir haar om verskoning gevra dat ek haar 'beskuldig' het). Ek kry buskaartjies, treinkaartjies, vliegtuigkaartjies, bootkaartjies, kwitansies en strokies, eBay-koeverte, boksies, brosjures, en wie weet wat nog. 'n Stapel leë CD-kassies wat my seun meer as 'n jaar gelede hier gelos het (hy het ook te veel goed gehad om terug SA toe te neem, en hy los toe onder andere die meeste van sy klere en hierdie CD-kassies by my). In een kas 'ontdek' ek 'n swetterjoel leë bottels - Mrs. Ball's, slaaisous, koffie, beetslaai, en nog vele meer. Elke bottel is baie mooi skoon gewas en gebêre - vir watter rede kan ek nie sê nie, behalwe dat ek altyd dink mens kan so 'n bottel weer gebruik.
Daar vind ek ook twee jaar se deodorant-proppies in 'n mooi sakkie - by die huis het ek dit atyd gebruik as ek iets geverf het, om bietjie verdunner in die proppie te gooi om die kwassie mee skoon te maak - dit werk soos 'n bom ! Die proppies was darem ook handig gedurende die tyd toe my Suid-Afrikaanse kollega hier was - wanneer hulle by my kom kuier het, was die proppies lekker speelgoed vir die baba. Gewoonlik het dit my 'n week of twee geneem om weer al die proppies bymekaar te kry van waar dit onder die meubels gelê het.
Nou is die besluitnemingsproses om te kies tussen wat moet bly en wat word weggegooi ook nog moeilik. Ek vat 'n kaartjie, dan onthou ek dit was 'n treinkaartjie in Praag, en ek wonder of ek dit nie maar moet hou nie. Dis mos herinneringe... Dan sit ek dit in 'n ander laai. Netnou vat ek daardie laai, en besluit dan - ag nee wat, gooi maar die simpel kaartjie weg ; ek het mos fotos. En dan lag ek bietjie vir my self.
Ek het darem die bottels almal (sonder uitsondering) in 'n sak gegooi, en sal per geleentheid hierdie week dit in die regte herwinningsdrom gaan gooi. Ek het darem geen emosionele band met enige van die bottels gevoel nie...
Die ander groot uitdaging is nog in die kombuis. Daar is hordes oop pakkies en botteltjies en houers van allerhande dinge. Omtrent ses verskillende soorte mostert oop in die yskas. Ek tel gisteraand vyf oop bottels konfyt - twee van dieselfde soort, elkeen half vol. Vier oop pakke pasta van verskillende soorte. Drie bottels oop tamatiesous ; en nog twee nuwes. En 'n kakefonie van verskillende oop pakkies speserye. 'n Groot houer met Suid-Afrikaanse grondboontjiebotter - oop en halfgebruik.
Verder moet ek nog die kombuiskaste ook aanvat. Ek het mos die gewoonte om elke margarienbakkie, roomysbak, slaaibak, en dies meer, te wil hou. Elke soortgelyke bak is mooi skoon gewas en amper-netjies in die kas - miskien het ek dit mos een of ander tyd nodig vir iets... Daar is ook 'n groot opruimingsaksie nodig.
Dan praat ek nog nie eers van die skroefies en stukkies draad en dingetjies wat op een of ander manier hulle weg op een ander obskure manier gevind het na 'daardie laai' toe nie.
Friday, September 08, 2006
Juwele op die SAFA webwerf
Behalwe dat een van die Vise-Presidente (meneer Mwelo Nonkonyana) die 26ste Januarie 2006 gebore is, en hy al 'n lid van SAFA is vanaf 2005, is geen verdere inligting oor hom bekend nie.
'n Ander Vise-President, meneer Irvin Khoza, is die 27ste Januarie 1997 gebore, en hy is 'n lid van SAFA vanaf 1997. Ook oor hom is geen verdere inligting bekend nie.
'n Lid van die Nasionale Uitvoerende Vergadering, meneer Vernon Seymour, se geboortedatum is die 1ste Oktober 2001. Hy is ook lid van die Uitvoerende Komitee vanaf 2001. Daar word darem belowe dat verdere inligting oor hom binnekort op die webblad sal verskyn.
Nog 'n lid van die Nasionale Uitvoerende Vergadering, meneer Mato Madlala, se geboortedatum is toevallig ook die 1ste Oktober 2001. Ook hy is lid van die Uitvoerende Komitee vanaf 2001. Daar word ook belowe dat verdere inligting oor hom binnekort op die webblad sal verskyn.
Meneer Danny Jordaan is volgens die webwerf op die 15de Mei 2005 gebore, en hy is ook lid van die Uitvoerende Komitee vanaf 2005. Geen verdere inligting is bekend nie.
Die here Eddie du Plooy, Jan Koopman, Kenneth Lebenya, Nakedi Lekota, Mandla Mazibuko, Alpha Mchunu, Motebang Mosese, Sam Msimango, Sturu Pasiya en Sam Maitenyane is almal op die 26ste Januarie 2006 gebore. Hulle is ook almal lede van die Uitvoerende Komitee van voor hulle geboortes af - vanaf 2005. Verdere inligting vir die webwerf is 'onder konstruksie'.
Dit wil voorkom asof meneer Obakeng Molatedi een van die ouer lede van die Uitvoerende Komitee is. Hy is darem al op die 11de Augustus 1956 gebore. Ook so vir meneer David Nhlabati, wat op die 26ste Oktober 1947 gebore is. Ene Anastasia Tshichlas is ook 'n ouer lid, gebore op die 18de Junie 1964, Kirsten Nematandani op die 27ste Mei 1958, en Simon Sebapu op die 5de Junie 1943.
So daar is gelukkig 'n paar lede wat die baie jong lede op die komitee touwys kan maak.
Die President van SAFA belowe darem ook die volgende ten opsigte van die webwerf :
"Our site promises to be reverting, interesting and informative. We are at full speed in the information highway."Sal iemand net asseblief aan my verduidelik wat beteken 'n "reverting site" ?
Daar is ook 'n paar interessante navigasie-uitdagings op die werf.
Gaan loer gerus by "Guidelines" en volg die skakel ""mn" ; ek het geen idee wat dit (en "bnmnb") beteken nie.
Die "Player's Code of Conduct" bied ook nogal interessante leesstof.
As mens SAFA wil kontak, bied die vonkpos-adres onder "Contact" ook ietwat van 'n uitdaging ; muisdruk daar die opsie "(test test)" en sien wat gebeur . . .
Ag ja, daar is sekerlik nog heelwat juweeltjies op die werf, maar dit het my nou begin verveel.
Net 'n laaste gedagte - Die hele wêreld, en FIFA, behoort tog sekerlik belang te stel in wat op hierdie werf aangaan, gedagtig aan 2010 ? Behoort daar nie bietjie meer aandag aan die detail gegee te word nie ?
Thursday, September 07, 2006
Die Wiel
Ek het onlangs die geleentheid gehad om die nuwe en unieke Mercedes-Benz museum in Stuttgart te besoek. Dit is 'n absolute moet-doen vir enigiemand wat ooit die geleentheid mag hê. Een van my belangstellings-fokus-punte tydens hierdie besoek was die wiel, en ek deel graag 'n paar fotos hier. Daar is uiteraard vele meer voertuie wat ek nie hier kan plaas nie. Vir verdere inligting oor die individuele voertuie daar op uitstalling moet die museum besoek word.













'n Goeie bron vir verdere inligting oor die wiel is hier beskikbaar.
Muisdruk hier vir meer inligting oor die fantastiese Mercedes-Benz museum in Untertürkheim, Stuttgart (Duitsland).
Tuesday, August 29, 2006
Dood - Carpe Diem !
Vanaand het ek kom stilte soek in my woonstel. Maar juis vanaand het my familie my nodig by die huis, en ek het hulle nabyheid ook nodig. Gelukkig weet ons Hemelse Vader dit ook, en weet dat Hy die nodige genade en aanvaarding ook sal gee.
Sy dood het my ook onwillekeurig vir 'n paar minute ; of weliswaar 'n uur of twee, tot stilstand laat kom. Ek dink oor die woorde van Laurika Rauch se liedjie, en hoe waar dit regtig is. Soms luister 'n mens sonder om te hoor, en soms hoor jy sonder dat die liedjie speel.
Maar as iemand wat op my gegroei het
Ek besef ook dat mens in die lewe, lewendig dood ook kan wees ; en soms is dit uit eie keuse. Dit is egter 'n keuse wat God juis nie vir ons wil hê nie. Dorothee Sölle het die volgende gesê :
Anton, jy het gelewe ! Rus in vrede, my vriend !"Daar is 'n soort dood wat intree wanneer ons ander nie sien as 'n gawe van God, 'n seëning, 'n stimulus tot 'n beter lewe nie, maar as 'n bedreiging, 'n kompetisie, 'n gevaar vir ons eie welsyn. Dit is die dood wat oor almal kom wat van brood alleen probeer lewe.
Daarom waarsku die Bybel ons teen dié dood.
Hier verwys "dood" natuurlik nie na ons vertrek uit hierdie wêreld nie, maar na 'n doellose verblyf hier, 'n bestaan sonder sinvolle verhoudings met ons naaste, en daarom 'n lewe van angs, stilte en eensaamheid - werklik niks anders nie as 'n vorm van dood".
Monday, August 28, 2006
Eenvoudige uiesop, koring & biltong
Daar is in elk geval niks spesiaals aan uiesop nie. Terwyl die kookproses aan die gang is, en ek die pot roer soos voorgeskryf op die pakkie, bekyk ek die inhoudelike, en die bruinerigheid met verdwaalde uierafels lyk so hartseer, verleë en trietsig, dat ek die nie oor my hart kan kry om dit net so miserabel te los nie. Toe onthou ek van die oorskiet-koring van gister se maaltyd, en dit dinkklink so reg. 'n Paar eetlepels ingeroer, en die uie lyk al klaar sommer heelwat beter en gelukkiger. Toe onthou ek regulasie 47.5(a) subseksie 13 reël 8 (Beplanning van etes en die konstruksie van voedsel) : "Mens moet ten minste een maal per dag vleis eet ; verkieslik meer."
’n Vlugtige ondersoek in die yskas bevestig my tragiese vermoede dat daar ’n kritieke tekort aan hierdie basiese voedselsoort bestaan, met die uitsondering van ’n pak biltong. Nou ja, as die kalf dan in die put is . . .
Terwyl die kalf in die put prut in die pot, varsbak ek gou 'n paar broodrolletjies.
Ek het baie lanklaas so lekker ge-eet aan iets so simpels soos uiesop en vars broodrolletjies.
Friday, August 25, 2006
Vark, kerrie en veselperskes
Ek ontdek toe 'n pakkie varkneksteaks in die vrieskas, en besluit toe as ek nou vegetaries moet eet vanaand, dan is dit maar so.
Eerstens moet hierdie groente ontdooi word, en vervolgens bou ek reseploos aan die ete.
Ek deel graag hierdie poging -
1. Plaas die braaipan op hoë hitte op die plaat en gooi 'n klomp vars lemoensap daarin.
2. Plaas die stukkies versigtig en netjies in die pan (dis nou om nie te spat nie)
3. Bestrooi met bietjie speserye en knoffelvlokkies terwyl die storie pruttend gesels
4. Spuit 'n skeut Würz (dis nou amper dieselfde as Worcestersous) oor die stukkies
5. Gooi warm kerriepoeier oor die stukkies (belangrik - draai stukkies om en gooi op beide kante)
6. Nou vir die geheim en sukses van die gereg - gooi 'n klompie stukke gedroogde veselperske (mangos) saam met die stukkies. Dit gee ongelooflike geur.
Uiteindelik moet ek eerlik sê, dit was besonder lekker - nogal warm maar baie geurig.
Hier is twee fotos ; eerstens terwyl die ete in konstruksie was, en dan die finale produk.


Net ter verduideliking.
Vleis is beesvleis, wildsvleis, en skaapvleis.
Groente is aartappels, patats, pampoen, vark, en so aan.
Slaai is tamatie, beet, wortels, sampioene, hoender, en so aan.
Dan kry mens nog vis ook, wat onder andere goed soos krokodil en haai insluit.
Tuesday, August 22, 2006
Weißwurst, Brezen en Bier - ontbyt in Bavaria
Die Münchense Weißwurst (wit wors) is 'n tipiese tradisionele Bavariese lekkerny. Die wors is heel per ongeluk uitgevind deur 'n jong slagter genaamd Sepp Moser in 1857.
Hy het op "Fasching" Sondag, die 22ste Februarie 1857, in die kombuis van die restaurant "Zum ewigen Licht" langs sy slaghuis gewerk. Ongelukkig het hy die laaste van die dikker derms wat hy gebruik om die gewone wors te maak, opgebruik, en die gaste in die restaurant het gewag vir hulle ete en luidkeels en beswaard hulle ongelukkigheid te kenne gegee.
Om die probleem toe op te los het hy die enigste ander derms wat hy byderhand gehad het, gebruik om die wors mee te stop. Hierdie derms was egter baie dun, en hy was bekommerd dat dit sou bars as hy die wors sou braai. Hy het toe die wors vir tien minute lank in kokende water geplaas om dit gaar te kry.
Toe hy die "Weißwurst" aan die gaste opdis, was daar wel kommentaar, maar nadat hulle die nuwe wit wors geproe het, het die gaste, in plaas van kritiek en ongelukkigheid, hom oorlaai met lofprysinge en gelukwense. Die Münchense beroemde "Weißwurst" is toe gebore.
Die oorspronklike resep en bestanddele, wat tot vandag toe nog gevolg word, bestaan uit maer kalfsvleis, spek, kruie en speserye, die varsheid van 'n suurlemoen, en vars pietersielie.
"Weißwurst" word vars bedien in baie warm water, en behoort volgens tradisie reg ge-eet te word. Die beste manier om die vel te verwyder is om die die worsie in die lengte ligweg te sny - net deur die velletjie, dan die vleis met die vurk binne vas te hou, en dan die vel met die mes af te trek. Die vel word weggegooi en nie ge-eet nie. Die wors word dan met "Brezen" of broodrolletjies en soet tuisgemaakte mosterd saam met bier ge-eet.
'n Brezel is algemeen in Duitsland, veral in die Suidelike streke. Die deeg word in 'n knoopvorm gebak en besprinkel met soutkristalle. Daar is wel verskeie soorte en groottes Brezel beskikbaar.
'n Ander interessante tradisie is dat "Weißwurst" slegs in die oggend (voor middag-ete) ge-eet word. Die gebruik dateer klaarblyklik uit die dae toe daar nog nie yskaste geredelik beskikbaar was nie, en hierdie wors vinnig sleg sou word. Selfs vandag nog is dit ongehoord dat "Weißwurst" later in die dag voorgesit word.
Monday, August 21, 2006
Kerrie-kaskenades

Met tuiskoms vanmiddag, het ek geen idee gehad wat (en of iets) vanaand in die kombuis gaan gebeur nie. Ek het so vinnig na werk gou die supermark besoek om die leë kaste in die kombuis bietjie aan te vul, maar ek het niks spesifiek vir vanaand beplan nie.
Later tuis, en toe die hongerpyne begin knaag, bekruip ek die yskas, onseker oor watter ontvangs ek sal kry. Uit die koue-wit-kliniese dieptes staar 'n sakkie aartappels my in die gesig. Gewoonlik is mikro-golf aartappels (in water, neem kennis) met kaas en 'n sousie 'n maklike en lui alternatief vir 'n vinnige en vullende ete, maar een of ander kullinêre kunstenaar (of nar) neem toe oor toe ek die aartappels begin skil. Aartappels wat al 'n week of twee of dalk veel meer (!) in die yskas lê lyk nie meer soos 'n pasgebore baba se wangetjies nie . . .
'n Lang storie . . . maar uiteindelik eet ek toe vanaand 'n aartappel-spek-kerrie poging wat my heel trots op my kombuis-innovasie laat voel.
Vir die rekord . . .
Die oorspronklike idee : Om 'n paar aartappels wat ek ontdek agter in die yskas gaar te maak in die mikrogolf-oond, met gesmelte kaas en so iets van 'n sousie daaroor.
Die realiteit : 'n Pot kerrie wat genoeg is om ses mense of twee tienerseuns te voed, met genoeg wat sal oorbly vir more se middag-ete by die werk, en dalk meer. . .
Die ammunisie :
'n Klomp aartappels, geskil en opgesny in stukkies
Bietjie sonneblom-olie om die pot bly te maak
'n Knerts sout en peper
2 x 500 ml bier
'n Klomp swart peper korrels
'n Handvol müsli
Twee stukke gerookte spek-ham, in blokkies gesny
Een eetlepel grondboontjiebotter
Twee eetlepels appelkooskonfyt
Drie eetlepels appelmoes
Twee eetlepels "Extra Hot Rajah" kerriepoeier (drie is beter)
'n Pakkie broccoli soppoeier (want ek het nie vars uie of uiesop-poeier nie)
Genoeg gemaalde knoffelvlokkies
'n Lekker spuit vars suurlemoensap
'n Blikkie sampioene
Genoeg Bandido's Habanero sous (gelukkig kan mens later nog op die kos gooi...)
So 'n mespunt Marmite
'n Skud of twee Würze (amper dieselfde as Worcestersous) - daardie swart poging
Bietjie klapper om later oor die dis te gooi
So maak mens :
1. Laat die olie stotterend kla in die pot op 'n warm plaat.
2. Gooi die aartappels, die sout en peper in, en roer goed.
3. Gooi dan 'n klomp bier in die pot om die gespuis stil te kry.
4. Sodra hulle weer begin raas in pot, gooi nog bier by.
5. Draai die plaat bietjie sagter, en gooi die swartpeper-korrels in. Roer goed.
6. Voeg die müsli by en roer goed in.
7. Gooi nog bier in.
8. Los dit vir 'n rukkie tot prut-prut. Maak seker dat dit nie brand nie ; roer indien nodig.
9. Werk die spek-ham blokkies goed in en roer sodat die vleis lekker bevriend raak met die goed in die pot.
10. Meng nou die grondboontjiebotter in.
11. Wanneer die pot lyk asof hy tevrede is, gooi die appelkooskonfyt en appelmoes in, en roer goed deur.
12. Nou word die kerriepoeier bygewerk.
13. Gooi die broccoli soppoeier in, saam met die bier wat oorgebly het, en roer dit alles netjies in.
14. Uiteindelik gooi jy die knoffelsaagsels in. Roer goed.
15. Voeg nou 'n lekker spuit vars suurlemoensap by.
16. Werk die sampioene in die pot in, saam met die watersous in die blik (mens gooi dit nie weg nie).
17. Die rissiesous - na keuse - genoeg of meer is die keuses.
18. Roer die Marmite goed in die pruttende pot.
19. Gooi nou maar die Würze ook in ; net 'n bietjie is nodig.
20. Sodra die aartappels sag is, is die kos reg. As die aartappels nie sag word nie, het jy te min kerrie ingegooi.
21. Dien op saam met 'n Blanc de Blancs (of nog beter, Merlot of Pinotage).
Met aandag
Dit is wat ek deesdae so baie dink as ek sien met hoeveel minagting mense oor die algemeen omgaan met die regte manier.
Van spel, bedoel ek nou. Ek wonder of mense nie meer kan spel nie. Of nie wil spel nie. Of is dit pure slapwatsenaamgeid.
Die onding-kultuur het nuwe hoogtes bereik met SMS. En van toe is dit net afdraande pad. Soveel so dat selfs SMS-woorde deesdae in die gerekende "OXFORD Dictionary" opgeneem is.
Maar die saak gaan heelwat verder as net in SMS-gebruik. Mens kan wel dalk die beginsel verstaan tov SMS'e, of ten minste 'n mate van begrip hê daarvoor, omdat daar in die begin heelwat beperkings was op die lengte van boodskappe, en verder is dit relatief moeilik om lang boodskappe in te sleutel met die meeste van die sakfone in algemene gebruik. My kwelpunt is egter dat selfs met ander maniere van geskrewe en elektroniese kommunikasiemedia, soos koerante, tydskrifte, elektroniese vonkpos, en woernale, hierdie slordigheid ingeburger geraak het.
Is mense nie meer trots op hulle interaksie met die wêreld nie ? Dit wat mens sê, en hoe dit gesê word, en of dit reg gesê word, is tog 'n persoonlike getuigskrif van wie en wat jy is. As iemand slordig met 'n taal omgaan, is dit 'n manifestasie van 'n slordige persoon ? Veral mens se moedertaal, wat behalwe dat dit die belangrikste kommunikasie-medium is wat ek het, dit ook een van die mees persoonlike dinge is wat my met my kultuur en menswees verbind.
Wat nog slegter is, is as iemand nie die respek vir iemand se naam het nie. Jou naam is tog een van die mees persoonlike dinge wat mens het ; wat 'n kernaspek en deel van jou volle menswees en identiteit is. Stephan is Stephan, hy is nie Stefan of Steven of Stephen nie. Verskillende tale spel wel dieselfde bronnaam anders, maar as jou eie kulture amptelike geregistreerde doopnaam Stephan is, behoort dit sodanig in alle tale as sulks gerespekteer word. En sodanig gespel word. Mari is Mari, en nie Marie nie. Tommie is Tommie, en nie Tommy nie.
En die gebruik van Engelse woorde in Afrikaanse gesprekke is natuurlik 'n ander saak waaroor ek lekker warm onder die kraag kan raak. Hierdie mishandeling van beide tale is so erg dat ek al begin dink het dat party mense 'n ander taal praat ; iets soos Engafri, of dalk Afeng. Sou die gebruiker dalk 'n Afengel genoem kan word ? Hier is 'n voorbeeld van iets wat ek onlangs raaklees.
"Hy’s ‘n ougat klong met serious talent. Nie ‘n muurpapier-musikant nie. Nie ‘n kombuistee-versieskrywer nie. Hy’s cutting edge en honger om suksesvol te wees. Nuwe bloed. Nuwe angle. Inventive. Nie ‘n copycat nie."Of is die boodskap belangriker as die voertuig ?
Sunday, August 20, 2006
Afrikaans is vol 'bitter'
Vanmiddag (Sondag 20.08.2006) sit ek en lees, en die gebruik van een woord laat my gedagtes sommer op afdraai-paaie loop.
In die gelese teks word verwys na 'bitter graag', en ek wonder oor en bewonder hierdie mooie taal van ons.
In werklikheid verteenwoordig 'bitter' tog nie iets lekkers, of soets, of aangenaams nie. Maar nou word die uitgesproke positiewe wens van die persoon beklemtoon deur die nare woord 'bitter'. Dit is juis die teenstrydigheid in die begrippe wat dit vir die leser duidelik maak hoe graag die persoon die gebeurlikheid begeer.
Maar dit word tog nie altyd gebruik om 'n teenstrydige konsep te beklemtoon nie. Dink aan die volgende, en daar is baie meer . . .
- Bitter lekker (en bitter sleg)
- Bitter mooi (en bitter lelik)
- Bitter soet (interessante een ; kyk nou net hoe verander dit as mens sê 'bittersoet' . . .)
- Bitter goed
- Bitter duur (maar 'bitter goedkoop' word waarskynlik min gebruik . . .)
- Bitter pil (hier word dit in die werklike betekenis aangewend)
- Bitter eensaam
- Bitter bly (en bitter kwaad, en bitter hartseer . . .)
- Bitter lank (en bitter kort)
- Bitter ver (om te gaan kuier) - en bitter naby
Soms word die woord ietwat vervorm deur 'bitterlik' te gebruik, soos in 'bitterlik koud', en meer.
En almal weet wat jy bedoel in elke geval.
Ek weet nie of dit so mooi en reg klink in enige ander taal as Afrikaans nie. Of hoe ?
Tuesday, August 15, 2006
'n Bang passasier op vlug SA 261
Maar, ek is terug en beplan om sommer heelwat nuwe inskrywings te maak hier by die Kuiergat. As jy dalk per ongeluk hier inval, wil ek jou graag uitnooi om gesellig saam te kuier en ook jou storie te vertel.
Met hierdie skrywe wil ek graag 'n ware gebeurtenis, circa Julie 2006, met julle deel.
Toe die man hier langs my kom sit, het my instink my vertel dat ons hier met 'n bang passasier te doen het. Mens weet mos net sulke dinge. Later, toe die ou sy skoene uittrek (die skoene was diksool swart sportskoene met rooi strepe en 'n swart ster en 'n geel son, met groen en blou skoenveters), toe raak dit duidelik hoe bang die passasier is. Ongelukkig het hy sy skoene al voor ete uitgetrek.
'n Ander afleiding wat mens kon maak uit beskikbare omstandigheidsgetuienis, was dat mense wat bang is om te vlieg, heelwat knoffel eet voordat hulle vlieg ; waarskynlik vir medisinale doeleindes om die vliegbangheid te besweer. Duidelik was hierdie passasier baie bang, omdat hy vooraf baie knoffel ge-eet het. Hierdie twee faktore het uniek saamgewerk met die afwesigheid van lugreëling in die vliegtuig om 'n spesiale, warm, persoonlike, en intieme atmosfeer in die kajuit te skep.
Ek vermoed ook dat die passasier verlangs familie van 'n perd moet wees. Nou almal weet wat gebeur wanneer 'n perd skrik ; ek dink dieselfde gebeur as 'n perd bang is. In mediese kringe word eufimistiese terminologie gebruik vir hierdie gebeurlikheid. My mediese kennis is egter nie baie goed nie, so ek mag die terminologie ietwat verkeerdelik aanwend, maar vir die doel van hierdie skrywe dink ek dit sal nie soveel saak maak nie. Wanneer 'n perd skrik, word daar gewoonlik 'n flatus gepasseer. Dit gaan gepaard met flatulensie. Nou ja, soos voorheen genoem, het hierdie passasier sekere ooreenkomste met perd se kind. Die uiteinde was dat hierdie passasier vir die grootste deel van die vlug van byna tien ure vanaf Frankfurt na Johannesburg met hierdie gedrag homself heel goed laat geld het, weliswaar heel diskreet en onhoorbaar. Maar met enige verdere inhoudelike karakteristieke van die passasie-ladings was daar niks mee verkeerd nie. Ek sou wel so ver gaan om hierdie passasier se manifestering daarvan as 'n meester in die klas sou plaas. In die opsig het my neus en reuksin my geensins in die steek gelaat nie.
Ek voel jammer vir mense wat bang is om te vlieg. Ek dink dit moet nogal erge stres wees.
Maar ek sou verkies om nie langs sulke mense te sit op 'n interkontinentale vlug van meer as tien ure nie. Dan kry ek myself meer jammer as wat ek hulle jammer kry. Baie, baie meer . . .
Tuesday, June 06, 2006
Uiesop - met 'n verskil !
’n Resep in my boeke is in elk geval net ’n breë riglyn, op die beste van tye. Die waarheid is egter dat ek resepte nie vertrou nie, en ek altyd meer bygooi.
Dit bring my by verlede Sondag-aand se ete, waar ek heel per ongeluk nog 'n johann-poging uitge-innoveer het. Die proses begin met 'n pakkie uiesop (die egte Duitse produk met regte gedroogde uie daarin). Die mengsel saam met die nodige hoeveelheid water lyk toe maar erg miserabel en eensaam in die pot, en ek gooi die beste gedeelte van ’n pak penne rigate pasta by om dit meer blymoedig te laat lyk. Nou begin ek spoed vang, en ondersoek die kruideniersware-kaste vir verdere bykomstighede tot die eetskepping. Uiteraard is kerrie-poeier ’n ou staatmaker en altyd ’n wenner by my, en genoeg van die bekende Suid-Afrikaanse Rajah-poeier word bygevoeg. My oog vang die ander houertjies in die kas, en in my opinie kort daar knoffel-poeier. Nou vir ’n vinnige loer in die yskas, en ’n goeie skeut mosterd, saam met bietjie tamatie-pasta bring bietjie kleur aan die dis-in-wording. Die einde is in sig, maar mens behoort nooit sku te wees vir gemaalde rissies nie, en daarby word sommer 'n goeie gooi onbekende gemengde speserye bygewerk. Die hele gedoente is teen die stadium al lekker prut-pruttend rustend-gemaklik in die pot, en op sig af lyk dit en ruik dit toe al heel lekker.
Omdat mens nooit kos mag maak sonder 'n vleiserige ietsie nie, sny ek nou 'n goeie stuk gerookte varkvleis (amper iets soos spek, maar heelwat dikker) in blokkies, en werk dit toe in. Die finale deelnemer aan die pot word toe ’n paar eetlepels regte-egte PakCo atjar wat ek onlangs by die Suid-Afrikaanse winkel in Nederland gekoop het. Toe los ek die pot om verder pruttend geleerd te raak, en varsbak toe 'n paar broodrolletjies.
Die uiteindelike resultaat was nie ’n sop nie. Wat dit was, sal geen mens weet nie, maar ek kan alle belangstellendes en twyfelaars met absolute oortuiging verseker dat hierdie ge-inspireerde speserye-prutpot saam met varsgebakte broodrolletjies heel lekker en vullend was. Om die waarheid te sê, ek het besonder lekker ge-eet.
En gelukkig was daar genoeg oor vir gister-middag se ete ook.
Nou wonder ek wat gaan vanaand gebeur...
Ek hardloop saam met 62,390 atlete
Die persoonlike logistiek ten opsigte van deelname maak nie heeltemal sin nie. Om betyds in Frankfurt te wees, moes ek ongeveer 15:00 die A8 autobahn van Stuttgart na Frankfurt aanpak ; die afstand so 206 kilometer. Om parkering te verseker, het ek my voertuig by ons kantore in Frankfurt Niederlassung parkeer, en toe per S-Bahn trein stad toe gery. 'n Rit van 15 minute. Vanaf die Hauptbahnhof nog so 15 minute se vinnige loop na die middestad-kantoor om my wedloopnommer te kry, sweetpak daar te los, en weer die 15 minute terug te loop na die beginpunt van die wedloop. Dit alles om deel te neem aan 'n wedloop oor 'n afstand van 5,6 kilometers, wat as alles goed gaan, waarskynlik oor sal wees binne dertig of veertig minute.
Dit is 19:30 ; die son skyn, en 'n massa aspirant-wedlopers is gereed om die afstand van 5,6 kilometer deur die moderne middestad van Frankfurt aan te pak. Die 62,390 ingeskrewe wedlopers spring weg vanaf twee punte, en eindig almal by een punt na die wedloop. Mens kan jouself nie indink hoeveel mense dit is nie. Dit is meer as die helfte meer mense wat deelneem aan hierdie wedloop as 40,000 Blou Bul ondersteuners op Loftus se pawiljoene in Pretoria. En langs die strate is massas ondersteuners en vele ander mense wat hierdie sirkus ge-interesseerd gadeslaan. Selfs met die gebruik van twee wegspringpunte beteken dit dat die wedlopers aan die agterkant meer as 'n uur nadat die wedloop begin het by die beginpunt verbybeweeg.
Volgens inligting van die organiseerders is meer as 70,000 piesangs gedurende die wedloop ge-eet (maak sin, want ek dink mens moet effens bobbejaan wees om hierdie ding te doen), en 'n geweldige hoeveelheid water is gedrink. Ek vermoed egter dat baie meer bier na die wedloop gedrink is.
En ek is heel trots op myself hierdie jaar. Verlede jaar (2005) het ek onder redelike druk saam met Johann jnr en ander kollegas, en heelwat fikser as wat ek nou is, die wedloop in nege-en-dertig minute voltooi. Hierdie jaar, met geen druk en met niemand wat saam met my gehardloop het nie, het ek dit in vier-en-dertig minute voltooi. Toegegee, ek was gelukkig om heelwat verder voor te kon begin, en ek was nie so vasgedruk in die agterste bondels nie, met heelwat meer spasie rondom en voor my om te kon beweeg. Dit is egter ook waar dat die laaste keer wat ek enigsins gehardloop het, die eerste Junie verlede jaar tydens die wedloop was ; behalwe die kere daarna wat ek in lughawens rondgehardloop het om te probeer verhoed dat ek 'n vlug mis...
Die wedloop word hierdie jaar in twaalf wereldstede aangebied, onder andere ook in Johannesburg. Uiteindelik word 'n kampioenskapswedloop op die 7de Oktober 2006 in Park Avenue, New York, aangebied waar wenners in verskeie kategorieë aanwys sal word.
Gaan kyk gerus hier na heelwat meer inligting oor die pas afgelope JP Morgan Chase Corporate Challenge in Frankfurt, Duitsland.
Friday, May 19, 2006
Texas Chilli Boontjies
Net ter verduideliking - die Texas pfanne is 'n mengsel van verskillende soorte boontjies in 'n matigwarme chilli sous. Stereotipe Amerikaanse cowboy-kos. Beskikbaar in Duitsland (ek het nog nooit 'n cowboy in Duitsland gesien nie).
Ek vat toe die Amerikaanse om-te-rooster brood en begin om 'n paar stukkies te rooster. Uiteindelik klaar, soek ek die margarien, met die wete dat daar nog baie is, want ek het mos gesien daar is heelwat houers in die yskas.
Groot fout om sulke onverantwoordelike aannames te maak!
Die eerste bakkie wat ek toe oopmaak, bied aan my gekookte rys. Wel, om dit 'gekookte' te noem, beteken ek gaan effe wydsbeen met die waarheid om. Een of ander tyd was dit wel gekook, en dit is nog steeds pragtig wit, maar so hard en droog soos woestynklippies. Dit lyk toe na die regte ding om dit sommer saam met die Texas chilli-boontjie-poging in die bak te gooi en met mikrogolf-krag aan te val. Dit maak toe die boontjie-ding warmer (wel, as gevolg van 'n swaar hand met Nando's se Extra Hot Chilli Sauce van die vorige ete was dit al klaar kriewelwarm toe dit uit die yskas gekom het). Die rys bied egter ernstige weerstand om sagkens met my om te gaan, en na 'n paar minute se strale-bombardering in die mikrogolf gooi ek tou op.
Nou reik ek weer na die yskas vir margarien vir die roosterbrood. Die volgende margarien-houer wat te voorskyn kom, het wel margarien in. Net genoeg om net-net nie een roosterbrood te smeer nie. Nou vir die volgende bakkie - ek het mos altyd margarien in die yskas.
Teleurgesteld besef ek weereens, na 'n vinnige loer, dat hierdie bakkie slegs koel gehou is in die yskas - want daar is genoeg margarien in om die mes vuil te maak, en niks meer nie.
En toe ek verder soek, moet ek met weemoed aan myself erken dat daar wel geen meer margarien in die yskas is nie. Ek smeer toe een stukkie roosterbrood met grondboontjiebotter - wel, dit is mos botter, soort van. Ek kan egter met vertroue rapporteer dat grondboontjiebotter nie heeltemal suksesvol saam met bousand-rys en Nando's Texas chilli-boontjies gebruik behoort te word nie, en die kombinasie is dus nie aan te bevole nie.
Skielik lyk die yskas besonder leeg. Dit is nogal indrukwekkend hoeveel plek drie margarien-bakkies in die yskas opneem, maar effe neerdrukkend om geen margarien-bakkies in die yskas te hê nie.
Nou wonder ek net hoekom daar twee leë margarienhouers in die yskas was. Daar was ook 'n bottel olywe in die yskas, maar sonder enige olywe in - net een of ander suur asynpoging. Ek wonder daaroor ook...
Wednesday, May 03, 2006
Tradisie
Soms gebruik ons die gesegde 'as jy nie weet waarheen jy gaan nie, sal enige pad jou daarheen neem'. Ek wil die gedagte bietjie draai deur te sê as jy nie weet waarvandaan jy kom nie, sal jy ook nie weet waarheen om te gaan nie.
Interessante gedagtes. Wat is 'tradisie', oftewel 'tradisioneel' ?
Die omvang hiervan is geweldig wyd. Dit sluit onder andere taal, musiek, kleredrag, dit wat ons eet, die manier hoe ons met mense omgaan, hoe mense mekaar groet, hoe ons huise en blyplekke lyk, aspekte van ons geloofslewe, hoe en waar ons gaan vakansie hou, en vele meer dimensies van menswees in. Baie keer is tradisie 'n sleutelrolspeler in die keuse van 'n beroep, gesien dat daar darem al vier geslagte mediese dokters in die familie was. Of Ouboet moet gaan boer om die plaas te erf. As Oupa en Pa prokureurs was, watter kans het arme Jacques-Kosie om sy lewensdroom as balletdanser te gaan uitleef ?
Dit sluit persoonlike gewoontes in, en soms ook spesiale rituele wat weliswaar tegelykertyd sin maak en sommer onsin is. Tradisies bind mense aanmekaar met onsigbare bande wat veel sterker is as enige mensgemaakte tou of iets soortgelyks. Selfs in die pleeg van politiek en pogings tot die lewering van publieke dienste is daar ou tradisies wat knersend vasbyt en behoue bly. Tradisies manifesteer op allerhande feeste en byeenkomste, en word dan so ook op hierdie manier oorgedra aan nuwe geslagte. Ou tradisies word soms herontdek en met drif en passie vernuwe deur 'n verjongingskuur te ondergaan.
Juis daarom wil ek nie voorgee dat tradisies onveranderbaar is nie. Tradisies behou die kern van hulle ontstaan, maar verander oor jare sodanig dat dit soms moeilik is om die kloutjie by die oor te bring ten opsigte van die oorsprong van die tradisie. Prins Philip van Engeland het per geleentheid die volgende te sê gehad :
"Change does not change tradition. It strengthens it. Change is a challenge and an opportunity, not a threat".Volkspele. Boeremusiek. Familiepiekniek by die Hartbeespoortdam. Boeresport. Koue blou hardgekookte eiers vir padkos. Vakansie in Hartenbos. Paasnaweek se beplande chaos op die Suidkus. Nuwejaar in die Bo-Kaap.
Ongelukkig het vele tradisies ook verlore gegaan omdat dit in baie gevalle nooit op rekord of te boek gestel is nie, maar van geslag na geslag deur die uitvoering daarvan per woord en daad oorgedra is. Deur geslagte heen het tradisies dan verwater, en uiteindelik soos mis voor die son verdwyn.
Ek wil myself in die konteks posisioneer deur 'n aanvegbare stelling te maak. Ek glo dat die mens of die volk wat nie tradisies het nie, substansieël half-mens is, en grotendeels 'n identiteitslose volk is. Ek glo ook dat tradisies 'n sekere sinvolheid aan die bestaan van die mens gee, en 'n kernbestandeel van groepsidentiteit is, hetsy in familie-verband of binne 'n sosiale raamwerk.
Die Nieu-Seelandse rugby-haka is 'n tradisie wat die oogmerk het om die 'vyand' te intimideer. Soms word die haka (ka mate haka) gesien as 'n oorlogsdans, maar in die Maori-kultuur het dit ontwikkel as 'n dreunsang-dans met spesifieke handgebare en die gestamp van voete deur soldate voor 'n gevegsituasie, om as 'n kragvertoning te dien, terwyl hulle sommer ook die vyand goed sleggesê het in die proses. Uiteraard om die adrenalien vry te stel, emosies op te jaag, en as motivering te dien.
'n Tradisionele mynveld is die baie maniere wat gebruik word om mense te groet. In sekere geselskappe is 'n stewige handdruk met oogkontak die regte ding om te doen, terwyl oogkontak heeltemal taboe in ander kulturele situasies is. 'n Soen op die lippe in groet is die norm in sekere omstandighede ; so ook die wangsoen. Tradisie bepaal dat op albei wange gesoen word ; ek vergeet net gewoonlik watter wang eerste ! As jy 'n koningin ontmoet, onthou om te buig. Maar as jy in besigheidsgeselskap in Japan is, kan die buigery nogal 'n langdurige oefening wees. Onthou gerus maar om op te hou buig so na die derde of vierde keer. Party mense vergeet soms op op te hou om jou hand te skud. Ander mense is soms geneig om jou vingerbeentjies te vergruis in 'n groetpoging. As die dame haar hand aanbied, mik vir die kneukels, maar maak seker jy soen mis (mis soos in nie raak nie, nie mis soos in mis nie). Iewers baie vêr noord is jy blykbaar ook vriendelik as jy jou neus teen die ander persoon se neus gaan vryf. As jy 'n hoed dra, maak seker jy weet wanneer jy dit moet afhaal as jy iemand groet, en wanneer jy dit net effens moet lig. Al hierdie dinge mqg formeel deur protokol voorgeskryf word, maar informeel het dit waarskynlik oor baie jare as tradisies ontwikkel.
Die Halloween-tradisie spruit uit 'n ou gebruik waar lewende nasate kos voor grafte van hulle geliefdes neergesit het vir wanneer diesulkes volgens oorlewering uit hulle grafte verrys het. Om bose geeste te laat skrik en weg te hou, het die lewendes maskers gedra. In later jare het die Romeine hierdie gebruik oorgeneem en vermeng saam met hulle eie oesfeeste.
'n Baie mooi gebruik in sekere lande en streke in Europa is om buite die huis waar 'n nuwe baba gebore is, 'n groot houtbeeld van 'n ooievaar te sit om die nuus bekend te maak.
Ek is seker baie families huldig nog die besondere gewoonte om 'n geslagsregister en familieboom in die familie Bybel aan te dui en op datum te hou.
Hoe vaal en saai sou ons herinneringe van ons skoollewe, universiteit, en selfs militêre diens, nie gewees het sonder die unieke karakter wat intydse tradisies nie daaraan gegee het nie. Dit is juis hier jammer dat in soveel gevalle deur misbruik en wanpraktyke, ontgroening deesdae onaanvaarbaar geword het. Gesonde ontgroening was dan tog 'n kernelement van karakterbou en tradisie-bou in vele instellings.
Hoekom is mens soms so neusoptrekkerig oor tradisies ? Tradisionele musiek, tradisionele kleredrag, tradisionele kos - noem maar op. Al ontken mens dit, is dit tog inherent deel van wat jy is, waar jy vandaan kom, en was dit deel van die resep wat jou die spesiale mens wat jy is, gemaak het.
Hoe hartseer-mooi en weemoedig het oubaas Tevye nie juis oor 'traditions' en die jeug se disrespek daarvoor, gesing nie in 'Fiddler on the Roof'.
Ek vermoed dat die gejaagdheid van die moderne lewe, in hierdie wêreld waar tradisionele grense vervaag, die wêreld wat as gevolg van globalisering en blitsvinnige kommunikasie en krimpende afstande, in groot konflik met die beginsel van 'tradisie' staan. Die wêreld jaag die perfekte produk na, die een enkele beste oplossing en antwoord, en in hierdie proses word die waardes van uniekheid en onafhanklikheid onder geweldige druk geplaas. Dit is egter ook waar dat histories baie groei plaasgevind het ten tyde van onderdrukking en rasionalisasie. Kulture en tale en gelowe het sterker geword juis wanneer die aanslag op hulle baie straf is. Net die tyd sal leer of dieselfde eeue-oue beginsels geldig is in die nuwe, kleiner, materialistiese en kosmopolitaanse moderne wêreld van vandag.
Net die tyd sal leer...
Deel asseblief jou spesiale of unieke tradisies hier op die Kuiergat. Vertel vir ons waar dit vandaan kom, en miskien wat dit vir jou beteken of beteken het.
Friday, April 28, 2006
Pforzheim - Stad van Goud
Pforzheim is ook die tuiste van veertien museums, wat onder andere argeologie, minerale, die tegnologie van juwele en horlosie-vervaardiging, en 'n kunsmuseum insluit. Daar is ook 'n museum van die voormalige Duitse Demokratiese Republiek - die ou Oos-Duitsland.
Terug na die Tegniese Museum. Daar is wel persone wat gewillig is om mens rond te wys in die museum, maar hulle is slegs Duits magtig, en alle inligting wat toerusting identifiseer, word ook uitsluitlik aangebied in Duits. Dit blyk dat die gidse self voormalige vakmanne in hierdie industrie was. Ten spyte daarvan is dit interessant om die museum te besoek en 'n idee te kry van vervaardiging in die ou dae.
Hierdie foto is interessant.Neem kennis dat die ratjie vasgehou word met 'n ooghaar-tangetjie ("tweezer").
Thursday, April 27, 2006
'n Hollandse Fiets met 'n Storie
Ooglopend is dit 'n damesfiets, bevestig deur die raam van die vervoermiddel, maar hier in Nederland behoort mens nie sulke gevolgtrekkings ligtelik te maak nie. Ek sou egter met redelike sekerheid kon aanneem dat die eienaar 'n besondere belangstelling in musiek van een of ander aard sal hê, waarskynlik in 'n betrekking staan in die musiek-industrie. Na verdere oorsigtelike ondersoek van die vervoermiddel sou ek kon aflei dat die eienaar waarskynlik nie te jonk is nie, wat die aanname van 'n betrekking in die musiekwêreld dalk kan ondersteun. Die eienaar van die fiets is waarskynlik middeljarig - dalk 'n baba uit die jare sestig, of selfs vroeër as dit. Dit is egter ook duidelik dat die eienaar die fiets hoofsaaklik as 'n middel tot 'n doel gebruik, en nie 'n geswore fietsry-fanatikus is nie. Hierdie afleiding, my liewe vriend, maak ek uit die algemene toestand van die fiets. Vele roesplekke op die raam en toebehore, en veral op die wielnaafvellings, verklap dalk 'n aversie vir goeie onderhoud en gereelde olie.
Nou weet ek, wonder julle teen die tyd, waar kom die musiek-afleidings vandaan.
Mense wat in die 70's of later gebore is, weet waarskynlik nie wat 'n "LP" of 'n "seven single" is nie. Die eienaar van hierdie fiets weet duidelik, en het dalk 'n verlore passie oor vergange se dae. Dalk sluit haar (of sy) musieksmaak "The Midnight Special", of "Rock around the Clock", of "Heartbreak Hotel" in. Elvis, die Beatles, Bill Haley, en Marilyn Monroe was ikone. Woorde soos "ducktails", "bell bottoms", "Brylcream", "La Pebras", hippies, "peace", "make love not war", en Woodstock, bring dalk nostalgie en werklike heimwee. Met haar of sy fiets word vasgeklou aan herinneringe van gister en eergister.
Of dalk behoort die fiets aan 'n dronk student wat die plate by die vlooimark gekoop het, nie weet wat dit is nie, en dit op die wiele vasgesit het om die fiets uit die ander miljoen in Utrecht op die bruggie uit te ken as hy blink gekuier uit die watergat strompel om huis toe ry. Juis 'n damesfiets, omdat dit moeilik is om op 'n mansfiets te klim so laat in die nag, veral as mens dalk besonder moeg is.
Tuesday, April 25, 2006
Advertensies, winskope en koopgedagtes
"There ain't no such thing as a free lunch"
Robert A. Heinlein, The Moon Is A Harsh Mistress
Ek geniet advertensies. En bemarkingstruuks. Ek het oneindig respek vir kreatiwiteit, en intelligente kreatiwiteit is 'n Godgegewe talent. Om bitterlik baie met vreeslik min woorde te sê, is 'n gewaardeerde talent waaroor min mense beskik. Soms maak die woorde nie noodwendig logiese sin nie, maar wel subtiele, kontekstuele of interpretatiewe sin, en dit val sag op die oor en raak later so deel van 'n spesifieke handelsmerk, dat dit bykans onmoontlik raak om die woorde in 'n ander verband te gebruik.
Daar is gereeld verskuilde, of in baie gevalle, selfs onbeplande humor in advertensies. Wanneer ek sien dat iemand iets in 'n winkel adverteer as 'Beste Waarde vir Geld', wonder ek onwillekeurig of al die ander aanbiedinge van die verkoper dan by implikasie 'Slegte Waarde vir Geld' verteenwoordig. Dit is wel so dat dit waar is in sekere gevalle, waar sekere emosionele aankope ter sprake is - daar waar die handelsmerk baie meer belangrik is as die prys ; inderdaad, hoe duurder, hoe beter. Veral wanneer die handelsmerk vir die koper of gebruiker belangrik is om visueel 'n stelling te maak.Ek vind dit interessant dat sekere produkte se handelsmerke deesdae buite-op die produk aangebring word, sodat vriende en die algemene publiek duidelik kan sien wie wat by watter winkel koop, of die sekere produk dra. Uiteraard is die koopprys in van die produk in die gevalle dan nie belangrik nie, of hoogstens van sekondêre belang.
Sinclair Lewis het gesê "People will buy anything that is one to a customer". Hoe waar is hierdie stukkie wysheid nie. Ek het nie regtig die geintegreerde aartappelskiller-botteloopmaker-naelknipper-sleutelhouer nodig nie, maar as die winkel in hoofopskrifte sê dat ek slegs een mag koop, dan doen ek dit tog. Dit is 'n baie slim toepassing van sielkunde om die mens se gedagtes weg te neem van die prys van die produk, en die werklike funksionele waarde van die aankoop. Later eindig hierdie oulike aartappelskiller-botteloopmaker-naelknipper-sleutelhouer, wat toe nooit gebruik is nie, in sy oorspronklike verpakking, op die kerk se Wit Olifant tafel, saam met die moet-hê onderbroek-verwarmer en die sonbril met ingeboude ruitveers - altwee ook nog in die oorspronklike verpakking.
Wie van ons onthou nie die "It's not inside, it's on top" van vele jare gelede nie. En alhoewel "Ja Swaer" niks met motor-olie te doen het nie, het die frase tog onlosmaaklik deel van 'n sekere olie in ons woordeskat geword. Wat van "Ag seker nie te vêr nie" met die baba stootwaentjie en die brandstof ? Baie van ons onthou ook watter supermark "net om die hoek" was.
Ek dink die slimste gebruik van woorde vind in advertensies om huise en voertuie te verkoop plaas. En dit is juis daar waar ek as koper op my versigtigste moet wees, omdat huis-koop of kar-koop in die meeste gevalle emosie-aangedrewe aankope is, en ek tog so graag die mooi en sagte woordjies wil glo waarin die produk aangebied word. Hier geld die Tsjeggiese spreekwoord meer as enige tyd : "Wanneer jy gaan koop, gebruik jou oë, nie jou ore nie". Waar ek die volgende in 'n advertensie raaklees, raak ek sommer opsluit bekommerd :
- Kort liefdevolle aandag - hoekom, het jy dan nie daarna gekyk toe dit joune was nie ?
- Minimale herstelwerk nodig - hmmm - wonder of jou begrip van minimale dieselfde as myne is
- Die plek vir jou as jy geniet om met jou hande te werk - vir hoe lank ?
- Ware winskoop ; word verkoop weens gesondheid - wie se gesondheid ?
- Groot leefvertrek - wat is die implikasie vir die ander vertrekke ?
Daar is vele voorbeelde van advertensies waar die oorspronklike bedoeling waarskynlik goed was, maar die uiteindelike woordkeuse bitter snaaks uitgekom het. Ek hou veral van die volgende :
For sale : An antique desk suitable for lady with thick legs and large drawers.
Ek sou graag hierdie dame wou sien.
Wanted : Fifty girls for stripping machine operators in factory.
Waar doen mens aansoek ?
Wanted : Unmarried girls to pick fresh fruit and produce at night.
Hieroor sê ek liewer niks.
We do not tear your clothing with machinery. We do it carefully by hand.
Great Dames for sale.Ek is regtig bly om dit te sien, maar ek sal maar eerder 'n
ander droogskoonmaker soek.
Sjoe ! Word dit nog toegelaat ?
Illiterate ? Write today for free help.
Huh ?
Tired of cleaning yourself ? Let me do it !
We will oil your sewing machine and adjust tension in your home for $ 1.00 only.Hmmm...
Miskien moet mens maar eerder nie hierdie een na Afrikaans
vertaal nie...
Dog for sale : Eats anything and is fond of children.
Wonder of hulle 'n koper gekry het ?
Toaster : A gift that every member of the family appreciates. Automatically burns toast.
Ek is darem bly ek hoef dit nie self te doen nie.
Man wanted to to work in dynamite factory. Must be willing to travel.
Klink vir my bietjie na arbitrêre reis.
Dan wonder ek of die persoon wat die volgende advertensie geskryf het, nog vir die maatskappy werk :
Auto Repair Service : Free pick-up and delivery. Try us once, you'll never go anywhere again !
En uiteindelik 'n advertensie wat die waarheid praat ! My persoonlike gunsteling -
Used Cars : Why go elsewhere to be cheated ? Come here first !
Dan is daar advertensies wat duidelik foutief is, maar per ongeluk bitter snaaks is. Klassiek is die klein advertensie waar huurmotor-bestuurders gesoek word, met die volgende beskrywing :
CAB DRIVERS WANTED
Nights and weekends. Must have drivers license, good driving & criminal record. Apply in person.
Genoeg gesê.
Dan wonder ek of die volgende verkoper van sy produkte ontslae geraak het.
For Sale : Slightly used toilet rolls.
10's - R 8.95
24's - R20.99
Still in good condition
Hoekom wonder ek altyd of ek voorheen beroof was as ek 'n afslag van 50 % of 75 % op produkte in die winkels sien ? Ek verstaan wel dat dit 'n manier is om van seisoenale items ontslae te raak, en om in sekere gevalle riglyne ten opsigte van rakleeftyd uit te voer. Waarskynlik sou bergingskostes en logistiek vir voorraad tot die volgende seisoen meer wees, en veral as die produkte seisoenaal-spesifiek is, is dit nie moontlik om dit 'later' weer te verkoop nie. Maar sou dit nie beter gewees om die intydse pryse met 10 % of 25 % te verlaag nie, en sodoende meer te kon verkoop gedurende die spitstyd nie ? Uiteraard subsidieer die koper enige verliese, deur óf in die begin hoër pryse te betaal, óf deur hoër pryse op die vervangende produkte. Of die winsgrense op die produkte is veels te hoog.
Maar as dit uiteindelik by die kooptransaksie kom, geld "Caveat Emptor" in alle gevalle. As iets te goedkoop is om waar te wees, is dit gewoonlik so. Selde sal jy op eerste oogopslag die waarheid raaksien, maar daar sal altyd 'n verskuilde agenda wees as jy diep en lank genoeg krap. Gewoonlik is produksie van die aangebode produk al gestaak en daar 'n nuwe, beter, kleiner, ligter, groter, sterker vervangende produk beskikbaar, of sal binnekort wees. Dan is hierdie produk wat jy nou net gekoop het, nie meer die beste nie. Of vir verskeie ander onderliggende redes mag die produk substandaard wees. In uiterste gevalle mag die produk 'n swakker namaaksel van die oorspronklike handelsmerk se produk wees, of selfs gesteel wees, of 'n grys-mark produk wees, of gesteel wees. As mens gesteelde ware koop, word kriminele aktiwiteite aktief ondersteun. Nie een van ons wil graag die teiken van 'n inbraak wees nie, maar as ons daardie 'goedkoop' horlosie of radio of TV, of die DVD of CD by die vlooimark koop, raak ons self deel van hierdie siklus van blatante diefstal. Die prys is hoog omdat te veel gesteel word, en mens koop by die vlooimark omdat die oorspronklike produk se prys te hoog is. Vir dieselfde rede word 'n onwettige afskrif van 'n DVD of CD gemaak. Hierdie spiraal sal uiteindelik 'n verwoestende impak op oorspronklikheid en innovasie hê.
Sou ek dieselfde doen as ek 'n skepper van musiek, kuns, of treffernaam-produkte was ?
Miskien moet mens maar John Ruskin se woorde onthou :
"There is scarcely anything in the world that some man cannot make a little worse, and sell a little more cheaply. The person who buys on price alone is this man's lawful prey".
Hy het dit al meer as honderd jaar gelede gesê, en dit is soveel meer waar en van toepassing in vandag se geindustrialiseerde wêreld.
Monday, April 24, 2006
'n Gejaag na wind
Die woord 'wind' in Bybelse konteks word gereeld in die konteks van 'geen waarde' gebruik. Een Korintiërs 14 vers 9 sê 'Dan praat julle mos in die wind !' In Een Konings 12 vers 13 en Twee Kronieke 10 vers 8 en vers 13 sien ons ook dat koning Rehabeam die raad van die ouer mense in die wind geslaan het. Ons lees ook in Twee Konings 17 vers 15 dat die volk die Here se waarskuwings in die wind geslaan het. Hosea 8 vers 7 sê dat as mense wind saai, sal hulle 'n storm oes.
Die Prediker gebruik die woorde 'gejaag na wind' agt keer. Wat vir my nogal interessant is, is wat hy in Prediker 2 vers 26 sê - 'Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap. Maar die een met wie Hy nie tevrede is nie, kry die taak om op te gaar en bymekaar te maak en dit dan te gee aan een met wie God tevrede is. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is 'n gejaag na wind'.
Maar ongelukkig kan wind ook een van die mees destruktiewe elemente in die natuur wees. Die Here sê ook vir ons in Esegiël 13 vers 13 dat Hy stormwinde laat losbreek in Sy gramskap om alles te vernietig. Stormwinde maak mens bang en nederig tegelykertyd. Baie van ons het al gesien wat 'n stormwind aan bome en geboue kan doen. Om nie eers te praat van wat 'n wind saam met vuur in die natuur kan doen nie. Interessant ook dat God in Hebreërs 1 vers 7 die volgende aan ons bekend maak - 'van die engele sê Hy : Hy maak se engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme'.
In Suid-Afrika is ons gelukkig nie blootgestel aan ernstige tornadoes of orkane soos die wat in ander wêrelddele van tyd tot tyd woed nie. Maar die pyn en verwoesting van vuur is welbekend aan baie in Suid-Afrika. Met behulp van moderne kommunikasie-tegnologie kan ons weliswaar die impak van sulke natuurrampe waarneem, en juis hierin vind ek sekere interessante dinamieke. Al kan die mens 'n man op die maan sit, en mega-skade deur middel van 'n atoombom veroorsaak, kan ons nie 'n tornado of orkaan skep nie.
Dan kan ons gerus die Prediker se woorde in hoofstuk 11 vers 4 onthou - 'Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie'.
Uiteindelik is die volgende woorde van Amos 4 vers 13 so pragtig en kragtig - 'Jy moet besef : Hy wat berge vorm en wind skep, Hy wat sy gedagtes aan die mens bekend maak, Hy wat dagbreek donker maak, Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan, Sy Naam is Here, almagtige God !'
Gelukkig sal Hy vir ons die wind en die see hard aanspreek sodat dit doodstil word.
Thursday, April 20, 2006
Om te - of nie ? Dis die vraag.
Wat 'n interessante stelling is dit nie.
"Stop, and smell the roses" - 'n pragtige gesegde wat ek nie weet of 'n soortgelyke in Afrikaans bestaan nie. Maar die onderliggende gedagte is universeel. In ons gejaag om te lewe vergeet ons baie maal om te lewe.
Ek het die volgende pragtige woorde raakgelees, wat my aangeraak het :
by
Marilyn Ferguson
(written April 15, 2003)
Take time to smell the roses
Time moves along so fast
It could be that your turn is next
Tomorrow could be your last.
Take time to look around you
See loved ones go away
We do not know the future
It might be you today.
Take time to read your Bible
There’s power in the light
You think you’ll live forever
But you might go tonight.
Take time for fervent prayer
Lift up His name on high
Call out the name of Jesus
For you will surely die.
Take time for sweet surrender
Seek out His mighty will
Today while you are able
For soon, you will be still.
Take time to grasp the moment
So fast, the clock does tick
We do not know the hour
Your number could be next.
Take time to smell the roses
Before it is too late
Today is full of promise
Tomorrow will not wait.
Dit het my nogal aan die wonder gesit oor hoekom mens sekere dinge nie doen nie. Daar is altyd op die gegewe oomblik 'n goeie rede daarvoor. Dalk kos dit te veel geld. Dalk het jy nie tyd om dit nou te doen nie. Miskien sien jy 'n beter, goedkoper, groter, of dalk 'n kleiner een, by die volgende winkel. Soveel kere het dit al met my gebeur dat ek by 'n interessante plek in hier in Europa was, en dan dink ek - "ek gaan nie hierdie museum besoek nie, want dit kos te veel geld". Of "ek sal netnou terug kom en hierdie serp of trui of sommer net mooi ietsie koop vir Annatjie". En dan kom ek nie weer daar verby nie. En ek sal waarskynlik nooit weer die geleentheid kry om by die museum uit te kom nie. Of sommer simpel dinge, soos om nie 'n foto van iets te neem nie, en dan later spyt te wees daaroor. Of om nie genoeg fotos te neem nie. Om nie die roomys vir jou kind te koop nie, want ons gaan netnou eet, en dan eet jy nie jou kos nie... Gaan dit regtig so 'n verskil maak as hy nie al sy kos opeet nie. Wie sê jy het ooit weer die geleentheid om vir haar 'n roomys te koop.
Ons lewe draai soms so veel daarom om voorsiening te maak vir die dag van môre en oormôre, dat ons maklik vergeet om vandag te lewe. En ons vergeet dat môre môre se vandag is, en dan vergeet ons weer, want ons moet tog voorsiening maak vir môre. En partykeer is daar nie 'n môre oor nie...
In Psalm 103 verse 15 en 16 van die Ou Vertaling van 1953 staan "die mens -- soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie".
Die Nuwe Vertaling van 1983 stel dit so : "Die mens, sy lewensduur is soos die van gras, soos die van 'n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg".
Daar is net soveel waarheid in die Afrikaanse gesegde "van uitstel kom afstel".
In verhoudings gebeur dit ook, en daar is die skade en verwyte soms oneindig groter. Wanneer ons iemand seermaak deur ons gedrag, of deur dit wat ons sê, of dalk nie sê nie.
Dit is soms so moeilik om die maklikste woorde uit te spreek. "Ek is jammer". "Ek is lief vir jou". "Ek het 'n fout gemaak". Partykeer gee ons tog so 'n groot bos blomme - om op die graf te sit. Maar hoeveel meer sou die begraafde nie 'n klein bossie blomme, of selfs net een blom, spontaan gegee, waardeer het in die lewe nie. Soms ervaar ek begrafnisblomme as stil-gillende selfverwyte of bedekte skulderkenning.
Ons sê so gereeld vir onsself en vir mekaar "as ek eendag groot is". Ek dink soms skuil daar baie meer agter hierdie eenvoudige uitspraak as 'n wens of dalk ietwat siniese humor. Is dit nie dalk so dat ons heimlik begeer om iets te doen nie, maar dat ons verhinder word deur eie of gemeenskaplike voorafopgestelde idees van wat betaamlik is nie, of wat 'n sosiaal-aanvaarde norm is nie ("jy's te oud om dit te doen", of "jy is dan 'n man, en mans doen nie so iets nie", of "wat sal die mense daarvan dink", of "gedra jou soos 'n dame").
Of eenvoudig bang is dat jy dit nie sal regkry nie.
Moet mens nie net so af en toe vergeet om die "regte" ding te doen nie, en te doen wat jou hart sê nie. Los die kombuis, los die grassny, los die strykwerk - en gaan loop om die blok. Gaan sit langs die dam of die strand. Bel 'n vriend. Besoek iemand in die hospitaal. Eet 'n roomys saam met hom. Maak 'n koppie koffie vir haar, en drink dit saam met haar. Gaan drink 'n koppie koffie by Starbuck's. Vat die hele familie sirkus toe. Hou 'n piekniek met toebroodjies en 'n bottel wyn. Gaan luister na 'n simfonie-konsert. Gaan skop 'n bal saam met die seuns.
Al is daar nie geld nie.
Al het jy nie regtig tyd nie.
Soms behoort jy dit te doen, al het jy nie lus daarvoor nie.
Leer om klavier te speel Klim Tafelberg uit Doen 'n valskermsprong Diepseeduik Leer Grieks praat Sing elke dag Besoek Brasilië Lees Shakespeare Begin perdry Toer China Klim Mount Everest Eet Sushi Skryf 'n boek Ry Olifant Sluit aan by die kerkkoor
Met dank aan Marilyn Ferguson wat toestemming gegee het dat ek haar gedig hier mag gebruik.
Wednesday, April 19, 2006
Naweek in Nederland
Amersfoort is ook bekend as die klipstad, as gevolg van 'n weddenskap in 1661 toe 400 mense 'n groot rots in die dorp in gesleep het. Die storie het die inwoners ontstel, en na oorlewering het hulle toe die klip begrawe. Die klip is egter in 1903 weer gevind, en vandag is dit 'n landmerk en monument in die stad.
John en Corlie, saam met hulle oulike spannetjie Cobus, Marieke en Willem, het die naweek uit hulle pad gegaan om vir hierdie Suid-Afrikaner so ver van huis en geliefdes tuis te laat voel en in te sluit in hulle familielewe. Wat dit nog meer spesiaal maak, is dat Corlie al vir 'n jaar sukkel met 'n rugprobleem en in gedurige pyn is. Ten spyte daarvan het ons Amersfoort en Utrecht saam plat geloop. En liewe pragtige Marieke het haar kamer ontruim en by kleinboet Willem ingetrek in die tyd om vir hierdie oom rusplek vir sy kop te gee.
Nie dat daar van rus baie sprake was nie. Meer gereeld as nie het ons gekuier gesels en geluister tot in die klein ure van elke oggend.
Vrydag verken ons Amersfoort, en met Corlie se baie goeie kennis van die geskiedenis van die dorp en omgewing raak dit 'n besondere ekspedisie. Uiteraard word byna al wat 'n tegnologie-winkel en musiek-DVD-winkel is, besoek. Beide die Bien's en hierdie van Staden spandeer onbepland om hulle digitale biblioteke aan te vul. Dit is nou wel ook so dat DVD's relatief goedkoop hier is, dat mens jouself sal skade aandoen as jy nie koop nie (vertel ek myself mos toe). Deurlopend word ook ge-eet en koffie gedrink.
'n Besoek aan die Suid-Afrikaanse winkel bevestig dat jy nie heeltemal afgesluit is en ontdaan van die vleispotte van die tuisland hoef te wees nie. 'n Verskeidenheid Suid-Afrikaanse produkte, insluitende Aero sjokolade, rye biltong, Milo, atjar, Bisto, en natuurlik Mrs. Ball's is geredelik beskikbaar - teen 'n prys.
Mens is tog wel bewus dat Nederland plat is, en dat fietse 'n gewilde vervoermiddel is. Maar as jy dit nie self sien en ervaar nie, is dit moeilik om die konteks en skaal van hierdie fietsry-dinamiek te verstaan. Oral langs die paaie in die stad is honderde fietse staangemaak, om van die stasie nie eers te praat nie. Daar is fietsrybane, en wee jou as jy as voetganger in die fietspad loop. Fietsryers geniet ook voorrang ten opsigte van motorverkeer, en fietsryveiligheid is baie belangrik.
Volgens een bron is daar meer as 19,000 kilometer se fietsry-paaie en bane in Nederland. Gaan kyk gerus hier en hier oor fietsry in Nederland, en alhoewel hierdie webwerf klaarblyklik redelik lanklaas op datum gebring is, bevat dit wel ook interessante inligting. As jy belang stel, is hier en hier interessante inligting oor Nederland.
Ek het ook opgemerk dat in Nederland oor die algemeen die nasionale motorvloot heelwat ouer is as wat ek dit in Duitsland ervaar. Ek vermoed dat dit dalk as gevolg van die feit dat Nederland relatief klein is en binnelands geen groot afstande het nie, en waarskynlik ook omdat daar nie 'n motorvervaardigingsnywerheid ter plaatse is nie. Ander faktore speel sekerlik ook 'n rol.
Saterdag besoek ons Utrecht, en nadat ons weereens eers verskeie winkels besoek het en ete genuttig het in 'n Marokkaanse restaurant (met interessante smake in die kos), en ek geleer het dat sekere algemene Afrikaanse woorde en terme nie in goeie Nederlandse geselskap tuishoort nie, besluit ons om 'n toer per boot deur Utrecht se gragte te doen. Deur die loop van die toer gaan ons onderdeur ongeveer twee-en-twintig brue, en by ten minste een sogenaamde 'boat coffee shop' verby. Wees egter verseker dat daar nie noodwendig of uitsluitlik koffie gedrink word op daardie boot nie. Die gedagte word wel bevestig deur dat ons 'n entjie verder aan verby 'n voormalige tronk vaar, wat nou 'n rehabilitasie-sentrum vir dwelmverslaafdes huisves. Maar dit lyk nog steeds soos 'n tronk . . .
Alhoewel dit vroeg in April ietwat te vroeg vir die beroemde Hollandse blommeseisoen is, is die omgewing wel plek-plek 'n visuele ontploffing van geel blomme. Verskeie blommeverkopers bied palette van blommeprag te koop aan, wat so vroeg in die seisoen waarskynlik van kweekhuise afkomstig is.
Die besoek aan Utrecht word afgesluit deur 'n verposing by die Ostrich African Restaurant op die walle van die Oude Gracht. 'n Verskeidenheid van geregte en drank van Afrika is beskikbaar - welliswaar teen 'n prys. Maar of 'n Hunter's Gold ver in die Noordelike Halfrond 'n winskoop teen byna R 36 per botteltjie is, is waarskynlik debatteerbaar. Wat nie debatteerbaar is nie, is dat dit ongetwyfeld die lekkerste Hunter's Gold was wat ek in my lewe gedrink het. Wat 'n skrikwekkende gedagte om te dink dat 'n kas (24 bottels) meer as R 850 kan kos. Dieselfde geld vir twee dosyn Castle biere.
Twee hoogtepunte Sondag sluit 'n Afrikaanse kerkdiens saam 'n groepie Afrikaanssprekendes in 'n jeugsentrum-gebou in, en later die middag 'n besoek van gemeenskaplike vriende van München, Chris en Jossie Klopper en die seuns, in. Die besoek word gevier deur middag-ete by 'n beroemde pannekoek-restaurant in die omgewing. Ek sal nooit weet 'n pannekoek sien in die lig van 'n kerkbasaar plaatgrote koppie gebakte deeg met suiker en kaneel nie. Die Hollandse weergawe laat ons Suid-Afrikaanse haai-foeitog-pannekoekie ondervoed en mishandel lyk. Die Meksikaanse poging met boontjies wat ek saam met 'n goeie skeut chillipasta verorber het sou 'n rasegte Cowboy met trots in die skemer laat verdwyn het. Afgesluit met 'n goeie Espresso koffie, dink ek nogal dat ek sal kan gewoond raak aan so 'n dieet.
Terug by die huis word verder gekuier, stories vertel, en biltong ge-eet. Ongelukkig moet die Kloppers ons verlaat - hulle het nog 'n klomp kilometers om te ry. Ons kuier egter verder en saam met 'n ietwat rooiwyn van die Suide raak die aand lekker gesellig, en weereens maak die koekkoek in die horlosie net 'n paar kort snorkgeluide toe ons almal kamerwaarts keer.
Maandag-oggend kuier ons rustig, ek met die wete dat 'n goeie seshonderd-plus kilometers nog voorlê voordat ek by die huis sal wees. Vroegmiddag is dit tyd om te groet, en skielik is dit verby. Maar met wonderlike herinneringe van 'n kuier van 'n leeftyd by 'n besondere en baie spesiale familie, pak ek die terugreis na Neuhausen aan. Daar is darem nog 'n stukkie soet in die mond, toe ek vinnig by Jan en Dehlia Korten in Eibergen kan aanry vir 'n koffie. Dehlia bederf my weereens met verskeie produkte van haar winkeltjie en waar sy 'n stalletjie vandag by die boeremark het, en saam met 'n pragtige potplant vir my woonstel, pak ek die 500-kilometer terugtog aan.
Oor die terugtog wil ek nie praat nie, om die goeie herinnering van die naweek nie te bederf nie. Genoeg om te sê dat ek darem met genade en gebede ter ondersteuning so teen 21:30 veilig die woonstel se deur kon oopsluit.
Verdere inligting oor wandelinge, fietsry en bootvaarte deur Utrecht is hier te sien. Spesifieke inligting oor bootvaarte in en om Utrecht is ook hier te vinde.
Monday, April 03, 2006
Goed teenoor sleg
Onlangs sit ek en wonder oor die mensdom se ingesteldheid teenoor die lewe. Is ons altyd net superkrities, sien ons altyd die negatiewe eerder as die positiewe, die lelik eerder as die mooi, die swart kneusmerkie op die enkele roosblaar van 'n pragtige rooi blom?
Ongelukkig het ek nie die tyd of noodwendig die kennis om 'n holistiese ondersoek of navorsing hieroor te doen nie, maar die gedagte bly in my agterkop om daarna te kyk. Daar is geluk en ongeluk, liefde en haat, goed en sleg, God en die duiwel, sterk en swak.
Maar die INTERNET is mos daar. En GOOGLE - wat al so 'n integrale deel van die meeste van ons se hedendaagse bestaan geword het - kan ook mos ingespan word om 'n heel onwetenskaplike, vol gate, debateerbare, maar wel moontlik 'n interessante perspektief op hierdie saak te kry. Ja, die INTERNET - wat soveel slegte konnotasies het - pornografie, kindermolesteringsnetwerke, lastering, bedrog, en dies meer.
Ek gaan GOOGLE toe 'n bietjie met 'n paar van hierdie teenoorgesteldes, en word ek toe nie verras nie. Sonder uitsondering GOOGLE ek vir elke negatiewe pool veel meer positiewe treffers raak.
Een besonder interessante resultaat is dat vir elke GOOGLE treffer vir die woord "hate", daar meer as vyf treffers vir "love". Ek wil nie voorgee dat elke GOOGLE treffer die verwante woord in 'n positiewe konteks verteenwoordig nie, en dat die gebruike van die woorde daar die sentiment oordra wat ons noodwendig daaraan toedig nie. Hierdie resultate is ook nie verteenwoordigend van enige statistiese modelering of indiepte analise nie. Ek dink egter tog dat dit ietwat verteenwoordigend kan wees van dit waarmee die mens homself en haarself mee besig hou, in woord en in daad.
Wat beteken dit alles ? Dat die mensdom soek na die mooier dinge ? Of dat dit wat die hart van vol is, die mond (of die INTERNET in die geval) van oorloop. Ek sou graag dink dat dit laasgenoemde is.
Die relatiewe resultate en onderliggende syfers word aangebied in die volgende voorstellings.
Sunday, April 02, 2006
Klassieke Luistergenot
Maar klassieke musiek is soos 'n verdowingsmiddel - en jy kan verslaaf raak daaraan. Na 'n ruk van onthouding smag jy na die suiwer, hemelse, en soms ontstellende klanke van Beethoven, Strauss, Tchaikovsky, Mozart, Verdi, Offenbach, en vele ander.
Terwyl ek 'n redelike verteenwoordiging van kontemporere Afrikaanse musiek hier in my woonstel in Neuhausen het - om die verlange na Suid-Afrika te stil - het ek ongelukkig nie veel aandag gegee om 'n paar klassieke gunstelinge ook saam te bring nie.
Tot gister toe. Nadat ek Vrydagaand 'n paar gunstelinge aangevra het op Radio Sarie Marais, en Piet my goedgunstelik getrakteer het op die 1812, Triomf Mars, en Symfonie nommer 40, het ek besluit - tot hiertoe en niks verder nie.
Na 'n lekker laat inlê (mos Radio SM geluister to 01:00 Saterdag-oggend, en toe nog onbepland gelê en lees het tot byna 02:30), het ek besluit ek moet hierdie gaping in my mini-musiekversameling onmiddelik poog regstel. Sindelfingen se groot MediaMarkt is toe die aangewese antwoord, en na 'n kuierkoop van goed twee ure waarin ek my verlustig het in hulle indrukwekkende aanbieding van CD's, maar egter ook my finansiële situasie in berekening gebring het, volstaan ek met 'n keuse van 'n EMI Classic album ("Klassik aus Spanien"), 'n dubbel-stel "Berühmte Overturen präsent", en 'n briljante stel van "Herbert von Karajan conducts Orchestral Favourites". Laasgenoemde drie-CD stel bied meer as drie-en-'n-halfuur se uitmuntende musiek. Hoogtepunte sluit in amper twintig minute van Tchaikovsky se "1812 Overture Opus 49", "Eine Kleine Nachtmusik" van Mozart, Händel se "Water Music", Smetana se "Die Moldau", Sibelius se interessante "Finlandia", Strauss se wakker "Radetzky-Marsch", Verdi se suiwer "La Traviata", en uittreksels van sy "Carmen Suite No. 1", en vele meer in. Die overtures sluit werke in van Händel, Weber, Rossini, Mendelssohn, Wagner, Strauss, Bizet, Bernstein, en ander.
Laat-middag en vroeg-aand, Saterdag, 1 April 2006, en op hierdie lui Sondag-middag, spandeer ek 'n hele paar ongekwalifiseerde rustige ure, met oorfone, afgesluit van die wêreld, in die geselskap van 'n klompie van die grootste musikale meesters wat hierdie wereld nog ooit gehad het.
Wat 'n voorreg !
Saturday, April 01, 2006
Het ek gewen of nie ?
Maar laat ek eerder die storie by die begin begin. 'n Paar weke gelede was hier 'n fees in my 'village', die sogenaamde 'Faschen Karnaval'. Ek en Annatjie besoek die straat-optogte, en eerstens gebeur iets interessants. Terwyl ons op die sypaadjie loop, kom 'n vrou getooi in die klere van een of ander heks uit die Middeleeue en dring by my aan om toeskouerkaartjies te koop. Eers wil ek nie, want ek gaan mos eintlik nêrens heen om 'n vertoning te sien nie, maar die heksvrou dring daarop aan, en dit lyk toe asof dit nou maar so gedoen moet word. As jy vir die optog in die straat wil kyk, moet jy maar 'n kaartjie koop. Toe moet ek twee koop - vir my en Annatjie.
Hier staan ons in die koue en sneeu vir so net meer as twee ure en kyk na die groepe hekse en narre en optogte en dinge - mens wil mos darem waarde vir jou geld kry ! Op pad terug, word ek weer gekonfronteer met nog so iemand wat lyk asof sy my geld wil hê. Toe dog ek eers, nou moet mens seker betaal om op te hou kyk en loop ook ! Maar toe nie - gelukkig nie. Ongelukkig praat hierdie dametjie redelike goeie Engels, en sy verduidelik dat sy een of ander organisasie wat fondse insamel vir natuurrrampe verteenwoordig, en as ek 'n donasie maak en die vraag beantwoord, ek 'n kans het om een of ander prys te wen. Om haar van my rug af te kry, stem ek maar in om 'n klein donasie te maak. Sy is toe baie bly, en ek moet eers my inligting op 'n vorm skryf. Ek weet in elk geval nie wat die naam van Stuttgart se sokkerspan is nie, maar sy is toe heel gewillig om dit namens my op die papier te skryf. Ek moet maar haar woord daarvoor vat. Dit gedoen, haal ek maar 'n paar Euro uit my sak, en gee vir haar. Ongelukkig werk dit toe nie so nie, en die donasie-bedrag is nie onderhandelbaar nie. Vyftig Euro later, en ek kan maar huis toe gaan. Vyftig Euro is byna R 400 !
Nou ja, ek het toe maar die finansiële skok probeer verwerk - tot gisteraand. Toe ek die brief kry. By Deutsche Post moes ek myself identifiseer voordat hulle die pakket aan my gee. Nadat hierdie groterige Swabiese tannie my paspoort erg beloer het, en gewonder het hoekom ek nie 'n baard het nie, wat die paspoort-foto het een (altans, dit is wat ek vermoed sy bevraagteken het), gee sy die koevert vir my.
By die woonstel gekom, maak ek die ding oop, en dit is duidelik dat ek iets gewen het. So woord vir woord probeer ek die ding vertaal-verstaan, en uiteindelik verstaan ek genoeg om te sien dat ek die wenner van die eerste prys is. Wat 'n Porsche Cayman S is ! In my opinie die lelikste Porsche wat daar is - selfs leliker as die Porsche Boxster. Maar, 'n Porsche is 'n Porsche, en as dit myne is, sal hy (sy !) mooi wees. Wil darem ook nou nie 'n gegewe perd in die bek kyk nie !
Daar is toe 'n nommer wat ek moet bel, en na gesukkel om iemand aan die ander kant te kry wat effens Engels kan praat, gebeur die volgende. Hulle soek my Duitse identiteitsnommer. Toe ek sê dat ek nie 'n Duitse burger is nie, word gesê dat ek dan nie die prys kan ontvang nie, want dit is slegs geldig vir Duitse burgers of Duitse paspoorthouers. Maar daardie hekse-tannie het nie dit vir my gesê nie, en sy het geweet ek is nie 'n Duitser nie. En my geld heel gewillig gevat. Nou wil ek my Porsche mos hê !
Watter raad het julle vir my ? Ek dink ek behoort 'n groot geraas hieroor te maak. Of moet ek daarop aandring om my vyftig EURO terug te kry ?
Ek wil-wil opgewonde raak, maar ook nie voordat dinge uitgesorteer is nie.
Alle raad sal waardeer word.
Wednesday, March 29, 2006
'n Drie-liter Jerobeam

Ek is seker daarvan dat die meeste mense sal weet van wie ek praat as ek die name Jerobeam, Rehabeam, Metusalag, Salmanesar, Balthasar, en Nebukadnesar noem.
Enige jong kategeet sal vir my kan sê dat Jerobeam die eerste koning van die noordelike koningkryk van Israel was, wat 'n opstand teen Salomo gelei het. Die jong mens sal ook weet dat Rehabeam die seun van Salomo was, wat ook later die eerste koning van Juda geword het. Dit was ook onder sy leierskap dat die noordelike volke weggebreek het van die regering uit Jerusalem en 'n aparte koningkryk, Israel, gestig en gevestig het.
En almal weet dat Metusaleg, afstammeling van Adam, negehonderd-nege-en-sestig jaar oud geword het. Behalwe dat oubaas Metusalag Noag se oupa was, was hy verder nie eintlik 'n beroemde omie nie. Maar tot vandag toe word die woord Metusalag, ook bekend in die volksmond as Metusalem, wyd gebruik om te verwys na 'n besonder ou mens, of in algemene spraak as vergelyking met enigiets ouds gebruik.
Van Salmanesar, behalwe dat hy 'n Assiriese koning was, weet ons vandag nie veel meer nie. Daar word na hom verwys in die Tweede Boek van Konings.
Dieselfde geld vir Balthasar. Behalwe dat hy een van die wyse manne was wat geskenke vir baba Jesus in die krip gebring het, is daar ook nie veel meer oor hom te sê nie.
Dit bring ons dan uiteindelik by Nebukadnesar. Hy was so 562 jaar voor Christus 'nn koning van Babilonië. Hy het vele oorloë baklei, soms gewen, en partykeer verloor. Sy bekendheid berus egter op die feit dat hy die meesterbrein agter die bou van Babilon, en die veelgeroemde hangende tuine van hierdie stad was. Daniel het ons ook vertel dat hy nie 'n goeie of gewilde koning was nie, en ook dat hy uiteindelik van sy verstand af geraak het en gras ge-eet het.
Nou wat daarvan, hoor ek jou vra. Al hierdie manne en name het egter iets interessants en ongewoons in gemeen. Wyn ; of eerder, wynbottels.
'n Jerobeam is 'n wynbottel met 'n kapasiteit van 4/5 van 'n gelling, of dan 3.03 liters.
'n Rehabeam is 'n groot bottel wat in die Franse streke Champagne en Burgundy gebruik word, wat die gelyke van ses standaard bottels bevat, oftewel 4.5 liters.
'n Metusalag is 'n groot bottel wat ook in die Franse streke van Champagne en Burgundy gebruik word, wat die gelyke van agt standaard bottels bevat, oftewel 6 liters.
'n Salmaneser is 'n groot bottel wat ook in die Franse streke van Champagne en Burgundy gebruik word, wat die gelyke van twaalf standaard bottels bevat, oftewel 9 liters.
'n Balthasar is 'n groot bottel wat die gelyke van sestien standaard bottels bevat, oftewel 12 liters.
'n Nebukadnesar is 'n groot bottel wat in die Franse streek van Champagne uitsluitlik vir Franse champagne gebruik word, wat die gelyke van twintig standaard bottels bevat, oftewel 15 liters.
Wees nou eerlik, het jy dit geweet ?
'n Paar Balthasars of Nebukadnesars klink vir my na 'n goeie rede vir 'n partytjie !
Volledigheidshalwe, hier is 'n kort lys van bottelgroottes (ek gee die Engelse name hier) :
- Kwart-bottel (ook bekend as 'n "piccolo") (187.5 ml of 200 ml)
- Half-bottel (ook bekend as 'n "Demi") (375 ml)
- Bottel (ook bekend as 'n "Imperial") (750 ml)
- Magnum (1.5 L) (twee bottels)
- Jeroboam (3 L) (vier bottels)
- Rehoboam (4.5 L) (ses bottels)
- Methuselah (6 L) (agt bottels)
- Salmanazar (9 L) (twaalf bottels)
- Balthazar (12 L) (sestien bottels)
- Nebuchadnezar (15 L) (twintig bottels)
- Melchior (18 L) (vier-en-twintig bottels)
- Solomon (25 L)
- Primat (27 L) (ses-en-dertig bottels)
- Melchizedek (30 L) (veertig bottels)
Tuesday, March 28, 2006
Three Mile Island, Koeberg en Hiroshima
As gevolg van verskeie protes-aksies en demonstrasies teen kernkrag is alle kernkragproduksie in Amerika gestop en die 'Nuclear Regulatory Commission' het veel strenger riglyne en veiligheidsmaatreels ingestel op aanlegte reeds in produksie. 'n Hoofrede vir hierdie amptelike ingryping en aksies was 'n publieke protes-optog van ongeveer 200,000 deelnemers in New York Stad.
Nou wonder ek oor ons situasie in die mooie Kaap by Koeberg. As onse mense so argeloos 'n bout of 'n moer in 'n turbine kan laat rondlê, en daarna vir weke kan spekuleer in koerante, dan wonder ek hoe veilig is ons teen 'n kernramp ?
Sal die mense wat boute en moere laat rondlê weet as daar 'n probleem is ?
Nou wonder ek ook hoekom daar nie 200,000 of net 20,000 ; ag, al is dit maar net 2,000 mense nie hulle stemme saam kan of kon dik maak in die Kaap, Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein, Putsonderwater, Kakamas, en Kimberley nie ?
Is ons al so moeg baklei ?
Vuisvoos ?
Of maar net apaties ?
God's water oor God's akker ?
Gaan ons kinders oor 27 jaar die geleentheid hê om te kan onthou van die stukkie metaal in die turbine vroeg in die jaar 2006 ? Of gaan Koeberg en Hiroshima en Nagasaki in dieselfde asem gesê word ?
Gaan ons kinders se kinders ons verwyt ?
Onverwagse hael-heimwee

Laat gistermiddag, net nadat ek by die woonstel gekom het, raak ek bewus van "iets anders" ; iets buite die normale toedrag van sake. 'n Bekende klank, maar wat tog misplaas is. Vir oomblikke dink ek dat iets elektries dalk die gees gegee het ; maar nee, weliswaar tog nie.
Toe sien ek dit ; hael wat val. Groot korrels soos duif-eiers. Maar dit kan tog nie wees nie ; hael dit in Duitsland. Sneeu ja, reën tog wel, ysreën van tyd tot tyd, mistigheid in die berge, maar hael ? Tog is dit so.
En net toe, soos 'n dief in die nag, neem 'n groot heimwee van my besit. Verlang ek terug na 'n lekker Noord-Transvaalse donderstorm, met al die geraas, die visuele skouspel, en die byklanke wat daarmee saamgaan. Verlang ek selfs na 'n haelstorm - omdat dit heeltemal anders is by die huis as hier in Duitsland.
'n Paar minute later, en die natuur herstel homself tot sy gewone status. Spierwit lê die hael op die gras, en dit het opgehou met reën. Asof dit nooit gebeur het nie. Maar dit het ; en dit het ook aan my hart gevat.
Friday, March 24, 2006
Om te weuen of nie
Die waarheid is egter dat ek dink jy lyk soos 'n opgeblase oorryp piesang op steriods.
... en so voorts.
Wie van ons het nie al 'n ou wit leuentjie vertel nie - die amper-waarheid mooi toegedraai in 'n jassie, en sommer partykeer met 'n mus en serp en hoed op en Wellington 'boots' ook. Erg toegedraai !
Is wit leuens enigsins geregverdig ? Doen jy regtig die persoon aan wie jy die leuentjie vertel, 'n guns ? As dit soms geregverdig is, wanneer is dit - en wanneer nie ?
Hoe voel jy as die persoon aan wie 'n wit leuentjie vertel is, (kom ons noem dit sommer 'n weuen), as jy in die eerste plek weet die verteller lieg, of erger, later uitvind dat hy of sy gelieg het ?
Het jy 'n gunsteling weuen ?
Is ons nie soms geneig om 'n weuen te vertel om ons eie bas te red nie ; of dalk vir die beswil van die luisteraar, om gevoelens te spaar. Een argument is dat dit op 'n 'need to know' basis geregverdig is, en dat weuens al vir eeue bestaan.
Maar is dit ? Beteken 'need to know' nie eerder om die waarheid te vertel nie, maar nie alles nie - met ander woorde, dit wat gesê is, is die waarheid, maar daar is inligting weerhou. Dan ook die gedagte dat dit al vir eeue bestaan ; dit beteken tog nie noodwendig dat dit reg of moreel regverdigbaar is nie ?
Of dalk anders, meer brutaal gestel : is ons nie maar meestal geneig om 'n weuen te gebruik om self uit 'n ongemaklike situasie te kom nie ?
Wat se voorbeeld stel ons vir kinders deur openlik te weuen, en dan partykeer agteraf (wanneer die kinders ook by is), 'n heel ander opinie te lug ?
Koppel 'n mens nie gereeld sy of haar selfbeeld aan wat ander mense van jou dink nie, al weet jy waarskynlik dat die ander persoon lieg (weuen) ? Maar dit klink darem net so lekker as iemand iets bevestig wat jy tog so graag wil hoor en glo.
Of kan 'n weuen onder die lipstiffie van diplomasie geregverdig en gemotiveer word ?
Ek dink 'n weuen is as 'n onwaarheid doelbewus geuiter word deur die spreker, maw as die persoon iets sê wat hy of sy weet is 'n leuen of lieg, al is dit om gevoelens te spaar, of om konflik te vermy.
Diplomasie aan die ander kant is as die waarheid 'sagter' vertel word - nie in 'n leuen toegedraai nie, maar dalk net nie so direk of blatant gestel word nie. Maar dit bly in sy geheel die waarheid - na jou wete.
My afskop-stelling verwys. Dit is 'n weuen (of 'n lieg !) as die persoon sê 'Jy lyk pragtig in geel' en weet dit is absoluut, in sy / haar eie mening, nie so nie. Diplomasie in die geval sou waarskynlik iets wees soos, 'Weet jy, ek dink 'n ligblou sou jou beter pas', of 'Groen sou dalk jou oë se kleur pragtig uitbring'. Ek dink die persoon sou weet wat jy bedoel, en dit waardeer dat jy nie sy / haar gevoelens seermaak nie deur die huidige keuse (geel) direk te kritiseer nie.
Waarskynlik sou ek in elk geval iets gesê het soos 'Geel laat jou dik lyk', wat dan die waarheid in my oë sou wees, wat nie 'n weuen is nie, maar ook min diplomasie bevat . . . en dan die aand in die hondehok geslaap het ; of kos op 'n ander plek gaan soek het ; of 'n vriendskap dalk gekneus het.
Dan moet 'n mens ook in ag neem hoekom die persoon die vraag vra. Is dit om 'n kompliment te kry, of dit is 'n eerlike vraag waarvoor die persoon 'n eerlike antwoord verwag van jou. Jy kan nog steeds die vraag beantwoord as die persoon vis vir 'n kompliment sonder om te weuen, deur iets soos 'As jy daarvan hou en goed voel daarin, is dit mooi.' Dit is egter 'n grensgeval weuen - maar uiteindelik voel ek - as ek van iets hou en goed voel daar in, bôkker die wêreld ! Dit is my smaak en my saak !
Of is ek verkeerd ?
Nou ja toe, hoe antwoord mens die volgende vrae van jou lewensmaat :
Sy : "Dink jy die rok laat my vet lyk ?"
Hy : "Dink jy nie ons het 'n nuwe kar nodig nie ?" (let wel, die inklusiewe verwysing "ons" . . .)
Thursday, March 23, 2006
'n Dag op die Autobahn
Die werklikheid van die Autobahn moes ek tot my teleurstelling agterkom, realiseer egter nie die jeugdige droombeeld nie. Spoedbeperkings geld op baie meer plekke as wat daar nie beperkings is nie, daar hopeloos te veel verkeer op die pad, ongelukke gebeur, en duisende (letterlik) swaar voertuie wat die gerief van die Autobahns sentraal in Europa misbruik om 'n transport-kosmos lewendig te maak tussen Oos en Wes, Noord en Suid. En die vloek van die Autobahn - die nimmereindige "Stau" en "Stop" situasies. 'n Twee-uur rit kan maklik vier ure en langer word as daar 'n ongeluk iewers op die Autobahn is, of padwerke die bane vertregter.
Ek ry gisteroggend by die huis weg op pad Eschborn, Frankfurt toe om 'n werksessie by te woon. Dit reën - liggies hier in Neuhausen, maar verander vinnig in 'n ysreën nog voordat ek anderkant Leinfelden is. Voor die Leonberg Kreuz begin dit liggies sneeu, wat spoedig verander in 'n sneeuval wat sigbaarheid verminder na minder as 30 meter. Die regterbaan is verstop met dosyne gelaaide swaarvoertuie, almal waarskynlik op pad na die Noorde of Oosblok lande. Passasiersmotors en ligte afleweringsvoertuie smeer die ander bane soos maaskaas op bruinbrood. Ek besef dat ek al byna een uur op pad is, en skaars dertig kilometer van die huis af is. Gelukkig is daar nog net 190 kilometer oor voordat ek in Eschborn kom.
Skielik vloei die verkeer, maar op die stuk pad is die spoedbeperking slegs 120. Nie te vêr gevorder nie, voordat 'n see van flikkerende oranje ligte voor aandui dat daar 'n probleem is. Weer terug na die maaskaas-model, en tien minute later sien ek die oorsaak van die probleem. 'n Silwer Porsche 911 wat met die padrelings aan die linkerkant (vinnige baan) in 'n argument betrokke was, en duidelik die argument verloor het. Erg verloor het. En dit op 'n lynreguit pad ! Almal het nou mooi klaar gekyk, en vier bane se verkeer wat voor die ongeluk in drie bane ingetregter is, kan nou weer asem haal in die vier bane. Uiteindelik kan ons die Autobahn gebruik waarvoor dit gebou is. Daar is wel 'n voorgestelde maksimum spoed van 250 km/u, maar die meeste voertuie kan gelukkig nie daarby kom nie. Ek druk die BMW na my gemakspoed van net oor die 180 km/u, en begin dink dat ek dalk met 'n bietjie Autobahngeluk betyds vir my vergadering sal wees. Karring rustig voort totdat ek weer flikkerende ligte sien. Hierdie keer is die flikkerende ligte in my truspieel, en ek dog dat ek per ongeluk huisspoed ry. Nie so nie, my vinnige loer bevestig ek is nog op 180. Trek toe maar oor na die stadiger regter-middelbaan en maak plek vir die omie in sy Audi A6 om teen nekbreekspoed by my verby te vlieg. Net weer begin dink dat die probleme op 'n einde is, toe die oranje ligsee weer voor my branderbreek. Volgens die SWR-4 radioberig is hierdie "Stau" so 16 kilometer lank. Hierdie keer is daar padwerke, en die vier bane vertregter weer tot twee smal bane, elk twee meter breed, en die wit padlyne tydelik ge-ignoreer met helder geel plakstrepe op die pad. Nou daar is vir jou 'n uitdaging om in die "vinnige" baan links te ry, en 'n trein van trokke en treilers en toerbusse sardientjie-pak die regterbaan toe. En daar is 'n tydelike konstruksie van een meter hoe sementblokke sentimeters van jou kar se linkerdeur af om te wys waar jy nie mag ry nie !
Uiteindelik is hierdie deel van die nagmerrie vir die oomblik verby. Daar is wel nog so twee of drie van dieselfde episodes vorentoe, maar dit is netnou se probleem. Eers wil mens nou by 'n rusplek aftrek om bietjie te ontspan, die bene te rek en 'n koppie koffie drink. Ja, mens kan hier in Duitsland enige tyd met veiligheid aftrek en uitklim. Party drink ook kofiie of tee of iets uit 'n fles uit, maar baie Duitse omies trek af om af te slaan. Water af te slaan, sommer daar langs die kar, waar alles en almal hulle kan sien. Hulle het nie eers die beskeidenheid om so tien-vyftien tree in die bosse agter die bome in te loop om bietjie meer diskreet te wees nie. En, hierdie gedrag is nie die uitsondering nie. Vandag het ek drie gesien by die een plek waar ek gestop het. 'n Man, duidelik 'n besigheidsman, geklee in 'n pak klere, 'n ander persoon uit 'n swaar voertuig, en nog een van 'n kar af. Die snaakste is dat daar oral langs die pad mooi en skoon toiletgeriewe is vir gebruik. En, ek het dieselfde gedrag al by 'n paar vrouens ook waargeneem, al hurkende langs hulle kar.
Die terugreis van Frankfurt af huis toe het maar basies dieselfde patroon gevolg, behalwe dat ek nie weer gestop het vir 'n koppie koffie nie. Ek moes by die huis kom, want ek het vergeet om 'n draai te loop by die kantoor voordat ek weg is. Om 'n koppie koffie langs die pad te drink sou nie 'n goeie idee wees nie . . .
Tuesday, March 21, 2006
Soos Hy neem, so gee Hy ook
Vandag, Maandag 20 Maart 2006. 'n Maandag soos baie ander. Alles dieselfde soos altyd. Alles tog ook heeltemal anders as altyd. Hartseer en vreugde. Soos soet en suur. Soos dag en nag. Soos die koms van die lente na 'n bitter koue, ongenaakbare winter. Voëltjies fluit en kwetter en bou nessies, en juig in die vreugde van sonskyn. Skielik, asof deur miljoene kabouterhandjies gehelp en aangevuur deur die belofte van lewe in son en lig en warmte, breek groen sprietjies deur barre grond, en bome word getooi deur skaam groenerigheid, wat binne dae en weke ons leefwêreld gaan omtower in 'n paradys van groen en kleur.
Aan die anderkant van die wêreld kruip winter-herfs ongemerk en byna slu, soos 'n dief in die nag, stadig, nader. Die son tree aan vir diens 'n paar minute later elke dag, en raak effens bleek om die kiewe. Asof skelm, draf die son ook al hoe vroeër laatmiddag effens vinniger om plek te maak vir aandskemer. So besef 'n mens byna nie dat die dag nou korter geword het nie, en jy reik ook onwillekeurig uit na daardie trui wat jy tog nie so lank gelede sommer so losweg in die hoekie van die kas gegooi het nie.
Vroegoggend vanoggend het die Here dit ook goed gedink om vir Neville te kom haal en huis toe te neem. Dit was te swaar vir Hom om te sien hoeveel pyn Neville gehad het, en om sy lyding te moes aanskou. Sy liggaam kon net nie meer die aardse pyne hanteer nie, en omdat Jesus goed is, en omdat Jesus lief is vir Sy kinders en hulle nie onnodig wil laat swaar kry nie, het Hy 'n spesiale engel Centurion toe gestuur om vir Neville gemaklik die pad terug te wys en te verwelkom in die Ewige Lewe waar hy geen pyn sal hê nie. My vriend, ou 'Loop-en-Val' Neville, nooit weer sal jy val nie. Nooit weer sal jy nodig hê om te onthou om jou pille te drink nie. Rus sag. Rus in ewige vrede.
Vandag het die Vader van alle lewe dit ook in Sy almagsplan gehad om vir Hannelie en Dewald hulle lankverwagte prinsessie te gee. Dehanné van Staden het vandag die lewenslig aanskou, nadat Hannelie en Dewald ook baie lank moes wag. My ou Boetie en Sussie, ons is saam met jullle bly - en trots - en dankbaar ! Ons het nie aldag verstaan hoekom dit so lank moes neem nie, maar vandag weet ons dat dit reg was. Prys die Heer ! Mag hierdie pragtige bondeltjie genade ook vir julle en ons almal vreugde bring, en 'n ligstraaltjie elke dag wees, oral waar sy gaan. Mag julle so spesiaal vir haar wees soos wat sy vir julle is.
Soos die Vader neem, so gee Hy ook veelvoudig. Ons wik, maar God beskik.
Monday, March 20, 2006
Sukses
Onlangs wonder ek oor wat sukses werklik is. Wonder oor wat dit beteken. Watter dimensies het sukses ? Waarteen kan sukses gemeet word ? Rykdom ? Kinders ? Materiële welvaart ? Aardskuddende ontdekkings en uitvindings ? Om lekker kos te maak ? Om goeie toesprake te lewer ? 'n Beroemde sanger of kunstenaar te wees ? Om eerste oor die wenstreep te hardloop ?
Nadat ek so bietjie oor die woord gedink het, het ek besluit dat sukses 'n keuse is wat elke mens self maak. Suksesvolle mense dra sukses in hulle oë. Om suksesvol te wees moet mens selfs suksesvol in jou mislukkings wees. Met ander woorde, deur op te staan en voort te gaan na 'n mislukking is vir my 'n werklike triomf en in sigself 'n sukses. Dit is soms so maklik om nadat jy jou alles gegee het en dan nog steeds te misluk, nie op te staan nie, en om allerhande faktore die skuld te gee sonder om self eienaarskap vir mislukking te aanvaar, en om nie 'n mislukking om te skakel in 'n positiewe leerervaring nie. Om suksesvol te wees beteken nie noodwendig om baie dinge te hê nie, of 'n stywe bankrekening nie, of om invloedryk te wees nie, of om invloedryke vriende te hê nie. Sukses mag die dinge insluit - en doen welliswaar baie maal, maar dit is sekondêr. Sukses beteken aanvaarding sonder om moed op te gee, dit beteken om 'n verskil te maak, al weet niemand dat jy die regte ding gedoen het nie. Sukses beteken om om te gee oor dinge wat waarlik belangrik is. Sukses beteken om respek te hê vir ander mense se sienings sonder om jouself te kompromiseer of om jouself minderwaardig te stel. Thomas Edison het per geleentheid gesê dat baie onsuksesvolle mense die gevolg is van die feit dat hulle nie geweet hoe naby aan sukses hulle is toe hulle moed opgegee het nie. En dit is vir my die kern van die saak - om nie moed op te gee nie.
Die sportman of vrou wat eerste oor die wenstreep kom, mag op die oog af suksesvol lyk. Maar as die sportman nie sy uiterste beste gegee het nie, was dit 'n eerlike suksesvertoning ? Om te wen volgens normatiewe standaarde beteken nie noodwendig sukses nie. Dink vir 'n oomblik aan die persoon wat dalk laaste gekom het, maar wat miskien as gevolg van fisiese probleme of ander faktore ongelooflike opofferings moes maak om wel te kwalifiseer vir die wedren, en dat slegs die voltooiing van die wedren 'n persoonlike oorwinning was. Word sy prestasie beskou as 'n sukses ?
Suksesvolle mense deel gewoonlik 'n paar eienskappe. Hierdie eienskappe sluit gewoonlik die meeste van die volgende in :
- Hulle het 'n droom
- Hulle het 'n plan
- Hulle berei hulleself voor ten opsigte van kennis, insig en opleiding
- Hulle is bereid om hard te werk en om opofferings te maak vir hulle droom
- Hulle glo in hulle droom en glo onvoorwaardelik dat hulle die droom kan realiseer
Maar, 'n ander dimensie van sukses is om lief te hê en om my lewe te lewe binne my uitgemete plekkie op hierdie aarde. As ek onvoorwaardelik lief is vir my mense, en hulle lief is vir my ; as ek na hulle behoeftes kan omsien, en selfs af en toe ietsie ekstra kan gee ; as ek die regte woord op die regte tyd kan sê ; as ek sien dat iemand my hulp nodig het, en ek daar en dan kan help ; as ek kan help sonder om te oordeel of te veroordeel ; as ek die werk wat my toegedeel is doen en reg doen ; en as ek 'n voorbeeld vir iemand is deur dit wat ek doen eerder as dit wat ek sê ; dan dink ek ek is redelik suksesvol.
Uiteindelik word sukses nie gemeet met aardse mates nie. Uiteindelik sal ek die dag wanneer ek voor my Skepper staan, ek eerlik moet kan sê dat ten spyte van al die aardse mislukkings en aardse suksesse, Heer, ek suksesvol was. Omdat ek U verheerlik het. As ek eendag in die mate as suksesvol gemeet word, dan was ek eerlikwaar suksesvol.
Die Prediker het juis gesê "Ek het gesien dat al die moeite wat mens doen vir sukses uit onderlinge afguns kom. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is 'n gejaag na wind."
Dan eerder wat Salomo in Spreuke gesê het dat "Wie My het, het raad en behaal sukses, Ek verleen insig, Ek is die een wat mag gee".
Sunday, March 19, 2006
Chris skryf van Denemarke
Ek bak so nou en dan ook brood maar doen dit op die tradisionele manier. Ons het 'n broodpan van Suid Afrika af saamgebring, met 'n deksel, waarmee ek op die vuur broodbak. Hy werk ook goed in die weber. Bierbrood met 'n blik mielies in vir "tekstuur" bly 'n gunsteling.
Ons het 'n baie koue winter beleef hier in die noorde van Denemarke. Temperature het baie nagte tot onder -15 grade gedaal en was selde bo vriespunt in die dag. Van net na kersfees af was ons tuin nog nie sonder sneeu en ys nie. Baie oggende het ek en die kinders werk en skool to gery met die fietse in temperature van onder die -10 grade. Die kinders se skool is 3 km ver en my werk is 2,5 km ver. Dit was so koud dat die see begin vries het. Hulle moes ysbrekers gebruik het om party van hawens oop te kry. 'n Suid Afrikaner het nie aldag ,n besef hoe drasties dinge verander as die temperatuur so laag daal nie. Theresa het een dag in ons oprit vasgesit met die motor, want die sneeu het amper 'n meter dik gele. Met die baie koue is almal se energie rekenings baie meer. Dit kos ons ongeveer R18 000 per jaar on die huis op te warm.
Dit het ons nie gestop om vleis te braai nie. Ek het al vleis gebraai op die weber met 'n temperatuur van -12 grade buite. Die bure kon dit nie glo nie en het gedink dat ek 'n brand het. Ek gebruik spesiale brikette wat van Australie af kom. Die gewone brikette se temperatuur is te laag om in hierdie koue te werk. Brikette is baie duur. 10kg kos ongeveer R100. Vleis is die ander duur artikel. Een kg goeie beesvleis kan tot R350 kos. Ons kry net geel mieliemeel wat R15 per kg kos. Die meel word as gesondheidskos beskou. Varkvleis en hoender is meer billik en kan so min as R40 per kg kos. Beesstert is 'n ander gunsteling by ons en is partykeer R45 per kilogram omdat nie baie mense dit eet nie. Hulle verkies meer varksterte. Denemarke is primer 'n varkvleis land en eet tot vark harte en varklewer. Spur in Suid Afrika voer al hulle "spare ribs" van Denemarke af in.
In Desember maak die mense tradisionele kos en eet dan meer ryk kosse. Die kos word net in Desember gemaak om met die koue weer meer energie te verskaf. Een verrassing was om te sien dat hulle bron maak. My ouma het dit altyd gemaak en die resep proe dieselfde.
Alles is baie lekker maar dit stil nie die verlange na mens se eie land nie.
My Skoonouers
...om Skoonouers (ouers) te hê soos Alwyn en Sarah du Plessis.
Die twee besondere mense het my meer as ses-en-twintig jaar gelede in hulle huis en harte verwelkom, met absolute, ongekwalifiseerde liefde. Ek het nog nooit soos 'n skoonseun by hulle gevoel nie, en ek verstaan al die skoonma-grappies slegs vanuit 'n akademiese perspektief ; ek en my familietjie het nog nooit enige inmenging of kritiek van my Skoonma aan die lyf gevoel nie.
My Skoonpa het baie jare gelede al afgetree, maar hy het nog nooit opgehou om te werk nie. En ek bedoel nie aftree-werkies soos om die tuin nat te spuit en alles en almal te kritiseer nie. Ja, dit doen hy ook baie goed - sy tuin in Pretoria is 'n lushof ; en ook om kritiek te lewer oor amper alles, en krities te staan oor dinge. Sterk van opinie is hy wel, maar so ook gekwalifiseerd in sy opinies. Op tegniese vlak en om goed te maak en om goed reg te maak ken ek nie sy gelyke nie. Ek ken of weet van niemand wat nie eers naby so goed soos hy is in die opsig nie. As dit stukkend is, sal hy dit regmaak. As dit nie stukkend is nie, maak hy dat dit beter werk. Hy, aan die hoof van sy familie, en saam met skoonma, het met ontelbare opofferings oor baie jare seker gemaak dat Annatjie vandag kan loop, en na meer as sewentig operasies en God se genade het sy die lewe al lopende aangepak.
My Skoonma, soos 'n skaduwee in die agtergrond, sterk soos 'n rots wat alles feil het vir die mense wat sy lief het. Vyf kinders het sy groot gemaak, en 'n groot rol gespeel in die grootmaak en opvoeding van baie ander, en selfs jare nadat almal uit die huis uit is, kook sy vandag nog asof almal, en nog 'n paar, gaan opdaag vir ete. Daar is verseker baie Moeders wat hulle alles, hulle absolute self, ter wille van hulle kinders en familie opgeoffer het, en die stuur ferm in die agtergrond vasgehou het. Hierdie Skoonma van my staan voor in daardie ry.
Hulle liefde vir hulle God, vir mekaar, en vir hulle kinders, is 'n voorbeeld vir my, en kan vir baie ander 'n voorbeeld wees.
Die twee oumense het 'n klomp jare gelede vir Alwyn, ons seun wat gestrem is in vele opsigte, met groot en eerlike liefde aan huis geneem en daagliks versorg terwyl hy 'n leerder in Prinshof Skool was. Alwyn was daardie tyd al totaal loopgestrem, rolstoelgebonde, en het verskeie mediese probleme gehad ; en het dus baie persoonlike sorg nodig gehad. Ek besef miskien vandag net 'n bietjie van wat hulle vir ons gedoen het - toe ek en Annatjie jonk (nou goed dan, jonger) was, en ek ter wille van my loopbaan met die familie Oos-Londen toe verhuis het. Toe het Pa Alwyn en Ma Sarah totale verantwoordelikheid vir Alwyn geneem. Absolute, onbaatsugtige liefde - prakties uitgeleef, met die geloof dat hulle dit sal doen met die genade en krag van die Hemelse Vader.
Toe ek met Annatjie getrou het, en ek onmiddelik 'n kitsfamilie bygekry het, het ons twee gereeld baie dom dinge gedoen. Ons is egter nooit deur die twee mense gekritiseer nie, en was altyd verseker van hulle onvoorwaardelike ondersteuning. Die twee ou mense het ons deur die jare, tot vandag toe, bygestaan en waar nodig, gehelp. Ek kan met alle eerlikheid en dankbaarheid sê dat 'n bak sop of tuisgemaakte frikkadelle daardie jare gereeld net op die regte tyd gegee is, omdat Ma Sarah "vandag weer te veel gekook het".
Hulle is nie volmaak nie. Maar ek wil hulle nie anders hê nie. Hulle is wat hulle is. Hulle is die sout van die aarde. Dit is my voorreg om in hulle skadu te kan wees.
Twee spesiale, besondere mense, wat God met goeie rede in my lewe laat kom het. Skoonouers duisend !
Friday, March 17, 2006
Mansdinge - vir 'n spesiale meisie

Hierdie is sommer 'n Vrydag-storie - 'n waar storie !
Ek het al in die verlede gekla dat ek en die toedraai van geskenke nie lekker saamwerk nie. Nou ja, ek word uitgenooi na 'n baie spesiale meisie se verjaardag, en dit beteken uiteraard weer 'n klomp probleme. Eerstens moet 'n geskenk gekoop word, en dan waarskynlik toegedraai word (ek vergeet altyd om in die winkel te vra dat hulle dit toedraai). Het ek gesê dat ek ook nie goed is met geskenke koop nie ?
So gebeur dit toe dat ek Woensdag-middag na werk winkelsentrum toe is. Ek moet ook noem dat ek probeer uitvind by iemand na aan die meisie watter tipe geskenk waardeer sou word. Gewapen met die inligting voel ek dat hierdie koopskermutseling makliker as voriges behoort te wees. Was ek verkeerd - mense, ek loop vir byna drie ure deur al wat moontlike winkel is om 'n gepaste geskenk te kry - maar geen sukses. Plaas het ek maar liewer nie gevra wat sy graag wil hê nie, dan het ek tog sekerlik makliker iets kon kry !
Gister besef ek dat ek nou vinnig iets sal moet kry - vanaand is die ete-afspraak, en ek kan mos nie met niks by 'n spesiale meisie kom nie ! So teen etenstyd sluip ek uit die kantoor uit - hier is darem 'n klomp winkels naby, en ek weet daar is ook 'n spesialis-winkel in die kompleks. Hopelik sal ek daar regkom. Met my beursie in die hand (kredietkaart en kontantkaart ook, net vir ingeval), mik ek maar vir die spesialis-winkel ; dit is darem etenstyd en ek het verseker nou nie die luuksheid van drie ure om niks te koop nie. In die winkel word ek oorweldig deur rakke en uitstallings van dosyne, honderde, duisende - nee, miljoene goeters wat my intimiderend aangluur uit hulle bokse en stanings en wat nog. My broek bewe letterlik - ek was in jare der jare nie in so winkel nie - ten minste nie alleen nie. En om my behoefte in my Afrikaanse-Engelse-Duits te verduidelik aan iemand wat net Swabiese Duits praat is moeliker as om WvMV in Irak te vind ; en julle almal ken daardie storie ! So ek is dus op myself aangewese. Ek brom nog oor vroumense wat mans se lewe... kom ons los dit maar eerder daar.
Uiteindelik het ek 'n paar goeters op die kortlys - ten minste een wat relatief aan die 'aanbeveling' se voorskrifte voldoen, en 'n paar ander wat nader aan my finansiële vermoëns voldoen. Die keuse was nie maklik nie, maar uiteindelik oorwin die geskenk wat ten minste aan die aanbevole kriteria voldoen. Ek betaal vinnig, voordat my kontantkaart agterkom wat aan die gebeur is, en draf terug kantoor nie.
Hier aangekom, vind ek tot my uiterste skok uit dat ek vergeet het om die ding te laat toedraai. Erger nog, my sekretaresse is met verlof, so weereens is ek op myself aangewese. Gelukkig het ek nog geskenkpapier in my kas - oorblyfsels van verlede jaar se Kersfeespapier wat gelukkig toe nie Kersfeespapier was nie. Toe is dit ek en die geskenk en die geskenkpapier en die skêr en 'n rolletjie kleeflint. Gelukkig is dit 'n vol rol, en daar is baie papier - en die skêr is skerp.
Nou rol ek die papier uit op my vergaderingstafel - my lessenaar is uiteraard te deurmekaar, en meet mooi om die ding netjies (!) toe te draai. Sny die papier 'n ent na die ooste, en toe na die noorde. Toe vind ek uit die papier het gekrimp - of die geskenk het skielik groter geword. Daar is nou te min papier om die hele ding mee toe te draai. Vou die nou maar die papier om die ding, en plak met kleeflint vas. Baie kleeflint. Sny nog 'n stuk papier om die ontblote deel van die geskenk mee toe te maak, en nog kleeflint. Gelukkig was dit 'n vol rol, maar nou is die rol amper halfpad opgebruik. Dit beteken darem seker dat die papier nie sal afval van die geskenk af nie - hopelik ! Verder kan ek ook nie verstaan hoekom hulle nie alles mooi in vierkantige boksies wil verpak nie - dit sal die toedraai darem heelwat makliker maak.
Die ding is toegedraai ! Heeltemal toegedraai. Nie mooi toegedraai nie, maar goed toegedraai.
En ek is betyds klaar ! Sal darem nie laat vir ete en koek wees nie.
Chané se ma Mari het gevra dat ek 'n geskenk koop met liggies, want Chané hou van liggies en goed wat raas. Chané was bly oor die geskenk. Maar die vierjarige ouboet Diwan was blyer - hy hou toe meer van die geskenk. Ongelukkig kom ek toe agter dat op die boks staan groot geskryf : "2 Jahr +". Chané was gister een jaar oud.
Maar ons het lekker ge-eet, en die koek was ook lekker. Nadat Chané die een kers amper doodgeblaas het, en nadat sy haar hande en vingers deur die versiersuiker getrek het. Maar sy mag maar.
Chané het lekker verjaar !
Wednesday, March 15, 2006
Ek bak my eie brood
Die ding is nogal oulik. Mens gooi water, melk en bietjie botter in ; gooi 'n voorafgemengde mengsel in, druk 'n paar knoppies, en voila ! Die ding gaan aan't bewe, knie die deeg, biep af en toe, en rus ook tussenin. Hopelik spring daar 'n lekker warm brood uit na 'n ruk.
Ek het nou 'n "Weissbrot Backmischung" ingegooi, en nou ruik my kombuis ewe bakkery. Volgens die prentjie op die pakkie is dit witbrood. Sal maar sien wat gebeur...
Mens kry verskeie soorte mengsels. Ek het ook pakkies "Mehrkornbrot met Hefe" en "Roggenmisch Brot mit Hefe" gekoop. Nie heeltemal seker wat dit alles is nie, maar die prentjies op die verpakking lyk goed. Sal maar probeer bak totdat ek sukses met die ding het.
Volgens die amper-Engelse instruksie-handleiding kan die ding tot konfyte en marmelades kook.
Hopelik kla die puriste-bakkers nie te veel oor hierdie ding nie...
Nou vertel 'n goeie vriendin dat as jy 'n pakkie uiesop in die mengsel gooi, dit die brood besonder lekker maak. Gisteraand besluit ek toe, dis nou die tyd om te probeer. Wat 'n wenner-treffer is hierdie uiesop-witbrood nie. Goed genoeg vir 'n ete op sy eie, maar sal ook besonder goed afgaan saam met braaivleis.
Verder wil ek nou bietjie eksperimenteer met die mengsels. Ek is seker 'n kerrie-en-speserye brood sal ook goed wees, en rosyntjies-en-heuning of rosyntjies-en-bruinsuiker vir 'n soet brood behoort ook aandag te trek. Ek het ook al begin dink aan 'n Jalapeno- of -Habanero-chillie brood ook - dit sal egter eksklusief vir die 'gevorderde fynproewer' wees.
Ek is trots op my Pa en my Ma
My Pa word 76 hierdie jaar, maar hy het verlede Sondag (12 Maart 2006) alleen, tussen en saam met ongeveer 38,000 fietsryers, sy vyfde ARGUS klaargery. Dit was ook sy beste tyd hierdie jaar. Ek gee nie om dat een of ander Duitser dit gewen het in onder drie ure nie. My Pa se onder die sewe ure is 'n persoonlike sege ; 'n spesiale oorwinning.
My Pa ly aan kanker. Dit is nou wel nie een van die groot K, gevaarlikes nie, maar dit bly kanker. Dit bly tog in mens se kop. Ten spyte van hierdie dinge, oefen my Pa aanmekaar in die Warmbad (Bela Bela) omgewing, met baie opofferings. Vroeg-oggend deur die stowwerige plaaspaaie met die kar, fiets agterop gelaai, om op die teerpad te kom om sy oefening in te kry. So warm soos wat dit daar word, is hy gedissiplineerd om fiks te bly. In die koue, dwarsdeur die jaar ry hy, want hy wil die Argus (weer) doen.
En my Ma, sy ondersteun hom in stilte, gaan sit baie langs die pad as hy 'n wedren iewers doen. Sy bekommer haar oor hom - veral wanneer hy so gereeld die laaste fietsryer is wat inkom. Maar trap sal hy - sal nie op 'n bakkie klim om maar teruggeneem te word nie. Baie keer kry hy nie eers 'n medalje nie, want daar was te min medaljes. Maar die medalje is nie belangrik nie.
Dit het my nou bietjie laat dink . . .
My Ouers - hulle het sewe seuns grootgemaak. Hulle het sewe seuns goed grootgemaak. Onder moeilike omstandighede, met Pa wat 'n staatsdiens-salaris verdien, en Ma wat kinders grootmaak. Ouers wat bitter baie opgeoffer het - dinge en selfs basiese noodsaaklikhede hulle-self ontsê om die seuns spesiale dinge te laat doen. Ons is nooit die voorreg weerhou om 'n skoolkamp by te woon nie, of betrokke te wees met sport-aktiwiteite, of watter belangstellings ons gehad het nie. Hulle het ons met vakansie geneem - en daar was altyd die spesiale ekstras. 'n Roomys hier, 'n lekker daar. Luukses het ons wel nie geken nie - maar dit wat ons nodig gehad het, en nog meer - dit het Hendrik en Marah van Staden vir hulle seuns gegee.
Ons sal nooit regtig weet wat se opofferings hulle gemaak het nie. Ons sal nooit weet waarsonder hulle moes bly en klaarkom nie, om ons op daardie kerkkamp, of Landsdienskamp, of dalk selfs met vakansie te neem nie. Ons kan maar net dankbaar wees daarvoor.
Ek is trots op my Pa en my Ma.
Ek salueer julle ! Met trots !
Thursday, February 02, 2006
Waardering en Irritasies
- Mense wat my aanvaar vir wat ek is en hoe ek lyk en wat ek nie het nie en vriende bly ten spyte van myself en die irriterende dinge wat ek sekerlik doen
- Mense wat 'n ander opinie as ek huldig maar wat terselfdertyd ook respek het vir my opinie, al is myne verkeerd
- Mense wat eerlik is - eerlik met ander, en eerlik met hulleself
- Mense wat trots is - trots op hulle taal, hulle kultuur, hulle geliefdes, hulle vriende
- Mense wat min tyd het, en daarvan vir my gee
- Mense wat lag vir 'n grap wat ek vertel, en nie halfpad sê hulle het dit al gehoor nie (al het hulle)
- Mense wat dit geniet om te lewe en ander mense ook die reg om te lewe gun om die lewe te geniet op hulle manier
- Mense wat sommer kom koffie drink, en nie kwaad is as ek dalk nie tyd het, en dan weer later kom
- Mense wat lekker kan lag, en mense wat lekker vir hulle self ook kan lag
- Mense wat iets moois met my kan en wil deel
- Mense wat die regte ding doen, al is dit soms ten koste van hulle self
- Mense wat my aanvaar ten spyte van al die dinge wat ek hieronder sê wat my irriteer
- Mense wat een of twee vloere met 'n hysbak ry (dié wat nie 'n gesondheidsrede of ander geldige rede het nie)
- Mense wat ongemagtig op parkeerplekke toegewys aan gestremde persone parkeer
- Die 'maar'-woordjie. Mense wat met jou saamstem, en dit dan diskwalifiseer deur te sê "..., maar..."
- ...en ook die volgende woordgebruik "Ek hoor wat jy sê, maar ...". Hulle moet eerder ophou "hoor" en verkieslik begin om bietjie te "luister".
- Mense wat ander mense gereeld in die rede val, en sommer die sin namens die ander een voltooi. Eintlik moet hulle seker baie slim wees, want hulle kan dan gedagtes lees.
- Mense wat iets vir my stuur wat lyk asof dit spesiaal en persoonlik vir my bedoel is, maar geen moeite doen om die spore van die ander vyfhonderd wat dit ook so onpersoonlik gekry het, uit te vee nie.
- Mense wat my met 'n mooi boodskappie dreig - "as jy nie hierdie boodskap binne ses minute na dertien ander mense toe aanstuur nie, gaan ..."
- Mense wat swak omgaan met dit waarvoor ons die derde-liefste moet wees - ons moedertaal.
- Intellektuele snobs - Mense wat dink hulle doen die regte ding omdat ander dink dit is die regte ding, al hou hulle nie daarvan nie of nie kan bekostig nie (soos in musiek, rooiwyn, boeke, kuns, woonbuurt, ensovoorts)
- Mense wie se persoonlik verander sodra hy of sy agter 'n motor se stuurwiel inklim (veral sekere tipes karre...)
- Mense wat nooit, maar nooit verkeerd is nie - en nooit sal erken dat hulle 'n fout gemaak het nie
- Mense wat nie kan vergewe nie - wat altyd 'n wrok dra teenoor iemand of iets
- Mense wat altyd dink die lewe of die gemeenskap of wêreld of die werk of die familie of wie ook al, skuld hulle iets
- Mense wat rook waar hulle nie mag rook nie. Eintlik, mense wat rook.
- Mense wat iets misbruik ; dit sluit in : drank, verdowingsmiddels, vriendskap, Godsdiens, hulp, geld, mag, posisie, vryheid, kinders, ou mense, diere, ...
- Mense wat sê "...om die waarheid te sê, ...". Ek wonder dan altyd of dit wat hulle nou net gesê het, dan alles leuens was !
Friday, January 27, 2006
'n Kerrie-kosmaak-foukie
In hierdie koue, grys Duitsland was ek gisteraand lus vir 'n pot kerrie.
Nou, mense wat my ken, het 'n mate van, kom ons noem dit maar, respek, vir die kerrie-pogings wat ek bou. Vir verskillende redes.
Terug na gisteraand se ete. Tuis gekom en myself gemaklik gemaak, begin ek met die voorbereidings. Ongelukkig vind ek uit dat daar nie meer vleis in die yskas is nie, en ek kan niemand anders as myself daarvoor blameer nie. Met minus vier grade buite is ek ook nie lus om weer uit te gaan in die koue nie, en besluit om wyd te innoveer met die kookproses. Wel, ek het ten minste 'n paar hoender-eiers en uie. So vanaand eet ek 'n vegetariese eier-en-uie gereg.
Nou ja, hoe maak mens ? So maak mens.
Die uie geskil, gesny en gebraai, die eiers medium-hard gekook, en die groot oomblik breek aan - die meng van die speserye. Nou moet julle ook weet, dat 'n resep nie vir my die alfa en omega is nie, maar 'n riglyn - 'n breë riglyn ! My bestanddele word gekies deur wat in die kaste beskikbaar is, en dan gemeng volgens gevoel en hoeveel vir my op die oomblik van waarheid reg lyk.
So word genoeg kerriepoeier ("extra hot"), geel sout, gemaalde knoffel-vlokkies, bietjie suiker, 'n lekker lepel grondboontjiebotter, 'n klompie gemaalde gemmerpoeier, 'n skepsel appelkooskonfyt, so bietjie van 'n Italiaanse tamatiepasta-poging, 'n skeut donker-swart Duitse soort van Worcestersous, 'n tappie 5-jaar KWV brandewyn, en gemaalde rissies in die mengbakkie gegooi en sterk gemeng. Die unieke brousel-mengsel word saam met die eiers in die uie-potjie gegooi, en fris ingeroer om bietjie te prut-prut - simmereer, soos oom Pieter Pieterse sou gesê het. Die laaste bestandeel is 'n handvol müesli en rosyntjies. Ter wille van die Duitse kultuur gooi ek maar 'n lepel of wat mosterd ook in die pot.
Omdat ek net nie rys reg kan kook nie, ten spyte van vele probeerslae en vele goedbedoelde raad en rate, eet ek ter plaatse my kerrie met pasta. Dit kan ek darem goed gaar kry, al kook die pot elke keer, sonder uitsondering oor. Terwyl die simmerasie aan die gang is, doen ek toe maar weer die pasta-ding.
Maar, 'n goeie storie moet mos 'n kinkel in die kabel hê. Terwyl ek die goed terugsit in die kaste, bêre ek toe ook die kaneel-bottel. Kaneel ? 'Zimt' ! Wel, die werklikheid is toe dat ek 'n eie-en-uie-en-kaneel potjie saam met pasta gisteraand vir aandete gehad het.
Die (beplande) oorskiet van gisteraand wat ek vanmiddag hier op kantoor genuttig het, het soos gewoonlik amper lekkerder geproe as gisteraand se kos.
Maar, volgende keer sal ek seker maak dat ek die gemmer-botteltjie en nie die kaneel-botteltjie gebruik.
Baie seker maak !
Wednesday, January 25, 2006
Diktatorskap - die antwoord vir SA ?
Omdat demokrasie in baie gevalle 'n 'compromise' is, is dit dan nie so gereeld die gemiddeld van teenstrydige menings nie ? As ons iemand kan kry wat die genoemde dinge en ander problematiek van vandag se Suid-Afrika kan vasvat en onder beheer kry, en dan weer 'n demokraties-verkose leierskap in plek stel ? Sou dit nie vir almal (behalwe dalk die passasiers van die soustrein en sousvliegtuie) beter wees nie ?
Iemand mag 'n opinie huldig dat Suid-Afrika effektief nou onder diktatorskap staan, omdat die regering van die dag by verre die meerderheidstem het.
Uiteraard sou hierdie nuwe diktator dus verseker nie die ANC of enige van sy aanhangels kan wees nie - hulle het onder amper-diktatorskap gedurende die laaste tien jaar bitter min reggekry om die genoemde sake onder beheer te kry. Verder is daar sake soos die patetiese toestand van publieke gesondheidsdienste, onderwys, en byna elke ander staatsdiensfunksie wat effektief ten gronde gegaan het. Om nie eers te praat oor munisipale dienste nie. Die diktator sal dan ook leiers aanstel op grond van hulle prestasie - om die dinge wat nodig is te doen, en die geld wat beskikbaar is, effektief te spandeer en bestuur. Aanstellings sal gedoen word slegs op grond van prestasie, en nie op grond van enige vriendskapsbetrekkinge, familie-bande of dat ons vriende saam in die tronk was nie. Of omdat jy my 'n guns gedoen het, nou skuld ek jou 'n leersitplek op die soustrein nie. Of deur korrupte besigheidspraktyke in besluitnemingsposisies gehou word nie.
Al suksesvolle department is waarskynlik die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens - om belastinggeld in te vorder. Die regering se trawante is nie eers in staat om hulle begrotings te spandeer nie - verregaande korrupsie ten spyte.
Ongelukkig is dit so waar wat die geskiedkundige, Lord Acton (1834-1902) in 1887 gesê het in 'n brief na Biskop Mandell Creighton : "Power tends to corrupt, and absolute power corrupts absolutely. Great men are almost always bad men".
Maar, waar of wie sou hierdie sinnige "diktator" nou wees ? Verseker nie een van die keffende brakkies in enige van die sogenaamde opposisie-partye nie. En uit die paar moontlike Afrikaner-leiers is daar ook geen hoop nie, omdat ons Afrikaners, soos maar nog altyd, so besig is om binne die laer met mekaar te baklei dat daar geen krag oor is om saam te staan en op te staan vir ons regte nie. Ons kla ook net te lekker Saterdag-aande langs die braaivleisvuur met 'n Klippies of 'n Pinotage in die hand.
En die ander is te besig om te pak om ander probleme in die VK of Australië in die gesig te gaan staar. Of eintlik enige ander plek wat hulle sal vat !
Eintlik soek ons almal in Suid-Afrika maar net 'n kans. 'n Kans om 'n toekoms saam te hê - waar die verlede geskiedenis is - nie om te vergeet nie, maar ook nie om die geskiedenis te koester en wraak te neem nie. Ons soek 'n kans om te lewe - regtig te lewe en te groei en te ontwikkel ; in harmonie en met respek vir mekaar. Kan dit nie so wees nie ?
Ons mag seker maar 'n bietjie droom, né ?
Cogito ergo sum.
Doopname
Wat dink julle van tradisionele name ? 'n Ou gewoonte was mos om familiename te gebruik. Die eersgeborene seun moes mos Oupa se name kry, anders erf hy dalk nie die familie-plaas nie. Die eerste dogter moes mos ma-kant se Moeder se name (al vier !) kry, en net om nie moeilikheid in die familie te veroorsaak nie, gee sommer vir die arme kind Ouma aan vaderskant se name ook. As dit Oupa aan moederskant is wie die erfplaas het, kry die kleine babatjie sommer Oupa se vier name en sy van as toegif, om deur die lewe te gaan as Jakobus Hendrik Petrus Wilhelm Pretorius van Staden, en as Mamma sterk genoeg voel oor haar eie nooiensvan word dit sommer maklik Jakobus Hendrik Petrus Wilhelm Pretorius Fourie van Staden.
En toe die eersgeborene seun eintlik 'n eersgeborene dogter is, was die risiko om die erfplaas te verloor teen 'n ander verlangse opportunistiese nefie te groot. Daarom het ons waarskynlik 'n hele paar Gertruida's, Hendrika's, Willemien's, Jakomiena's en Johanna's op die koop toe.
Groot nasionale gebeurtenisse het ook hulle slagoffers gehad. Dink maar aan die arme Eufesia's wat met die naam blymoedig die nuwe eeu ingeswoeg het. Ek het al gehoor van Ossewania, maar nog nooit die voorreg gehad om een te ontmoet nie...
Vroër jare was dit mos baie gewild om kinders na bekende mense of fiksie-karakters te noem. Daar is hoeveel Conrad Brand Smit's, Marius Hugo de Klerk's, en ek is seker 'n hele paar Mark Condor van der Merwe's wat waarskynlik geen idee het hoekom hy nie doodgewoon Piet, Klaas, Johan of Gert heet nie. Hopelik het dit nie by Ruiter in Swart Poggenpoel gaan draai nie.
Baie pappies en mammies het hulle geroepe gevoel om name uit die Groot Boek te gaan haal. So het ons dan vir Gabriël, Petrus, Johannes, Markus, Daniel, Adam en Mattewis ook by ons. En vir Maria, Magdalena en Eva.
En dan die mooie blommenaampies. Ons het mos vir Jessamine, Myrtle, Rose, Iris, Hyacinth, Lilly, Petunia, Hazel, Angelica, Flower, Daffodil (ek is ernstig !), Holly, en nog soveel meer.
Toe word ons mos 'smart', en die doodgoeie boerename tel nou nie meer nie. Nou ry Cedric van Tonder, Florence du Preez, Winston de Bruin, Ceasar Venter en Millicent de Kock die wêreld vol met hulle 4x4's.
Mens wonder of Betty Joan Perske so beroemd soos Lauren Bacall, John Henry Deutschendorf so beroemd soos John_Denver, Wynette Pugh so beroemd soos Tammy Wynette, Stevland Morris so beroemd soos Stevie Wonder, en Harry Rodger Webb so beroemd soos Cliff Richard sou geword het.
Die meeste mense onthou vir Twiggy, 'n bekende model en filmster. Sy het die wêreld binnegekom as Leslie Hornby.
Dan kan mens praat oor byname, maar dit is dalk 'n storie vir 'n ander keer.
Saturday, January 21, 2006
Afrikaans my taal ! Afrikaans my trots !
Ek maak amok in my taal
En ek kan skok in my taal
Ek kan rock in my taal
Amanda Strydom vat aan my hart ; vat aan alles wat ek is met haar sterk woorde in haar "Hoor hoe brom die wind". Dit gee my hoendervleis. Dit is mooi. Dit is Afrikaans !
Sonder Afrikaans het ek nie ‘n identiteitsvingerafdruk nie. Sonder my Afrikaans is ek 'n lewendige lewelose iets op reis na nerens.
My asem gly deur my taal
Ek word verlei deur my taal
Afrikaans is die mooiste taal in die wêreld - vir my. Engels is seker ook die mooiste taal. So is Zulu. So is Xhosa. So is Duits, en Frans, en Italiaans. Elke taal is die mooiste. Vir ander mense – nie vir my nie. En ek gun hulle dit. Gun my ook my liefde en respek en passie en lewe in en vir my taal.
En ek kan vry in my taal
Ek kan rock in my taal
Ek maak lawaai in my taal
Afrikaans het respek vir my. En ek het respek vir Afrikaans. Ons hou van mekaar. Ek vra niemand om my taal te beskerm nie. Maar gun my my taal. Ek sal haar lewe gee, en help om te groei, en om te bly. En om mooier en mooier en mooier te word...
Ek word so kwaai in my taal
Ek kan jou braai in my taal
En ek kan rock in my taal
EN EK KAN ROCK IN MY TAAL !
Sunday, December 18, 2005
Reinhard vra, "Wie is die grootste een"
Haai daar,
Dis my eerste bydrae op hierdie webtuiste en ek sou graag jul menings wil weet. ’n Paar dae gelede het ek op ’n baie interessante lys neergekom wat die beroemdste of belangrykste mense van Suid-Afrika behels en deur SABC bekend gestel is. Derduisende mense het met foonoproepe, vonkposbriewe ens. deelgeneem, om hierdie „Wie is wie“ tot stand te bring. Die idee kom oorspronklik van Britanje af en is ook in ander lande nageboots. In Duitsland het die eerste kanselier van Wesduitsland die meeste stemme ingepalm, twede was Martin Luther. Die SA-rangskikking is maar baie merkwaardig, omstrede en het glo groot lawaai versoorsaak. Maar hierdie lys van name wys net die verdeeldheid en verskeidenheid van die SA-samelewing. Die naamlys is uit Wikipedia ontneem.
- Nelson Mandela, first president of democratic South Africa and joint Nobel Peace Prize winner (1918 - )
- Christiaan Barnard, pioneering heart surgeon (1922 - 2001)
- F.W. de Klerk, former president and joint Nobel Peace Prize winner (1936 - )
- Mahatma Gandhi, political activist (1869 - 1948)
- Nkosi Johnson, child who died of AIDS (1989 - 2002)
- Winnie Madikizela-Mandela, politician and 2nd wife of Nelson Mandela (1936 - )
- Thabo Mbeki, current president (1942 - )
- Gary Player, golfer (1936 - )
- Jan Smuts, statesman (1870 - 1950)
- Desmond Tutu, cleric and Nobel Peace Prize winner
- Hansie Cronje, cricketer (1969 - 2002)
- Charlize Theron, actress and Academy Award winner (1975 - )
- Steve Biko, nonviolent political activist (1946 - 1977)
- Shaka, founder of the Zulu nation (1787 - 1828)
- Mangosuthu Buthelezi, politician and a Zulu prince
- Tony Leon, politician (1956 - )
- Brenda Fassie, singer (1964 - 2004)
- Mark Shuttleworth, Web entrepreneur, founder of Thawte and Ubuntu Linux, astronaut (1973 - )
- Hendrik Frensch Verwoerd, former prime minister and primary architect of Apartheid (1901 - 1966)
- Chris Hani, political activist (1942 - 1993)
- Bonginkosi Dlamini, also known as "Zola", poet, actor and musician
- Patricia de Lille, politician
- Johnny Clegg, also known as "The White Zulu", musician (1953 - )
- Helen Suzman, stateswoman (1917 - )
- Eugène Terre'Blanche, right wing activist
- Pieter Dirk Uys political satirist and entertainer
- Paul Kruger, four times president of South African Republic (1825 - 1904)
- Anton Rupert, businessman and environmentalist
- Jonty Rhodes, cricketer
- Leon Schuster, filmmaker, comedian, actor and prankster
- Oliver Tambo, political activist (1917 - 1993)
- Steve Hofmeyr, musician and actor
- Walter Sisulu, political activist (1912 - 2003)
- Cyril Ramaphosa, politician and businessman
- JRR Tolkien, author (1892 - 1973)
- Beyers Naude, cleric and anti-apartheid activist (1915 - 2004)
- Ernie Els, golfer (1969 - )
- Miriam Makeba, musician
- Patrice Motsepe, businessman
- Trevor Manuel, politician
- Albert Luthuli, cleric, politician and 1960 Nobel Peace Prize winner († 1967)
- Robert Sobukwe, political activist (1924 - 1978)
- Tokyo Sexwale, politician and businessman
- Danny Jordaan, politician and soccer administrator
- Fatima Meer, scientist and political activist
- Ahmed Kathrada, political activist
- Joe Slovo, politician (1926 - 1995)
- Natalie du Toit, disabled swimmer
- Jomo Sono, soccer coach
- Francois Pienaar, former Springboks rugby captain (1967 - )
- John Kani, actor, entertainer and writer
- Penny Heyns, swimmer
- Jeremy Mansfield, radio and TV personality
- Lucas Radebe, former Bafana Bafana soccer captain
- Mamphela Ramphele, political activist, academic, businesswoman and mother to the son of Steve Biko
- Cecil Rhodes, businessman (1853 - 1902)
- Albertina Sisulu, political activist and wife of Walter Sisulu (1919 - )
- Aggrey Klaaste, journalist and editor
- Alan Paton, author (1903 - 1988)
- Harry Oppenheimer, businessman (1908 - 2000)
- Zackie Achmat, AIDS activist
- Doctor Khumalo, soccer player
- Jan van Riebeeck, first colonial administrator (1619 - 1677)
- Bruce Fordyce, ultra-marathon runner
- Enoch Sontonga, teacher, lay-preacher and composer wrote "Nkosi Sikelel' iAfrika"
- Zola Budd, athlete (1966 - )
- ol Plaatje, journalist and political activist (1877 - 1932)
- Danie Craven, rugby player and administrator (1910 - 1994)
- Alan Boesak, cleric and politician
- Felicia Mabuza-Suttle, talk show host, public speaker and businesswoman
- Yvonne Chaka Chaka, musician
- "Baby" Jakes Matlala, boxer and junior flyweight champion
- Kaizer Motaung, founder of Kaizer Chiefs Football Club
- Basetsana Kumalo, former Miss South Africa, presenter and businesswoman
- Antjie Krog, poet, novelist and playwright
- Dullah Omar, politician
- Mandoza, musician
- Nkosazana Dlamini-Zuma, politician
- Raymond Ackerman, businessman
- Nadine Gordimer, 1991 Nobel Prize-winning author (1923 - )
- Daniel François Malan, former Prime Minister responsible for laying the groundwork for Apartheid (1874 - 1959)
- Frederik van Zyl Slabbert, politician
- James Barry Munnik Hertzog, former Prime Minister (1866 - 1942)
- Hector Pieterson, a young boy whose death has become the symbol of the Soweto uprisings of June 1976
- Sewsunker "Papwa" Sewgolum, golfer
- William Smith, TV teacher and presenter
- Pieter Willem Botha, former prime minister and state president (1916 - )
- Hugh Masekela, musician
- Bulelani Ngcuka, politician
- Jody Scheckter, Formula One world champion (1950 - )
- George Bizos, lawyer
- Mbongeni Ngema, playwright, actor, choreographer and director
- PJ Powers, musician
- Mimi Coertse, musician
- Mrs Ples, the oldest hominid skull found at Sterkfontein cave
- Abdullah Ibrahim, aka "Dollar Brand", musician
- Govan Mbeki, political activist and father of Thabo Mbeki
- Jamie Uys, Film Director (1921 - 1996)
- Jacobus Hendrik Pierneef, artist
- Athol Fugard, playwright (1932 - )
Monday, November 28, 2005
Chris skryf, "'n interessante artikel en nog wat"
http://www.woes.co.za/content.asp?contentid=359
Geniet dit.
Die weer hier by ons bly maar koud en dit sneeu baie. Omdat ons so ver in die noorde bly styg die son nie ver bo die horison uit nie. So ongeveer een en 'n halwe hand (dwars gedraai) bo die horison as jy jou arm uitsterk en dit is nou in die middel van die dag. Die son kom eers nege uur in die oggend op en gaan half vier weer onder in die middag. Vier uur is dit dan al weer pikdonker. In die middel van Desember is dit nog erger.
Ons kla nie, mis net die sonskynland van Suid Afrika ekstra baie in die winter. Ons gaan darrem oor kersfees huis toe vir twee weke. Die hele familie sien uit daarna.
Ons het nou die dag selfs kans gekry om te stem vir die lokale regering sowel as die distriks verteenwoordigers hier in Noord Jylland waar ons bly. Die interessante ding is dat jy 'n brief in die pos kry wat jou uitnooi om te gaan stem. By die stemlokaal moet jy net die brief toon wat dan in 'n groot boek afgemerk word. Geen IDs word getoon of enige iets anders nie. Almal vertrou dat dit jy is en dan ontvang jy jou twee stembriewe. Die lokale stembrief was so groot soos 'n A3 papier. Die distrik stembrief was geel en so groot soos 'n plakaat (ongeveer 1 meter x 60 sentimeter). Ons kon dit nie glo dat mens so 'n groot stembrief kan kry nie. Die stemproses is verder basies dieselfde as in Suid Afrika.
Ek en Theresa gaan die tweede week in Desember Rusland toe en dan sal ek weer oor daardie wedervaring laat weet
Friday, November 18, 2005
Kerrie-kuiery in koue Neuhausen
Ek google vir 'n maklike kerrie-resep, en sukses - die wat soek, sal vind. Die gevonde resep lyk maklik, en ek benodig net 'n paar bestandele - weereens is Marktkauf die uitkoms. Gewapen met 'n sakvol varkvleis-blokkies, muskaat-neut, appels, en dies meer, voel ek myself gereed om die taak aan te durf. Gerrit Kritzinger bemagtig ons met 'n whiskey, terwyl Johann Bauermeister homself aan 'n 'polisie-koffie' (brandewyn en Coke) help. Ek is besig om die varkvleisblokkies te verbruin, Johann B skil en kerf twee appels, en Gerrit K skil en kerf 'n klomp uie.
Soos redelik bekend in my vriendekring, is 'n resep vir my slegs 'n breë riglyn. Ek help dus die varkverbruiningsproses aan met 'n koppie of so brandewyn - met Johann B se aansporing. Die resep beveel 'n bees-ekstrak aan, maar 'n pakkie bees-en-chilli sop moet maar instaan. Die sopmengsel word gebruik om die meel, muskaatneut, geelsout (die resep sê witsout), twee lepels goeie warm kerrie-poeier, en 'n ietwat meer swartpeper as wat aanbeveel is, te meng. Dit word saam met die vleis gevoeg. Daarby 'n bietjie müesli (my innovasie), 'n lepel appelkooskonfyt (my innovasie), 'n lepel grondboontjiebotter (my innovasie), genoeg knoffelvlokkies (my innovasie), en 'n lepel heuning (ek het nie bruinsuiker nie), gevoeg. 'n Blik Italiaanse tamaties en 'n handvol rosyntjies voltooi die proses.
So vir bietjie meer as 'n uur prut hierdie poging op lae hitte op die stoof - Pieter Pieterse sou gesê het 'simmerreer...'
Die tafel word gedek, 'n paar blikke mielies en 'n bottel beetslaai gebeur, lekker Duitse broodrolletjies op die tafel, 'n bottel Italiaanse rooiwyn raak deel van die pret, en na 'n ruk probeer ek 'n klomp pasta in die drukkoker gaarkry. Soos altyd spuit meer kokende water as stoom uit, en bemors die hele stoof en muur. (Pasta is nodig omdat ek net nie die rys reg gekook kan kry nie...)
Johann B speel Steve Hofmeyer se Neil Diamond CD, en toe nog 'n keer. Die kerrie-poging is 'n reuse sukses, en 'n bottel Chiliaanse rooiwyn kom en gaan, en later ook 'n bottel Franse rooiwyn. Maar nou ja...
Edith berei die nagereg ('chocholate mouse' en naartjies) voor, en ons kuier 'n hond uit 'n bos uit.
Oplaas spring die gaste in met 'n verwoeste poging om die kombuis te red, en uiteindelik raak dit stil in die woonstel. Ek was toe maar die potte en bakke nadat die bietjie oorskiet in my geliefde margarien-bakkies in die yskas gebêre is, en ek raak rustig.
Maar niemand het gesê dit is maklik nie...
Die resep, vir die wat belang stel :
PORK CURRY HOT POT
2 lbs. lean boneless pork, cut into 1" cubes
2 tbsp. shortening
1 1/2 c. sliced onion
2 c. peeled, chopped apples
3 tbsp. flour
1 tsp. salt
1 or 2 tsp. curry powder (hopeloos te min ; volgende keer is dit 3 of vier lepels...)
1/4 tsp. pepper
1/4 tsp. nutmeg
1 (10 1/2 oz.) can beef broth
1 (1 lb.) can tomatoes
1/3 c. raisins
2 tbsp. brown sugar
Brown pork cubes in hot shortening in large skillet (onthou die koppie brandewyn ook...)
Add onion and apple; cook until onions are tender (net so...)
Blend in flour, curry powder, salt, pepper and nutmeg (sommer die knoffel hierby....)Add beef broth, tomatoes, raisins and brown sugar ('n bietjie chilli's by sal dit beter maak...)
Cover and simmer until meat is tender, about 1 1/2 hours (ten minste...)
Serve over fluffy rice (dit is te sê, as jy rys kan kook - anders pasta...)
Serves 6 (Dit is nie waar nie - dalk genoeg vir 4 mense...)
Tuesday, November 08, 2005
Laat herfs en aardbewingslyding
Maar dit is nie nou nie...nog nie. Nou oorleef jy maar net.
Die gewone dag-tot-dag dinge neem nou 'n ander dimensie aan. Ek kan nie meer saans skoen-loos en hemploos ronddwaal in die woonstel nie. Die donkerte trou met die koue en saam voer dit oorlog teen jou. In die agtergrond lewe-raas CNN, en selfs daar is min goeie nuus. Nee, in die laaste klomp dae nog geen goeie nuus gesien of gehoor nie. Die desperate situasie in die Himalayas in Pakistan na die onlangse aardbewings ruk-skud mens se hart. Hoe verstaan die seuntjie met die groot oë dat sy vingertjies ge-amputeer moes word, die soel-gesiggie dogterjie dat haar linkerbeen afgesit moes word. Die meisie in die tent-hospitaal wat nie weet wie of waar sy is nie, en niemand ken haar nie, en niemand besoek haar nie. Die kleuter-dogtertjie wat haar arm verloor het. Hierdie amper-mensies wat alles verloor het nog voordat hulle iets gehad het. Nie 'n huis nie, nie 'n lewe nie, nie iemand wat vir hulle lief is nie.
En ek kla oor die effense koue en donkerte in my woonstel en op pad werk toe. Ek mor en kla oor die klere nie droog word in die woonstel nie. Ek het 'n woonstel, ek het 'n kar, ek het 'n werk. Ek het warmte. Ek het mense wat vir my lief is.
Volgende week sal die seuntjie en dogtertjie nie meer op CNN wees nie. Iets anders sal die nuus van die dag wees. Maar die seuntjie sal nog steeds vingerloos wees. Die dogtertjie sal miskien probeer loop met krukke, as sy besonder gelukkig is om krukke te kry. Hulle sal waarskynlik bitter koud kry. Hulle sal waarskynlik honger wees. Of dood wees.
Friday, November 04, 2005
Hannelie se "Skip van Drome"
Elke jaar gaan Kersfees gepaard met baie besluite. Waar gaan ons wees, wat gaan ons eet en wie gaan wat kry? Met "Jingle Bells" in jou ore breek die frustrasie van nog 'n jaar se kersfees-inkopies aan. Jy en jou vrou is al klaar kwaad vir mekaar nog voor die eerste geskenk gekoop is.
As jy soos ek sukkel met geskenke, lees hierdie verhaal en gee dit vir iemand weg voor dit te laat is!
Waarheen is jou skip van drome oppad?
Sy het bekend gestaan as die "Skip van Drome". Sy was agt honderd en negentig voet lank. Veertien duisend mense het aan haar gebou. Die anker het vyftien en half ton geweeg en is deur twintig perde van die fabriek af tot by die skip getrek. Die binnekant van hierdie skip het tien maande geneem om te voltooi, altesaam 'n paar mijoen ure se werk aan Louis Quinze, Klassieke Versailles en Victoriaanse versierings, Crown Berger skilderye, Franse kaffees en Turkse baddens om maar net 'n paar op te noem.
Sy is ook genoem "die onsinkbare skip", en in 'n koerant van 1912 word berig dat selfs God haar nie kan sink nie.
Maar op Sondagaand 12 April 1912 sink die Titanic binne twee ure en neem 1,500 lewens saam na haar watergraf.
Tydens hierdie twee ure het interessante verhale afgespeel. Daar was te min reddingsbote. Die rykes en vernames het gesorg dat hulle eerste plek kry. Later het die kaptein oor sy megafoon afgekondig dat net vrouens met babatjies plek op die reddingsbote mag kry. 'n Man met 'n babatjie in sy arms het verby 'n vrou gehardloop wat nie 'n kind gehad nie. Vir haar was die afkondiging 'n doodsvonnis. Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms sit en sê: "Dit is joune...hardloop vir jou plek op die reddingsboot!"
Wat is jou grootste Kersgeskenk? Ons is almal daarvan bewus dat ons lewensvaart iewers soos die Titanic gaan sink. Ons is ook bewus daarvan dat almal nie in hierdie lewe die reddingsboot van Jesus gaan haal nie. Met Kersfees kom sit God opnuut weer sy kind in jou arms en sê: "Dit is joune... hardloop na my reddingsboot. Moenie wag tot dit te laat is nie."
Wanneer 'n skip sink word lug uitgeblaas en water ingesuig. Wag jy tot dit te laat is word jy saam ingesuig al spring jy. Die meeste mense wat hulle lewe in die Titanic ramp verloor het, het nie verdrink nie maar verkluim. Wie wil in koue water ronddobber as Jesus reeds vir jou 'n plek op sy onsinkbare reddingsboot voorberei het?
Stuur die geskenk aan ; miskien is daar iemand waaroor jy baie bekommerd is of wonder waar hulle welvaart hulle aan die einde van nog 'n jaar gebring het? Miskien sukkel jy ook soos ek om geskenke te koop en wonder wat jy vir die of daai een sal koop hierdie jaar. Ek gee jou toestemming om hierdie kersfees-reddingsverhaal aan te stuur. Stuur dit aan as 'n geskenk. Sit Jesus in die arms van mense wat oop-oë besig is om te sink.
Dit is na alles waaroor Kersfees gaan.
"Sonder Jesus is 'n vyftien en 'n half ton anker te lig en 70,000 oorvol skip te swaar".
Matt.9:13 - Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar die sondaars.
Hier is 'n interessante skakel ivm die geskiedenis van die Titanic.
Wednesday, November 02, 2005
Toe bak ek pampoenkoekies !
Maar voor die pampoenkoekies, moes die pampoen mos eers gekook word. Dehlia se groot boerpampoen was substansieel te groot om in enige van die klein kookpotjies wat ek in die woonstel het, gekook te word. Gelukkig was Annatjie nog verlede Saterdag hier by my, en ons besluit daar moet 'n pot gekoop word. Weereens is Marktkauf die oplossing. Soos met enigiets in Duitsland, is daar 'n wye keuse en verskeidenheid van potte beskikbaar. Emalje-potte, vleklose staal, groot, klein, drukkokers, met glasdeksels, dink daaraan en dit is daar. Uiteindelik besluit ek op 'n groterige (!) vleklose staalpot. Ter verdediging moet ek noem dat die ding nie so groot in die winkel gelyk het nie...
Weer terug by die woonstel, is stap twee in die operasie om die pampoen te skil en in blokkies te sny. Nog 'n Rubicon-ervaring vir my - dit nog nooit in my lewe gedoen nie. Maar Annatjie is darem daar om leiding te gee en alles loop goed af.
Skielik word hierdie groot pampoen sommer klein toe ons dit in die 17-liter pot sit. Skielik lyk hierdie pot reusagtig groot in my ou eenman-woonstelletjie. Skielik lyk die pot vir my soos iets wat uit Vaalharts se koshuis-kombuis kom. (Gedagte - ek kan een keer 'n pot sop maak en die hele maand eet...)
Maar die pampoenkook-oefening is reg en goed, en dit ruik ook sommer lekker. Annatjie is vreeslik beindruk met die pot en dring daarop aan dat ek dit terug bring Suid-Afrika toe. So sal dit dan wees !
Uiteindelik eindig die gaar pampoen in tien (!) margarien-bakkies in die vrieshokkie en die yskas.
Terug na Maandag-aand. Ek kies na willekeur een van die baie resepte ontvang van EgAfrikaners, en meng en roer en doen wat gedoen moet word. Ek drup die deeg in die warm olie, en die eerste pampoenkoekies sis en druk-arm vir spasie in die olie. Ek loer vinnig weer na die resep, en kom met weemoed agter dat ek vergeet het om die suiker by die mengsel te gooi. Maar dis nou te laat. Die eerste klomp pampoenkoekies is reg en word uitgehaal op die oond se rooster om bietjie te ont-olie. Rondte twee met die deeg, maar nou gebeur dinge vinnig. Rondte drie is nog vinniger, en ek begin dink dat mens dalk die olie nie so warm moet maak nie.
Die uiteinde van die saak was dat die eerste klomp koekies mooi bruin-goud was, die tweede klomp minder goud was, die derde geslag meer bruin-swart was, en die vierde geslag nie meer bruin was nie. Gelukkig het ek vir niemand pampoenkoekies belowe nie, maar ek het vandag nog pampoenkoekies ingepak vir middag-ete.
Volgende keer se pampoenkoekiebak sal langer vat, en die olie sal nie weer kletter en kraak in die pan nie.
Miskien verstaan ek nou wat word bedoel met matige hitte...
Groetnis !
Sunday, October 30, 2005
Ons besoek aan Nederland
Daarvandaan het ek en Annatjie in die rigting van Amsterdam gery, en uiteindelik in Hilversum ge-eindig. Ek onthou dat Riaan Cruywagen baie jare terug hier in Hilversum gebaseer was en met Radio Suid-Afrika van hier uitgesaai het. Hy het altyd interessante dinge te vertel gehad oor die Hollandse lewensstyl en feeste, en nooit gedink dat ek ooit self my voete in Hilversum sou sit nie.
Blyplek in Nederland was nogal 'n storie. Alhoewel ek gewoonlik huiswerk doen oor die areas waar ek besoek wil aflê, maak ek selde vaste besprekings vooraf, omdat ek so onafhanklik as moontlik wil wees as ek rondry. Nou ja, as jy wil gebruik maak van bed-en-ontbyt-fasiliteite in Nederland, is so 'n strategie nie 'n goeie opsie nie. Met my lys van moontlike blyplekke en die navigasiestelsel in my motor, klop ek aan by byna elkeen, maar dit is duidelik dat mens by hierdie B-en-B's vooraf moet bespreek. In die meeste gevalle word slaapplek by gewone huisgesinne voorsien, en jy kry 'n kamer, maar deel gewoonlik die badkamerfasiliteite met die familie. Sonder 'n vooraf-bespreking word ons toe weggewys by al die plekke, en moet ons toe uiteindelik slaapplek in hotelle opsoek - uiteraard 'n duurder opsie, maar is darem verseker beter as om agter in die stasiewa te probeer slaap (!).
Interessant ook is dat baie restaurante en eetplekke Maandag as 'n 'rusdag' beskou en glad nie oop is vir besigheid nie. Baie ander plekke wat wel oop is, maak toe tussen middag-ete en laat-middag voor aandete. Ek weet nou wel nie of dit oral so is nie, maar in die plattelandse omgewing waar ons Maandag-middag en Dinsdag-middag was, was dit ons ervaring.
Ons besoek in Amsterdam by 'n vlooimark eindig ook effens duurder as beplan, met komplimente van die verkeersdepartement van die stad. Omdat ek 'onwettig' parkeer, word ek deur middel van 'n blou kennisgewing op my ruit by die terugkomslag ingelig dat die voorreg om daar te staan my 'n pynlike boete van EURO 45,00 op die hals gehaal het.
Alles in ag genome, het ons Nederland geniet. Ek sal graag weer in die toekoms daarheen wil gaan, en bietjie langer kuier, om meer te sien en besoek en te ervaar. Die amper-drie dae was net nie lank genoeg nie.
Op pad terug Duitsland toe stop ons toe in Cologne (Köln) om die beroemde Katedraal te besigtig. Hierdie is een van die mees indrukwekkendste katedrale wat ek nog gesien het. Dit is ook die toeriste-aantreklikheid was dit meeste in Duitsland besoek word. Gaan kyk gerus by die skakels vir meer inligting.
Friday, October 14, 2005
Waar kom die potjie vandaan ?
Susan skryf, waar kom die potjie vandaan? Van die Voortrekkers? Ek moet erken ek het ook so gedink en tot my verbasing is dit NEE.
Die ontstaan van die HUTSPOT of potjie gaan so ver terug as 1573.
Op 15 Oktober 1573 het die Spanjaarde die Nederlandse stad Leiden beleër. Maar die Nederlanders was nie bekommerd gewees nie want hulle het genoeg kos in die stad gehad. Op 21 Maart 1574 los die Spanjaarde Leiden soos 'n warm patat en die mense daar was verheug.
Maar ewe skielik op die 25 Mei 1574 beleër die Spanjaarde weer Leiden. Dit is net hier waar die moeilikheid begin het. Die mense het nog nie tyd gehad om kos bymekaar te maak nie en niemand kon in of uit die stad gaan nie en nodeloos om te sê die kos was maar skraps.
Gelukkig het die mense begin om gemeenskapsetes te maak waar almal maar stukkies kos aangedra het van dit wat hulle gehad het, al hierdie vlentertjies en skraapsels is in een Hutspot gegooi en gekook en so het hulle maar elke dag saam ge-eet.
Daar is verder minder bekend oor die hutspot en hoe hy begin het om deur Europa te trek. Elke jaar word die hutspot gemaak op die dag wanneer die beleg van Leiden beëindig is en die mense het natuurlik nie net op die dag die hutspot laat kook nie. Van Nederland het die hutspot België, Frankryk en Engeland besoek.
Op 6 April 1652 het Jan van Riebeek natuurlik ook so 'n paar hutspotte aan boord van sy skepe gehad, en as jy daaraan dink was die hutspotte net die regte ding gewees om mee te kook in so 'n wilde en ongerepte land.
Maar dit is nie al manier waarop die potte hier in die Suiderpunt van Afrika geland het nie. Die ondekkersreisigers het die swart potte by hulle gehad om hulle kos te maak en toe is die potte geruil vir gunste en gawes by die plaaslike bevolking.
Die plaaslike bevolking het gou gesien dat die swart ysterpotte baie beter kook en hanteer as die gewone kleipotte wat hulle gebruik het. Die potjie vol pap het so toe sy plek by die swart bevolking gekry en met hulle migrasie af na die suidpunt toehet die pot natuurlik ook saamgetrek.
In Kaapstad in die vroeë jare het die pot behoorlik gekook. Eers het die mense net kos daarin gaargemaak en toe kom hulle agter dat hulle die potjie ook as oond gebruik en stukke vleis daarin gaargemaak, maar die einde was dit niet, want hulle het ook agtergekom dat mens ook brood in die potjie kan bak. Met al die skepe wat die Kaap die Goede Hoop besoek het met hulle vreemde speserye en geure het die potjie ook begin om meer geurig en smaaklik te raak.
Hierdie drie in een pot was 'n natuurlike keuse toe die Voortrekkers die laaang pad moes aandurf noorde toe. Die voordeel van die potte is dat jy nie vreeslik baie nodig het om hom aan die gang te kry nie, 'n kein vuurtjie en 'n paar stukke hout en siedaar kook hy, as mens die potjie stadig kook kan taai stukke vleis lekker smaaklik sag gekook word en die Voortrekkers kon die volgende dag na die vorige aand se lekker ete die potjie optel en aan die wa haak en daar gaan hulle oor die ruwe vlaktes.
Hier in die Sewentiger jare het ons moderne wesens weereens die potjie in al sy glorie herontdek en die totale kook proses verfyn in 'n kuns. Mense het toe agtergekom dat as jy potjie maak dat daar 'n hele paar uur se ekstra lekker kuier bygevoeg word, so is baie potjiekos-kompetisies is gehou en so is daar ook 'n Potjiegilde in Pretoria gestig.
Die potjie se grootte word bepaal deur die hoeveelheid water wat die kan neem ; 'n nommer 1 pot neem 2 Quarts water en 'n nommer 3 pot 8 Quart water.
Deesdae is omtrent elke mens 'n potjiekos kenner en elkeen het sy gunsteling manier en gereg wat hy as sy eie beskou.
Ons moet beslis die Spanjaarde bedank vir die beleg van Leiden as dit nie daarvoor was nie sou ons kultuur baie armer gewees het.
So haal daardie potjie uit die kas, nooi 'n paar vriende uit, en KOOK DAAI POT.
Baie dankie Susan, hierdie is regtig interessant. Ek kan bevestig dat die potjie selfs in vandag se dae nie onbekend is in Nederland nie. Ek was onlangs in Amsterdam, en in die sitkamer op die lughawe sien ek 'n advertensie vir 'n swart potjie in die koerant. Ek kan nie onthou wat die prys was nie, maar ek onthou wel dat dit heelwat duurder was as wat ons daarvoor betaal in Suid-Afrika. Heelwat duurder !
Gaan lees ook gerus meer oor die Tagtigjarige Oorlog - klikdruk hier, hier en hier.
Saam met Susan se storie het sy ook 'n hele klomp potjiekos-resepte (23 in totaal) vir my gestuur. As iemand dit wil hê, vra gerus hier op die BLOG, dan stuur ek dit aan. Ek is seker Susan sal nie omgee om dit verder te deel nie.
Thursday, October 13, 2005
Pampoenkoekies en Soete Herinneringe
Pampoene - pampoene orals ! Net waar ek gaan, sien ek pampoene (Duits : Der Kürbis) te koop. Langs die pad. Supermarkte. Plaasstalletjies. Vat 'n pampoen of twee en gooi die geld in die boks. Regte, egte pampoene te koop.
Die gedagtes loop vêr paaie. My Ma het in die swaar en moeilike tye van die 60's en 70's, en later in die effens makliker tye, gereeld vir Pa en haar span seuns, wat gegroei het van my as eersgeborene totdat ons uiteindelik sewe seuns was, pampoenkoekies gemaak. Dit was die lekkerste lekker. Druipsoet-lekker pampoenkoekies, ge-eet tot jy wil omval. Daardie dae was lekker en het mooi herinneringe gelos.
Terug by die vandag en nou. Klompie dae gelede besluit ek dat ek hier in die vreemde gaan probeer om vir my pampoenkoekies te bak. As dit werk, goed ; as dit nie werk nie, sal ek dit maar stilletjies opeet en vir niemand daarvan vertel nie. Maar ek het nie 'n resep nie. Gelukkig is Danie en EgAfrikaans daar, en ek pleeg my versoek laataand op Hulpnavrae. Sal maar sien wat gebeur.
Dit is toe asof ek die sluise van die Vaaldam ooptrek. Van heinde en verre - van Pretoria, Sishen, Shelley Beach in KZN, Kaapstad, en ook uit België, en ander onge-identifiseerde plekke - word my vonkposbus oorval met resepte vir pampoenkoekies, en ander maklike en lekker-klinkende resepte, goeie raad, en beste wense. Ongelooflik - ek kry sommer 'n lekker warm gevoel om my hart. Dis mos my mense hierdie !
Ek het die volgende boodskap aan al die mense gestuur wie vir my 'n resep gestuur het, en publiseer dit ook met graagte hier op die Kuiergat.
Dit is en bly maar altyd 'n voorreg om te sien hoe omgee-hulpvaardig onse ou Afrikaner-volkie is. My navraag het skaars op die Helpmyblad van EGAFRIKAANS en die hulpnavrae flitspos verskyn, toe kry ek van julle almal resepte. Ek kan nie belowe om al die resepte te probeer nie en terugvoer te gee nie - as ek so baie pampoenkoekies gaan eet, lyk ek dalk later soos en word ek dalk 'n pampoen - maar probeer, gaan ek verseker ! Dit is ook baie interessant om die verskillende variasies van resepte te sien - ek het nooit geweet 'n mens kan 'n nederige ding soos 'n pampoenkoekie op soveel maniere maak nie. Eric van der Mescht het selfs 'n resep gestuur wat mens in die oond maak. Lorraine Hatton het sommer vir my 'n resepteboek met 'n hele klomp maklike resepte daarin gestuur. Ek het selfs vanuit België, van Ansie Peeters, 'n resep uit die Rooi Rose gekry. Baie dankie !
Sodra ek suksesvol is met my pampoenkoekie-bak-pogings, sal ek dit aan my Duitse kollegas ook voorstel. Dit sal 'n verbetering vir die algemene Duitse kosmaak wees :-(
Verskeie mense het ook ander resepte saam gestuur, en van Cecilia Strauss vanuit KZN het ek selfs 'n storie oor 'n wêreld-kampioen-pampoen gekry - klikdruk gerus vir die storie.
Vreeslik baie dankie aan julle almal. Dankie ook vir vele mooi wense en boodskappe in julle flitspos-skrywes aan my in die verband. Danie, baie dankie dat jy ook my versoek geplaas het.
Vir die wat belangstel, ek het ook 'n persoonlike BLOG, waar ek redelik gereeld my ervarings hier in Duitsland neerpen, asook van die fotos wat ek so van tyd tot tyd neem plaas. In beide pogings (skryf en fotografie) is ek 'n amateur, maar dit kom uit my hart uit. Kuier en gesels gerus saam. Afrikaners is mos plesierig !
Danie weet te vertel dat ek maar gerus 'n knertsie Amarula Likeur oor die pampoenkoekie moet gooi - volgens hom sal ek dit nooit weer anders wil eet nie. Gelukkig is Amarula hier in Duitsland geredelik beskikbaar - ongelukkig teen 'n prys !
Nou met ek nog net pampoen gaan koop, en pampoenkoekies bak. Sodra ek sukses gehad het - of nie - sal ek die storie hier vertel. Soos hulle sê, hou hierdie spasie dop. Dinge kan dalk interessant raak...
Die pampoenkoekies-dankie-sê-lys :
- Will Beckmann (hotrite) - Dr. Louis Leipoldt se resep
- Elsabe Botha - Pampoenkoekies met Karamelsous en Warm Aartappelslaai
- Eric van der Mescht en Ilise Koegelenberg - Pampoenkoekies gebak in die oond
- Liza Hamman(Coetzee) - Heerlike Pampoenpoffertjies
- Elize du Plessis - Pampoenkoekies en Pampoentert
- Ansie Peeters - Rooi Rose se pampoenkoekies
- Susan van Rooyen - Ma se Pampoentert en Pampoen Poffertjies
- Stof - Verwysing na Peter Thomas se tuisblad
- Nic Schoonwinkel - Pampoenkoekies
- Cecilia Strauss - Pampoenpoffertjies
- Veronica Strydom - Pampoenkoekies in stroop
- Yvonne Hartzer - Pampoenkoekies (1923)
- Lorraine Hatton - 'n Hele klomp lekkerklink-maklikbak resepte
- Cathy de Klerk - Pampoenkoekies
- Annamarie (Muntra CC) - Pampoenkoekies
- Nonnie Erasmus - Pampoenpoffertjies in stroop
- Deon Viljoen - Pampoenkoekies, Wes-Indiese Pampoenbredie, Pampoen en Hoenderkerrie, Pampoenbroodtjie
- Gerda Kotze - Pampoenkoekies
- Annelie Mans - Pampoenpoffertjies in stroop
- Linda Gazendam - Pampoenkoekies
- Madelein van der Merwe - Tannie se pampoenkoekieresep
- Susan (Venden Boerdery) - Pampoenkoekieresep
- Lenie Fourie - Pampoenpoffertjies in stroop
- Melanie Bushney - Pampoenkoekies
- Annetjie Smith (CWTS) - Pampoenkoekies
- Susan Varnfield - 'n Hele klomp resepte en geskiedenis van die beroemde potjiekos
- Maudine Frankhauser - soek ook resepte
- Marlies Vos - Pampoenkoekies
- Zelda Lamont - Pampoenkoekies
- Dehlia Korten - Resepteboek
- Anna-Marie Krause - Pampoenkoekies
Monday, October 10, 2005
Verkopersvertroue in Duitsland
Op pad na 'n middag-ete afspraak in Weinstadt besluit ek, die gawe seun wat ek is, om vir my gasvrou blomme te koop (Ek het darem vir die gasheer ook 'n goeie bottel Suid-Afrikaanse Pinotage saamgevat). Op pad tussen die plase deur kom ek af op 'n padstalletjie met verskeie bosse blomme te koop - 'n keur van verskillende soorte teen billike pryse word aangebied. Daar is 'n geldboks in die stalletjie, met 'n aanduiding van 'hoe maak mens'. Geen probleem, kies die blomme wat jy graag wil hê, en gooi die nodige geld in die geldboks. Jy word selfs uitgenooi om as jy te min geld het vir wat jy wil hê, jy maar die tekort by 'n volgende aankoop kan aanvul.
Neem kennis dat daar nie 'n siel naby is om te sien of jy hulle nie verneuk nie. Daar word absoluut en uiteraard op jou integriteit en eerlikheid staatgemaak.
Later die middag, na ete, gaan loop ons deur die wingerde en vrugteboorde. Weereens kom ons op 'n klein stalletjie af, waar vars-gebottelde appelsap te koop aangebied word. Alhoewel dit duidelik is dat baie bottels al verkoop is, is daar nog steeds 'n paar te koop. Weereens nie 'n siel naby nie, maar as jy 'n bottel wil koop, word van jou verwag om een Euro per bottel in die geldkissie te gooi en te vat wat jy gekoop het. Vir enige toekomstige besoekers aan hierdie area, maak seker dat jy so bottel of twee in die hande kry. Dit proe heeltemal anders as die gewone winkel-appelsap.
Gedurende ons wandeling het ons op 'n paar soortgelyke stalletjies afgekom, onder andere ook waar verskeie groentes per bondel lê en wag om gekoop te word.
Die ander interessantheid is dat daar baie wandel-paadjies deur die wingerde is. Jy loop letterlik deur die wingerd waar trosse en trosse ryp druiwe hang, nou net reg om ge-oes te word. Letterlik dosyne wandelgangers loop, maar niemand maak misbruik deur van die druiwe te pluk nie. Dit word net nie gedoen nie ! As jy wil druiwe hê, gaan koop jy dit in die winkel of miskien by 'n vars vrugte stalletjie.
Daar is ook geen heinings of hekke tussen die wingerde, en tussen die plaas-grense van verskillende boere nie se wingerde nie. Hier en daar dui 'n doelgemaakte verfmerk op 'n wingerdpaal die begin van 'n ander boer se wingerd aan.
Vriende, dit is heeltemal 'n ander 'vryheid' en respek vir ander se goed as waaraan ons gewoond is.
Gaan kyk ook gerus in my foto album onder gister se datum vir 'n paar besondere fotos van die wingerde, herfsprag en omgewing.
Friday, October 07, 2005
Cannstadt se Volksfest 2005
Dit was nou my voorreg om hierdie fees vir die derde keer by te woon. Die vorige besoek verlede jaar (2004), en voor dit in 1992. Ek kan dus 'n paar opmerkings maak daaroor.
'n Groot verskil hierdie jaar in vergelyking met verlede jaar is dat daar 'n groter en sigbare polisie-teenwoordigheid is. Ek het nou wel nêrens gesien dat besoekers enigsins deursoek word of so iets nie, maar binne in die terrein, asook by die verskillende treinstasies was daar baie polisie-beamptes op diens. Dit is sekerlik 'n uitvloeisel van die onlange terreur wêreld-wyd - dink maar aan Bali, Londen, die huidige bekommernis en vrees in New York, ensovoorts.
Nie dat dit enigsins die entoesiasme van die feesgangers gedemp het nie !
Die manne en meisies sing en dans op die tafels en drink en eet vir 'n vale. Amerikaanse pop, rock en country-musiek weergalm. Moenie dink daar word regtig baie Duitse Oompah gespeel by hierdie geleenthede nie. Dit gebeur wel, maar per uitsondering.
Baie van die feesgangers (mans en dames) dra hulle tradisionele Duitse klere, wat die fees lekker kleurvol maak en aan dit sy eie identiteit gee. Gaan kyk gerus op die feeswerf waar hulle 'n fotoalbum het. Baie van die goed wat ek in hierdie bydrae noem kan daar gesien word.
Iets interessant wat ek gisteraand opgemerk het, is die sogenaamde 'Booze Patrol'. Dit is jong meisies wat rondloop in die biertente met 'n blaas-pypie (ja, daardie een wat die verkeerskonstabel ook gebruik). Jy betaal haar om te blaas, en te sien of jy nog bietjie kan drink of nie. Nou nie dat ek veel mense gesien het wat van hierdie diens gebruik maak nie.
So iets oor die te ete en te drinke. Daar word 'n spesiale bier gebrou vir hierdie fees - die sogenaamde 'Stuttgarter Hofbräu Volksfestbier', wat jy dan per liter (Maß) koop. Dit is ook werklik so dat die meeste kelners tien biere op een slag kan dra, wat in my opinie nogal 'n prestasie is. So 'n een liter kos € 7,20, wat in Suid-Afrikaanse Rand-terme amperR 60 is. Uiteraard word daar baie varkvleis en hoender ge-eet ; 'n 'Junge Schweinshaxe vom Grill mit Brötchen' (iets soos 'n eisbein - maar gebraai ; tipies word 'n eisbein hier in Duitsland gekook) kos so vanaf € 7,50 - duurder per werklike gewig. Dan kry jy net die eisbein en 'n broodrolletjie - as jy enigiets anders by wil hê moet dit ekstra aangekoop word.
Buite die biertente is 'n kakafonie van klank, reuk, geur en lig - en besoekers by die duisende! Vermaak van alle vorme word aangebied. Tradisionele eetgoed word te koop aangebied, speletjies te kies en keur, en 'n eiesoortige vlooimark om jou kooplus te bevredig.
Maar dit bly 'n ervaring en 'n voorreg om so iets by te woon.
Tuesday, October 04, 2005
Anton se Gebedsversoek
GEBEDSAKSIE (DIT SAL JOU NET 10 SEKONDES NEEM)
Kom ons begin met 'n INTERNET gebedsaksie. Ons doen dit soos volg: Wanneer jy hierdie lees, dan bid jy sommer daar waar jy nou sit. Verwys dan ook ander vriende na hierdie bladsy.
BID SAAM
- Hemelse Vader ons bid vir berou en bekering.
- Vader ons bid vir vergifnis van ons sonde.
- Ons bid dat U die mense in Suid-Afrika genadig sal wees en sal seën.
- Ons DANK U vir reën wat reeds geval het en bid dat U genoeg reën sal stuur na plekke wat smag daarna.
- Ook dat U alle onskuldige Suid-Afrikaners sal beskerm teen al die geweld.
- En dat daar 'n positiewe verandering in Suid-Afrika sal plaasvind.
- Ons bid dit in die Naam van JESUS. Amen.
VERSOEK: BID SAAM
Wat is dit dan met hierdie 'BLOG'-storie ?
Volgens een bron (Technorati) word daar 'n nuwe BLOG elke sekonde geskep - wat beteken dat ongeveer 31 miljoen nuwe BLOGs hierdie jaar sal verskyn. Hoe dit ook al sy, dit is 'n geweldige aantal, en 'n interessante verskynsel.
'n Soektog op die gerekende navorsingsmaatskappy GARTNER se amptelike webwerf vir die woorde 'blog, blogs' en 'weblogs' gee verwysings na 'n hele klomp navorsingsstukke.
GOOGLE die woord 'blog' en jy word oordonder met ongeveer 386,000,000 raakskote - en dit alles in 0.15 sekondes !
So - 'blogging' is amptelik !
Maar wat is 'n goeie en lekker tongrol Afrikaanse woord vir 'blog' en 'blogging' ?
Monday, October 03, 2005
Hannelie reageer
Kom ek begin by die begin. Johann, jy het ‘n mondvol goet hieronder gesê. Waar begin ek? Miskien gaan ek nie spesifiek oor iets gesels nie, maar net (soos jy) my gedagtes weergee soos wat dit by my opkom terwyl ek aandagtig die onderstaande e-pos lees. Niks wat jy gese het is vreemd vir die mense van Suid-Afrika nie. In my stryd om iewers ‘n aanknopingspunt te vind om hierdie e-pos te begin dink ek aan alles wat ek kan kritiseer en oor kla.
Toe ek begin werk het by Decision Health (voordat ons naam verander het) is ek die wonderlike werk van bemarkingskoordineer gegee. Lekker, het ek gedink. ‘n Splinternuwe uitdaging. Min het ek geweet wat op my wag. Min het ek geweet dat een van my grootste verantwoordelikhede gaan wees om ‘n voorbeeld te wees vir Stanley, Busi, Eunice, Innocent, Ilze, Nadia, Sunnyboy. Min het ek geweet dat wanneer jy wil medies verkoop aan iemand, jy nie die bestuur soseer oorreed nie, maar die massas. En min het ek geweet dat die enigste manier om ‘n bloukraag werker wat nie geletterd is nie, en wat se enigste hoop op oorlewing sy werk op die myn in Machadodorp is. En daar sit ek toe, nie die eerste keer nie (en daarna vir 3 jaar nie die laaste keer nie), 03:00 in die oggend, ‘n wit vrou, in ‘n “Hostel” en ek en Stanley moet hierdie nuwe medies verduidelik aan ‘n ou madala wat nou van skof af kom en glad nie lus is, oor die algemeen, om enigiets te doen kry met ‘n wit mens, veral nie ‘n wit vrou nie.
En daar is dit toe weer: daardie saggies klop aan my hart: en Jesus sê vir my: “Kyk na hierdie man. Het ek nie gesê dat dit is presies waar ek gaan wees nie? Hy is die rede hoekom jy vandag met sekerheid kan sê jy is verlos. Ek het gesterf vir hom. Hoekom dink jy enigsins dat jy beter is as hy? Ek is lief vir julle altwee.”
Ek huil die hele pad terug Pretoria toe. Arme Stanley gee net tissues aan.
Hoe laat mens toe dat jou hart verhard? Is dit omdat jy elke dag lees van plaasmoorde en daarom maak ons gevolgtrekkings oor alle persone wat in daardie “ras kategorie” val? Ek kom by die huis en sien my wonderlike man, my pragtige huis, my oulike hond. Ek maak my koskaste oop en dink aan daardie man met sy “take-home pay” van R45.00. Hoe oorleef iemand met R45? Ek betaal vir ‘n sakkie aartappels R45.
Daardie oggend sal my altyd by-bly. Dit kom klop saggies aan my hart as ek graag iets wil koop vir myself maar besef ek sal eers moet wag tot volgende maand. Dit klop aan my hart wanneer ek knus tussen my lakens inkruip, magie vol kos, nou-net lekker gebad, en ek onthou ek hoef nie nou te gaan werk vir R45.00 nie. Dit kom klop aan my hart as Ferdi en Sune en die kinders by ons kom eet, en ons slaan vetkoek en mince aanmekaar en ons lag en kuier. Dit kom klop aan my hart elke keer as ek genoeg kleingeld in my beursie het om brood te gaan koop.
Verskoon tog as ek soos ‘n Mills & Boon boek klink, maar ons beskou ons daaglikse bestaan as vanselfsprekend en, soos die ou mense sal sê, ons kla met die wit brood onder die arm. Ek dink aan my ma en pa wat verlede week en Sondag by ons kom kuier en hulle kla oor die stygende lewenskoste. Ja dit is erg. My keel trek toe elke keer as ek R45 moet betaal vir ‘n sakkie aartappels of as Dewald ‘n skrikwekkende bedrag noem as hy diesel ingegooi het. Maar Jesus kom klop en sê: “Ek sal vir jou alles gee wat jy nodig het.”
Ek dink vandag aan ons vriende Jan & Christelle wat letterlik alles, ALLES, verloor het. Hulle huis, hulle motor. Hulle is gestroop van alle selfrespek, en al wat hulle oorgehou het, was hulle geloof in God. En stelselmatig het Hy alles vir hulle kom teruggee. Ek het gesien hoe hulle moet bly by ander mense, van geleenthede moet gebruik maak vir vervoer, hoe dit hulle as amper 5 jaar vat, maar hulle het amper al hulle skuld af betaal. En deur al die swaar, het hulle nie 1 keer gekla nie. Hulle was slegs dankbaar en het aanhou bly om die regte ding te doen.
Ek vat daardie seer en swaar en ek maak dit my eie. Ek huil (weer!!!) en wonder hoe ek En nou stap ek deur niemand se huis meer en kritiseer nie. Want hulle het ‘n huis. Ek se dankie elke oggend as ek in my kar klim en kan werk toe ry, al is pay-day nog bietjie ver en my petrol liggie gaan al amper aan, want ek het ‘n kar, en ek het petrol. Ek se dankie vir elke klein geskenkie, elke klein nederige en uit-die-hart gebaar van liefde, want dit beteken iemand gee om en wil graag help. Ek sê dankie as my ma vir my ‘n ekstra sakkie tamaties gee, want dit beteken ek het tamaties. Dit is baie meer as die man wat R45.00 huis toe vat.
Hoe is dit dat ons slegs lewe om te kla? Hoe is dit dat ons nie meer dankbaar is vir die Weet-bix wat ons vanoggend kon eet nie? Hoe is dit moontlik dat ons slegs ingesteld is op die ongerief, die sleg van ander mense. Plaas ‘n mens die blaam op die media? Sensasie verkoop mos. Kyk nou vir al die nuusberigte oor Hurricane Katrina? En hoekom is Carte Blanche so suksesvol en gewild na soveel jare?
En wat is die goeie wat ek daaruit vat? Dit is dat ons almal op ‘n stadium deur nou-ervarings gaan. Dit “shape” jou menswees, gee jou waardes en beginsels, hervorm of bevestig jou geloofstelsel en dit word vervang weer na ‘n paar jaar met toe-ervarings. Die geheim is om nooit op te hou om die nou-ervarings raak tesien, jou eie te maak sodat dit later toe-ervarings vir jou kan word nie.
Ek groet jou. Soos jy kan sien, het ek probeer om ietsie uit my hart te deel – ek weet nie hoe om hierdie boodskap op jou internet wasemetjiese te plaas nie – ek is seker jy het my al verduidelik en ek het weer nie gelees nie/verstaan nie/wil nie verstaan nie/gaan ook nie verstaan nie!
Sunday, October 02, 2005
eBay en onverwagse Duitse Gasvryheid !
Ek het nou al 'n rukkie hierdie spesifieke boek op aanbod in die oog - die bekende 'The Exorcist' van William Peter Blatty. Het die film al 'n klompie jare terug gesien, maar volgens verskeie bronne is die boek in sekere opsigte beter en met meer diepte. Nou ja, onlangs vind ek die boek op veiling in eBay, en maak maar 'n minimale bod - van een Euro. Ek was al meer as een keer gelukkig om goeie boeke so te kry - gelukkig is daar nie 'n baie groot Engelse leserskring en kopersmark op die Duitse eBay nie - tot my voordeel. Ek vergeet toe van hierdie bod, totdat eBay my in kennis stel dat ek die gelukkige 'wenner' is - in hulle woorde, 'Herzlichen Glückwunsch, der Artikel gehört Ihnen. Bitte nehmen Sie Ihre Zahlung jetzt vor!', of overgesetzynde, 'baie geluk, die item behoort aan jou. Maak asseblief gou om te betaal...!', of so iets.
Ek kom toe agter die verkoper se adres is naby my blyplek - so 40 kilometers volgens die INTERNET-navigasiestelsel, en per flitspos kontak ek die verkoper met die versoek of ek eerder die boek kan kom haal, as wat dit na my toe gepos word. Eerstens spaar ek bietjie posgeld, en tweedens sal dit verseker dat ek dit kry ; ongelukkig raak goed ook weg met die Duitse Posdiens - glo dit as julle wil! Derdens is dit vir my lekker om uit te ry en plekke te sien waar ek nog nie was nie. Die verkoper stem toe in dat ek dit wel kan kom haal, en ons bevestig een of ander tyd vanmiddag (Sondag, 2 Oktober 2005).
Laatmiddag besluit ek dit is nou 'n goeie en beskaafde tyd om te ry, en beduie aan Mevr. Rottenmeier (die BMW se navigasie-stelsel, vir die wat nie weet nie...) wat die adres is.
Ter agtergrond - die stereotipe Duitser is mos veronderstel om onvriendelik, nors, kortaf, en so aan te wees.
Ek moet dit darem op rekord stel dat dit in baie gevalle uiters onwaar en onregverdig is om so te dink.
Na so veertig minute se ry deur 'n pragtige plaaslandskap, onder andere ook deur 'n besonder mooi woud getooi in die groen-geel-goud-rooi-bruin blareprag van vroeg-herfs, beduie Mevr. Rottenmeier ewe vriendelik 'You have reached the destination. The destination is to the left.'
Kom ons noem die verkoper Hannelore, en haar gade, Gustav.
Met 'n klop aan die deur en een Euro in die hand - ek het dit mos al vantevore gedoen, so ek weet wat om te verwag ; die deur sal oopgemaak word, iemand mompel-grom-gee vir jou 'your book / DVD', vat die geld, en ry. So dink ek mos nou.
Nie hierdie keer nie. Hannelore maak ook, stel haarself voor, roep vir Gustav om ook voor te stel, en dan gebeur dit. Sy nooi my in vir 'n Cappuchino ! Half ongemaklik stap ek maar saam, sommer kombuis toe. Eers gaan haal sy die boek, sodat ek kan kyk. Die Cappuchino's word gemaak, en koek word uitgehaal. En toe kuier ons. My belangstelling in lees word bespreek, en toe verdwyn Hannelore iewers heen. Kom terug met 'n pak boeke, onder andere 'Winston's War' van Michael Dobbs, 'The Flight' van C.F. Runyan, Winston Groom se 'Forrest Gump', verskeie van John Grisham, en nog vele meer.
Uiteindelik, na 'n heel lekker kuier, is ek daar weg met amper twintig goeie leesboeke, en 'n belofte om weer te kom kuier sodra Annatjie van Suid-Afrika af hier is.
O ja, hulle wil toe nie een Euro vir 'The Exorcist' hê nie, en die ander boeke is ook 'n geskenk. Hulle het dit mos klaar gelees !
Wys jou net, nie alle Duitsers is so nie... :-)
Saturday, October 01, 2005
Oktober - die mooiste maand ?
Hierdie naweek vier die Duitse volk ook die vyftienjarige herdenking van die eenwording van die ou Bundesrepubliek en die DDR. In die huidige onseker klimaat van politieke skaakmat, grootskaalse werkloosheid (vir die Duitsers - in ander lande sou die Duitse werkloosheidssyfer moontlik as positief ervaar kon word...), duur brandstofpryse, personeelafskalings, en algemene ekonomiese druk, wonder ek hoeveel Duitsers aan beide kante van die spektrum die unifikasie nog steeds as 'n wonderwerk van die laat twintigste eeu beskou...
Maar ek glo dinge sal beter word. Môre skyn die son (dalk), en Oktober word dalk nog vir ons almal 'n mooiste, mooiste maand.
ns : Die teller by die winkel (Marktkauft hier in Ostfildern) het vandag met my Engels gepraat...
Friday, September 30, 2005
Die Duitsers vier Fees !
Byna elke week, iewers in hierdie land, word feesgevier. Hierdie naweek word in my dorpie (Neuhausen auf den Fildern) hulle FleckenHerbst fees gevier. Volgende week is die die beurt van die Drachenfest. En so aan...
Wie ken nie die beroemde München se Oktoberfest nie - al word dit in September gevier. Die 'Münich Oktoberfest' - plaaslik beter bekend as die 'Wiesn' - is die grootste publieke fees in die wêreld en word in 2005 vir die 172ste keer aangebied. Jaarliks word ongeveer 6,000,000 besoekers vermaak, en hulle drink meer as 5,000,000 liter bier en eet meer as 400,000 varkworsies tydens hierdie geleentheid ('n oomblik van stilte vir die varke, asseblief...) Teen € 6,65 - € 7,10 vir een liter bier is dit seker 'n goeie kopie - maar met my Suid-Afrikaanse kop klink R 50 - R 55 vir een bier bietjie wild !
Baden-Wurttemburg, en die Stuttgart-omgewing, is bekend vir wynproduksie, en hier word sonder ophou wynfeeste vanaf laat-Augustus tot middel-September gehou. Stuttgart se bekende Weindorf is maar net een van die baie gewilde feeste. Wynliefhebbers van reg oor die wêreld besoek Stuttgart om die grootste wynfees in Duitsland by te woon. Meer as 259 verskillende wyne word verkoop in meer as 120 pragtige en tradisionele stalletjies op die bekende 'Marktplatz' en 'Schillerplatz' om die Ou Kasteel. Wyn word geniet saam met tradisionele streeksdisse soos 'Maultaschen', 'Kässpätzle' en 'Schupfnudeln mit Kraut', en vele meer. En daar word groot gekuier !
Plaaslik, hier in Baden-Wurttemberg, word die 'Cannstatter Volksfest', ook bekend as die 'Stuttgart Beer Festival', in hierdie dae gefees. Volgens inligting is dit die tweede-grootste bierfees in Duitsland na die genoemde Oktoberfees.
In die omgewing van die Stuttgart lughawe groei in eiesoortige tipe kool, bekend as die Filderkraut. Hierdie variëteit groei blykbaar net hier, in 'n baie klein area. 'n Paar maande gelede was daar die Filderkraut-fees, vermoedelik ter ere van hierdie spesiale kool.
Kerstyd is natuurlik iets unieks in Duitsland. Die sogenaamde 'Weinachtsmarkte', of Kersfeesmarkte, bring 'n unieke en spesiale atmosfeer in hierdie tyd. Uiteraard is dit in die middel van die winter, en in baie gevalle hier, sneeu - of ten minste, sub-zero temperature. Maar die lekker om Glühwein te drink, allerhande heerlike en seisoen-gebonde lekkernye te koop en te eet, terwyl mens jou verkyk aan al die pragtige stalletjies, opgemaak met die Kerstema met liggies en beelde en geskenke en wat nog alles, die klanke en reuke van Weinacht, is 'n ervaring wat jou vir ewig bybly en mens nie regtig in woorde kan weergee nie.
Mens kan maar net deur Duitsland ry, en oral waar jy gaan, word die een of ander fees met groot baniere aangekondig.
Watter ander land kan spog met so 'n sterk feeskultuur ?
Tuesday, September 27, 2005
Amanda Reageer
Amanda reageer :
1. In Suid-Afrika het alle Suid-Afrikaners, ten spyte van baie dinge wat nie reg is nie (erg verkeerd is), ons nog baie om voor dankbaar te wees, en rede om elke dag dankie te sê daarvoor. Nou, met alle respek, vra ek 'hoekom' ? Is ons maar net gelukkig, of sien ek die dinge heeltemal verkeerd ? Kry ons nog 'n beurt ?
Amanda sê : Al wat ek weet is tel jou seeninge en wees dankbaar dat jy in die ou mooi landjie bly. Al is ons nou aan die ontvang kant en kry ons ’PANDAS” (previously advantaged now disadvanted) skoppe onder ons jiste, gaan dit nog baie beter as in ander lande.
2. In die konteks van bogenoemde, is ons Suid-Afrikaners nog bereid om opofferings te maak. Met ander woorde, is ons bereid om regtig vir die saak waarvoor ons staan en waaroor ons sterk genoeg voel, die broekspype op te rol, die das af te haal, en "kaalvoet oor die Drakensberge te loop" ? Of is dit makliker om Saterdagaand by die vuur in gemak te staan en kla, en om "omstandighede" die skuld te gee ? As jy terugkyk na die ”Afrikaner” sal jy sien ons kon nog nooit saamstaan nie, elkeen voeter in sy eie rigting en doen wat hy dink reg is.
Amanda sê : Daar is wel by tye dat ons ’n paar uitskieters het wat alles in sy vermoe sal doen, maar die algemene reaksie is „go with the flow“ -die regering het in elke geval so mag, hulle kan doen net wat hul wil, dis net ’n kwessie van tyd dan is alles verengels. Maar is is daarop neerkom dat ons almal sal moet saamstaan vir die voorbehoud van bv. Afrikaans in skole/universiteite, dan sal die mense hulle stem dik maak.
3. Is ons nog trots op ons herkoms ? Hier praat ek nie 'n politieke stelling of posisie aan nie, maar slegs en uitsluitlik van ons kulturele geskiedenis. Wie leer nog vir hulle kinders (of kleinkinders) die ou Afrikaanse liedjies, wie ondersteun Afrikaanse kuns, wie het onlangs 'n Afrikaanse boek gelees, of selfs 'n Afrikaanse boek gekoop (die Huisgenoot, Vrouekeur, Landbouweekblad, of Rooi Rose tel nie.. :-) Of kritiseer ons net van die linkerkant tot die regterkant - luister nie na Jurie Els nie (vir goeie redes), en ook nie na ddisselblom of Jak de Priester nie (ook vir goeie redes). Maar is ons ook ewe krities op die Engelse musiek en kunstenaars waarna ons so geredelik luister ? Wat van volksspele ? Ek sal graag later 'n paar gedagtes deel hoekom hierdie dinge nou skielik vir my belangrik word.
Amanda sê : Ongelukkig is ons normale reaksie, ag los dit vir iemand anders, ek is nou te besig of wil eerder die tv program kyk. Gelukkig het ons iemand soos Steve Hofmeyr wat baklei vir Afrikaans en het hy dit laas reggekry om ’n klompie mense bymekaar te kry om te baklei vir die naam Pretoria. Verder is daar tans ’n ongekende groei na Afrikaanse musiek, die mense is nie meer skaam om te se hulle luister na Afrikaanse musiek nie. Dit is selfs ”Cool” onder die jong mense. Die mense is trots om Afrikaans te wees.
4. Hierbo verwys ek na 'n 'natuuurkrag'. Die tsunami en die orkaan is uiteraard 'n manifestering van geweldige natuurkragte. Dit gebeur tog sekerlik toevallig nie, of hoe ? Of dink julle dit het maar toevallig nou en in hierdie tyd gebeur ? 5. Dat ons in 'n relatief kort bestek van tyd groot rampe in die wêreld ervaar het : 9/11 (mensgemaak - in die Weste), tsunami ("natuurlik" - in die Ooste), London-terreur (mensgemaak - relatief sentraal op die wêreldkaart), Katrina ("natuurlik" - in die Weste) - het vir my 'n groter boodskap saam as wat die individuele insidente dalk vir 'n mens wil wysmaak, of hoe ?
Amanda sê : Dit is alles deel van God se plan – die eindtyd is baie naby – lees maar net die Bybel.
Monday, September 26, 2005
Die Frankfurt Internasionale Motorskou 2005
Vanselfsprekend is die gewone vervaardigers almal daar, maar ek het ook vervaardigers en produkte daar gesien van wie ek nog nooit tevore gehoor het nie - uiteraard nuwe spelers in die industrie, hoofsaaklik van China. Dit is egter baie duidelik dat hulle vêr agter die gevestigde name is ten opsigte van kwaliteit en veiligheid - wat ook nogal interessant is, is dat hulle produkte in die meeste gevalle nie geweldig baie goedkoper is nie - met sekere uitsonderings.
Daar was nogal heelwat fokus op alternatiewe brandstof-opsies, met verskeie sogenaamde 'hybrid'-opsies, asook aardgas as 'n alternatiewe bron. Laasgenoemde is al redelik gevestig in Duitsland met heelwat garages wat aardgas kommersieël aanbied - maw jy kan jou kar volmaak met gas. Heelwat goedkoper as petrol of diesel, wat al tot R 12.00 per liter hier kos.
Diesel-tegnologie het al ongelooflik verbeter. Soos julle weet, is die ou stadige, rokerige diesel-enjins van die jare sewentig lankal iets van die verlede. BMW het by die skou 'n nuwe reeks bekend gestel, die BMW Alpina D3. Hierdie voertuig het 'n 4-silinder, 2.0 liter enjin wat 147 KW teen 4,000 RPM lewer. 0-100 km/h in onder 8 sekondes, 'n maksimum spoed van ongeveer 235 km/h, en 'n verbruik van onder 7 liter per 100 kilometer. Dit alles in 'n vierdeur sedan vir onder R 300,000 (EURO 37,000).
Audi het 'n paar 'veilige' opsies in die A6 en A8 klas bekend gestel. Hulle maak daarop aanspraak dat hulle 'n 7.62 mm kaliber projektiel, handgranate en bomme kan weerstaan. Wat my oog gevang het by Audi, was die wêreld-bekendstelling van die Audi Q7 - wat vir my lyk na 'n gedugte teenstaander van die Porsche Cayenne, Mercedes se M-klas, en Volkswagen se Touareg. Intree-modelle kan mens kry vir so vanaf R 400,000 (net minder as EURO 50,000). Ook dink ek dat die 4.2 liter V8 enjin in die A4 'n bietjie stof in meer ernstige kompetisie se oë gaan skop.
Lelike Amerikaanse Cadillac's was daar ook :-) en sekere van die Chrysler sedan-voertuie val volgens my smaak ook darem nie te sag op die oog nie. Gelukkig verskil smaak sekerlik. Die huwelik tussen Chevrolet van Amerika en Daewoo het ongelukkig ook 'n paar lelike kinders gebaar. 'n Groot Amerikaans-gestileerde sierrooster op 'n klein Oosterling (Chevrolet Aveo) maak ook nou nie juis 'n voorblad-gesig nie.
Een besondere Amerikaner is die Corvette Z06. Met sy 7.0 liter V8 wat 373 KW uitskop, 0-100 doen in onder vier sekondes, en 'n maksimum spoed van 305 km/h kan haal, is hierdie model nog pragtig ook.
General Motors het 'n kleiner baba-Hummer ook bekend gestel. Die Hummer H3 is maar net 4.72 meter lank (!), kan deur water van tot 60 cm ry en trappe van 40 cm uitklim, en jou karavaan agter-aan kan maar meer as 2,00 kilogram weeg. Gelukkig is die groter model ook nog beskikbaar, vir die wat hom nodig het.
Volkswagen het hulle nuwe R32 Golf hier bekend gestel. Hierdie voertuig beskik oor 'n 3,2 liter V6 motor, 184 KW, 6,2 sekondes 0-100, en 'n maksimum spoed van 250 km/h. Jy kan hom kry teen ongeveer R 260,000 (EURO 32,200).
BMW het ook hulle redelik nuwe speelding hier ten toon gestel. Die BMW 130i met 265 perde onder die kap behoort enigiemand agter die stuurwiel se adrenalien te laat jaag. As gevolg van innoverende tegnologie en sekere voordele van die een-reeks se bakontwerp is hierdie implementering van die 3.0 liter masjien meer kragtig as die soortgelyke enjin in die 330, 530 en 630.
Rolls Royce se nuwe Phantom spog met 'n 12-silinder V-vorm 6,75 liter enjin wat 338 KW deurgee na sy wiele. Maksimum spoed slegs 240km/h, maar die voertuig is meer as 6 meter lank.
Lamborghini se nuwe Gallardo Spyder se wêreldwye bekendstelling was ook hier. Met hierdie 5-liter 10-silinder en 520 perde onder die kap tweesitplek sportmotor is meer as 300 km/h blykbaar kinderspeletjies.
Porsche se nuwe Cayman S is ook in my opinie nou nie een van hulle grootste visuele suksesse nie. Die 6-silinder Boxer-enjin van 3,4 liter skop wel 217 KW uit en kry jou binne 5,4 sekondes van 0 tot 100 km/h, en jy kan volgens Porsche 275m/h haal op top spoed. Maar mooi is die kar nou nie regtig nie - lyk vir my maar bietjie na iets wat onder in die donker op die seevloer behoort rond te speel.
Die meeste voertuie het ook nou 'n poort om jou draagbare MP3 speler deur die motor se klankstelsel te speel. Dit plaas draagbare musiek nou in 'n nuwe dimensie.
Verskeie van die luukse motors het ingeboude TV's en DVD spelers, asook permamente INTERNET-toegang. Sleutelborde met Bluetooth om jou rekenaar in transit te gebruik word gekomplimenteer deur die INTERNET toegang. Maar dit is nog niks in vergeleke met die nuwe S-klas van Mercedes-Benz wat radar gebruik om jou te waarsku as jy te naby aan die voertuig voor jou ry nie en ook 'n sogenaamde Brake Assist Plus het. Dan kan die sitplekke jou nog goed masseer ook op pad huis toe na 'n lang dag op kantoor!
Gedurende die elf dae van die skou was daar meer as een miljoen besoekers. Ek het net gewonder hoekom almal gister, toe ek daar was, moes kom. Maar, vir enigiemand wat belang stel in motors en dinge, en jy kan so 'n skou bywoon, sal dit 'n hoogtepunt wees.
Gaan loer gerus by http://www.iaa.de; daar is 'n Engelse opsie om bietjie rond te kyk.
Sunday, September 25, 2005
Wedersydse vertroue
Daar was 'n paar duisend mense teenwoordig by die geleentheid. Dit geskied by 'n klein plek met die naam Vingsted wat ongeveer in die middel van Denemarke gelee is. Daar is oor die 120 skietbane, wat in 'n valei gelee is, en dit sluit bane in vir geweer en pistoolskiet. Daar is dus 'n aardige paar vuurwapens teenwoordig wat grootkaliber, kleinkaliber gewere en pistole insluit.
Orals sien mens wapens wat rondstaan sonder dat daar 'n enkele persoon naby is. Amunisie is ook orals te sien. Indien jy in die restaurant wil ingaan moet jy jou wapens buite los en dit is sonder toesig. My seun was so veras dat hy my gedwing het om fotos daarvan te neem.
In die begin het dit my baie senuweeagtig gemaak. Die wonderlike ding is dat daar absoluut niks wegraak nie. Almal vertrou mekaar. Kinders van 10 jaar stap aleen met gewere rond en niemand bevraagteken dit nie omdat almal verwag dat hulle verantwoordelik sal optree, wat hulle ook doen.
Dit het my weereens laat besef wat wedersydse vertroue in medemens werd is. Mens kan net hoop dat dit so sal bly en nie met die tyd verander nie.
Wednesday, September 21, 2005
Dit en dat oor die Duitse Verkiesing (09.2005)
Sunday, September 18, 2005
Internasionale Humor - of nie ?
My oop vraag is dus : is humor dan so absoluut kultuur-gebonde of taal-gebonde ? Is 'n grap dan nie 'n grap nie ? Ek weet daar is baie grappe of stories wat absoluut eie aan 'n taal of kultuur of streek is, of die een of ander unieke dimensie het, byvoorbeeld woordspeling wat nie vertaal kan word nie, maar aan die ander uiterste is daar tog piesangskil-humor wat ek nogal gedink het universeel behoort te wees.
Baie Vannermerwe grappe bestaan as Murphy grappe ; ek het selfs al 'n grap of twee by Duitse vriende gehoor, met 'n Duitse hoek en Duitse hoofkarakters, wat ek eerlik gedink het dat dit 'n ou, oorspronklike Van der Merwe grap is.
Of wat dink julle ?
Saturday, September 17, 2005
My Foto Albums
Ek het 'n skakel na my foto albums by die kuiergat-blog gevoeg. Kyk regs onder SKAKELS en muisdruk op JOHANN SE FOTO ALBUMS.
Gaan kyk gerus. Enige kommentaar - goed, sleg, kritiek, voorstelle, of wat ook al sal waardeer word.
Beste, Johann
Friday, September 16, 2005
Orkane
Johann, jy het gevra wat die storie is agter die benaming van orkane. Ek deel graag met jou (en wieookal nog sou belangstel) die volgende.
'n Mens kan spekuleer oor hoekom orkane vrouename gegee word, die vrouens onder ons sal seker se dit is omdat orkane so ongelooflik en magtig is, terwyl mans sal se dis omdat hulle so kwaai en buierig is! Die werklike rede is die volgende:
Alle orkane word name gegee, die rede daarvoor is sodat dit maklik gevolg en geidentifiseer kan word. Vir honderde jare is orkane in die Wes Indiese eilande die naam gegee van die betrokke ‘saint’s’ dag waarop die orkaan ontstaan het. ‘n Australiese metereoloog het orkane vroue name begin gee voor die einde van die 19de eeu. (Ek vermoed dis omdat hy ‘n stormagtige vrou gehad het!) In 1953 het die Amerikaanse Weerdiens storms ook vrouename begin gee.
In 1979 is beide vroue en mansname gebruik vir orkane en storms. Een naam vir elke letter van die alfabet word gebruik behalwe vir die letters Q, U en Z. Orkane wat oor die Atlantiese Oseaan ontstaan se name is meestal Frans, Spaans of Engels aangesien dit die hooftale is in die lande wat aan die Atlantiese Oseaan grens.
Die ‘World Meteriological Organization’ roteer ses lyste met name vir orkane en storms. Dieselfde lyste word elke ses jaar weer gebruik. Die enigste keer wanneer ‘n nuwe naam bygelas word in indien ‘n orkaan baie dodelik of ‘duur’ was. Dan word die naam wat gebruik is vir die orkaan geskrap van die lys en ‘n nuwe een gekies. Hieruit kan ons dus aflei dat daar nooit weer ‘n orkaan met die naam Katrina sal wees nie.
Saturday, September 10, 2005
Reëndruppels op 'n sinkdak en koollande
Al wat ek hier ruik as ek fietsry, is die liewe koolplase. Selfs vars kool op die lande ruik nie herinneringslekker nie.
Nou ja...miskien slaaptyd nou...
Thursday, September 08, 2005
Johann Afskop
Ek loop nou al 'n rukkie met gedagtes wat nie lekker bymekaar kom nie, en wil graag met julle gesels daaroor. Jou gesprekterugvoer en gedagtes in hierdie verband sal regtig waardeer word. Ek sou graag die volgende gedagtes as 'n inskop ter gesprekvoering wou gebruik - jou kommentaar en opinie, of jy saamstem al dan nie, is baie welkom. Ek wil graag so iets van 'n joernaal opbou, so eintlik is enige onderwerp oop ter bespreking.
Enigiets is oop ter bespreking, binne die riglyne van ons persoonlike waardestelsels en respek vir onsself en mekaar. Ek belowe ek sal niks uithaal of bysit in julle individuele bydraes nie, maar as ek behou myself die reg voor om rowwe bydraes bietjie te masseer waar nodig.
Bydraes kan kort wees !
Alhoewel ek geen manier het om dit te kruisbekyk nie, vra ek dat julle julle eie oorspronklike werk vir my stuur. Waar julle voel dat iets van 'n ander bron van waarde is om in te sluit, is julle welkom - bevestig dit net dat dit van iewers anders afkomstig is. 'n Grappie (mooierig ! ) of 'n mooi storie is ook goed.
As hierdie ding gaan werk, gaan dit net werk omdat JY dit wil maak werk. JOU bydrae sal waardeer word. Dankie !!!
Hier kan ons tussen mekaar ernstig wees, ons kan snaaks wees, ons kan die spot dryf, ons kan die politiek aanvat (binne perke, asseblief ! ), ons kan kommentaar lewer oor gebeure van die dag, of sommer net gesels oor iets wat ons swaar op die hart lê ; ons kan ook ons persoonlike vreugdes en frustrasies met mekaar deel, en selfs ons hartseer en weemoed as ons wil. Maw, hierdie veld is skoon. Hier kan ons plant, skoffel, ploeg, saai, oes, natgooi, bietjie (kuns) mis gooi, en verplant - net soos ons wil.
My AFSKOP :
Hier van die middellyn skop ek sommer die bal in 'n rigting. Ek het oor die laaste paar dae in spaar-oomblikke sommer 'n klomp los gedagtes bymekaar gegooi in so potpouri mengsel - net om dalk iewers en effens bietjie kontroversieël te wees.
In Suid-Afrika is ons so geneig om te kla oor ons omstandighede. Dit is die politiek, die korrupsie, die publieke dienste wat so agteruit gaan, die mediese en hospitaaldienste, die skole, die universiteite, die swak diens, VIGS, droogtes, swart bemagtiging, die onregverdigheid van sekere wetgewing, die kapings, die lekker ou soustrein, die inbrake, probleme met die huishulp, die hoë belastings, petrol se prys wat bly opgaan, die kinders wat nie vir 'n mens luister nie en tog so groot wil wees, en so kan mens aangaan. Elkeen van ons kan uit ervaring en ook op hoorsê (ek wil amper sê vanuit die totale eerlike en geloofwaardige bronne van "urban legends"), sekerlik nog vele items by hierdie lys voeg. En ons kan onsself so lekker in 'n depressie of woede inpraat, veral Saterdag-aand nadat die Bokke en Bafana Bafana hulleself weer tot nuwe hoogtes bewys het (!), rondom die braaivleisvuur met 'n koue enetjie in die hand, langs die swembad.
Onthou hoe die Israeliete gekla en gemor het om die vleispotte van Egipte. Maar toe daar 'n leier onder hulle opstaan en volgens die Woord leiding begin neem en gee, en van hulle verwag is om sekere opofferings te maak, toe moet jy eers hoor hoe hulle kla hulle, en hoe dwarstrekkerig is hulle, en breek hulle weg... Nou ja, julle ken hierdie geskiedenis beter as ek. Die laaste deel klink amper soos hoe ons liewe Afrikaners partykeer optree...
My aanvangspunt is effens anders. Ten spyte van al die onlekker dinge, soos genoem hierbo, en al die ander wat vir elkeen van julle sy of haar eie bron van probleme of frustrasie, en lyding is, is dit tog my oorwoë mening dat ons dit nog steeds lekker het ; nou goed dan, relatief lekker, en dalk nie so lekker soos in die verlede nie. Daaroor miskien later nog 'n paar gedagtes.
In Suid-Afrika het ons goeie weer. Ons het spasie om in te bly en te leef.Ons het genoeg keuses ten opsigte van wat en waar en hoe ons wil koop. Ons het keuses waar en hoe luuks of hoe spartaans ons wil lewe. Ons ry wat ons wil ; uiteraard binne die konteks van ons individuele vermoëns en behoeftes.Ons is bevoorreg om regte godsdiensvryheid te sê. Ons kan aanbid Wie ons wil, waar ons wil, soos ons wil. Al rafel die some los, het ons nog steeds toegang na goeie gesondheidssorg. Selfde met onderwys en opvoeding. Ja, ek weet hierdie stellings is erg aanvegbaar, maar mens moet dalk ook in konteks hierna kyk. Sou jy belangstel, doen 'n bietjie navorsing oor die kwaliteit van primêre en sekondêre opvoeding in lande is Engeland en Amerika. Ek het nie die syfers beskikbaar nie, maar die ongeletterheidsstatistiek in Amerika is skrikwekkend. Daar is baie, baie jong mense wat deur die publieke opvoedingsstelsel kom - volgens maatstawwe, suksesvol so - wat nie kan lees of skryf nie. Dit is 'n feit. Geweld voer hoogty in baie (ek wil amper sê, die meeste - maar ek kan dit nie kwalifiseer nie ) publieke skole in Engeland. Onderwysers word gereeld aangerand en mishandel - en daar word niks aan die saak gedoen nie. Dieselfde geld vir gesondheidsdienste.
Ons in Suid-Afrika is gewoond aan goeie diens. Dit is regtig so. Met respek, as mens nie van beter weet nie, dink jy die diens wat ons in Suid-Afrika kry - met uitsonderings - is sleg. Probeer Duitsland. Verlede week in 'n vergadering noem iemand hier (sonder enige inset van my!) dat Duitsland 'n 'service desert' is. Met uitsonderinge van miskien een persent, stem ek uit eie ondervinding volmondig en heelhartig saam. Ek is bereid om verskeie ervarings ter woord te stel om hierdie stelling en opinie te bevestig, so iemand belangstel.
Gedink rassisme is uniek aan Suid-Afrika ? Dink weer. Rassisme is ongelukkig 'extremely alive and well' in baie ander eerste-wêreld lande. Hieroor wil ek myself ook nie graag te veel uitlaat nie, maar sou jy belangstel, daar is meer as genoeg bronne ter ondersteuning en bewys van hierdie stelling. Ek praat dit uiteraard ook nie goed in enige konteks nie, maar dit is nie waar, en dit was nog nooit waar, dat Suid-Afrika, en Suid-Afrikaners, en Afrikaners, die enigste vark in hierdie verhaal is nie. Dit is ook nie so dat ons, of Suid-Afrika, dit uitgevind het nie. Ons het nou wel 'n naam daaraan gegee - Apartheid - waarvan die 'legacy' ongelukkig vir die res van die dae saam met ons sal wees.
Ek dwaal bietjie af, verskoon tog asseblief.
Ons in Suid-Afrika is gespaar van baie dinge. Die sogenaamde 'beskaafde' wêreld in die onlangse geskiedenis in sy bek geruk, eers met 9/11, en toe die Tsunami in die Ooste. Wie kan die ontnugtering en verwesentheid van die mense vergeet. Tog, hoeveel van ons onthou dit, en hoeveel van ons het op een of ander manier ons dankbaarheid getuig dat ons en ons geliefdes gespaar is van hierdie verliese en trauma. Toe was daar die Londense terreur. Weereens iets wat vir ons Suid-Afrikaners grootliks gespaar was. Ja, ek onthou - wie sal die bosoorlog vergeet. Wie van ons kan en wil vergeet van die stasiebom-aanval, die Poynton's bomme in die jare 80's, die kerkaanvalle in die Kaap en Oos-Kaap, ons jong mense opgeoffer in die ou Suidwes-Afrika en Angola. Ons sal dit tog nooit vergeet nie. Ek probeer dit ook nie minimaliseer in enige konteks of op enige manier nie.
Waar ek ernstig begin besin het oor hierdie dinge, is die laaste klomp dae met "Hurricane Katrina". In baie opsigte het dit vir my die slegste en tog ook die beste in die mens gewys - in sekere opsigte amper op uiterste of ekstreme visualisasies. Hier sien ons dat dit nie 'n menslike vyand is nie, maar 'n krag van die natuur, wat die magtigste en rykste nasie in die wêreld totaal onkant kry en met sy broek op sy knieë vang. Hoe tragies is dit dat terwyl mense letterlik doodgaan terwyl hulle wag vir hulp, die grootste leiers mekaar blameer en verwyt oor wie beter voorsorg moes getref het om so iets te verhoed. Hulle probeer politieke punte wen deur prosesfoute uit te wys, terwyl mense dood gaan van honger en dors, van skok, van blootstelling. Hierdie supermoondheid staan reg om 'n oorlog in enige plek in die wêreld te gaan veg, maar by die huis word hy heeltemal onvoorbereid gevang. Hoeveel meer tragies is dit nie dat terwyl menige lande van die wêreld hulp in alle vorme, beginnende met miljoene dollars, tot noodvoorrade en mannekrag aanbied, die leier van die magtigste moondheid op aarde weier om die te aanvaar. Die verskoning - 'we do not have the logistics in place to receive the help'. Dit is ongelooflik. Hoe tragies is dit dat mense in hierdie omstandighede hulle weg oopsien om hulle eie verskuilde politieke of rassistiese agendas te manifesteer op dit wat daar gebeur het en nog steeds besig is om te gebeur. Tog sou dit snaaks gewees in 'n ander konteks om te sien dat mense wie se huise vernietig is en gelyk met die grond gevee is, waar die totale infrastruktuur ten opsigte van elektrisiteit, paaie, en ander dienste, besig is om 'n televisie-stel of radio te steel uit 'n winkel wat beskadig is. Maar dit is nie snaaks nie - dit is eintlik hartseer. So moes baie mannekrag totaal onproduktief gebruik word om 'looting' te voorkom en winkels op te pas, eerder as wat hulle ontplooi is om lewens te red ; om mense weer hulle menswaardigheid terug te gee. Dit sou interessant wees om navorsing te doen oor hierdie gedrag - hoekom sou mense wat onder hierdie uiterste omstandighede verkeer, so iets wou doen?
In teenstelling daarmee, het ek van tyd tot tyd hoendervleis gekry om te sien hoe mense uitreik na mekaar, en mekaar van hulp is. Selfs die wat byna niks het nie - water, kos, klere - deel die bietjie wat hulle het met ander wat dit sigbaar meer nodig het. Operasionele mense van ondersteuningsdienste wat 20 uur en langer per dag werk, want, volgens een soldaat - hoe kan hy gaan rus as hy weet dat daar nie genoeg helpers is nie, en mense is vasgevang en besig om dood te gaan. Die trane van blydskap waar iemand hoor dat sy of haar geliefde of kind of siek ouer gevind gered is, en veilig is. Mense wat in absolute chaos is, en tog dit wat hulle het deel met 'n troeteldier wat hulle onder moeilike omstandighede veilig gehou het.
Net 'n gedagte, weet iemand hoekom orkane byna altyd vrouename het ? Ek wil baie graag die regte rede weet.
In hierdie legkaart wat ek bou is daar nog ten minste twee boublokkies wat ek graag hier wil aanraak.
Sonder om 'n grootskaalse debat daaroor te inisieer, wil ek tog vra : hoekom het die wêreld (Amerika en Engeland ! ) die huidige oorlog in Irak ? Ons weet die verskoning van WMV (wapens van massa vernietiging) is nie geldig nie. Gaan dit oor President Bush en ander rolspelers se oliebelange in die Midde-Ooste, of is daar dalk 'n ander verskuilde motief, of is dit dalk net nog 'n blokkie in die groot legkaart - vir redes wat ons nie ken nie ?
Die tweede een is die ontruiming van Gaza en die gepaardgaande aksies, reaksies en implikasies in Israel en Palestina. Hoekom hierdie skielike en radikale toegewing, wat weereens die mespunt balans in die Midde-Ooste in gevaar stel ? Hierdie aksies het geweldige interne politieke en sosiale implikasies in Israel, en het nou weer 'n hele klomp nuwe verwagtinge en 'demands' en meer veroorsaak in Palestina.
Wat het dit te doen met ons, en waarheen lei hierdie pad my?
Net nog 'n ander dimensie, om hierdie blokkie nog 'n finale kleur op die kant te gee. Dit is vir my interessant hoe 'n segment van die Westerse samelewing besig is om te 'compromise' op Christelike beginsels. Dalk is ek heeltemal verkeerd, en ek is ook heeltemal bereid om anders oortuig te word. Maar, gesien in die lig van die Londense terreur, hoe hard vry Eerste Minister Tony Blair na die Moslem. Die wêreld het geen kritiek daarteen nie. As gelowiges weet ons dat jy of vir die Here is, of teen Hom is. Daar is nie 'n grys area nie. Hierdie aspek van die makro-wêreldse 'vandag'-situasie pla my nogal deesdae. Miskien is ek verkeerd...
Goed, hierdie pad lei my na 'n paar finale stellings (hoe, weet ek ook nie) :
1. In Suid-Afrika het alle Suid-Afrikaners, ten spyte van baie dinge wat nie reg is nie (erg verkeerd is), ons nog baie om voor dankbaar te wees, en rede om elke dag dankie te sê daarvoor. Nou, met alle respek, vra ek 'hoekom' ? Is ons maar net gelukkig, of sien ek die dinge heeltemal verkeerd ? Kry ons nog 'n beurt ?
2. In die konteks van bogenoemde, is ons Suid-Afrikaners nog bereid om opofferings te maak. Met ander woorde, is ons bereid om regtig vir die saak waarvoor ons staan en waaroor ons sterk genoeg voel, die broekspype op te rol, die das af te haal, en "kaalvoet oor die Drakensberge te loop" ? Of is dit makliker om Saterdagaand by die vuur in gemak te staan en kla, en om "omstandighede" die skuld te gee ?
3. Is ons nog trots op ons herkoms ? Hier praat ek nie 'n politieke stelling of posisie aan nie, maar slegs en uitsluitlik van ons kulturele geskiedenis. Wie leer nog vir hulle kinders (of kleinkinders) die ou Afrikaanse liedjies, wie ondersteun Afrikaanse kuns, wie het onlangs 'n Afrikaanse boek gelees, of selfs 'n Afrikaanse boek gekoop (die Huisgenoot, Vrouekeur, Landbouweekblad, of Rooi Rose tel nie.. :-) Of kritiseer ons net van die linkerkant tot die regterkant - luister nie na Jurie Els nie (vir goeie redes), en ook nie na ddisselblom of Jak de Priester nie (ook vir goeie redes). Maar is ons ook ewe krities op die Engelse musiek en kunstenaars waarna ons so geredelik luister ? Wat van volksspele ? Ek sal graag later 'n paar gedagtes deel hoekom hierdie dinge nou skielik vir my belangrik word.
4. Hierbo verwys ek na 'n 'natuuurkrag'. Die tsunami en die orkaan is uiteraard 'n manifestering van geweldige natuurkragte. Dit gebeur tog sekerlik toevallig nie, of hoe ? Of dink julle dit het maar toevallig nou en in hierdie tyd gebeur ?
5. Dat ons in 'n relatief kort bestek van tyd groot rampe in die wêreld ervaar het : 9/11 (mensgemaak - in die Weste), tsunami ("natuurlik" - in die Ooste), London-terreur (mensgemaak - relatief sentraal op die wêreldkaart), Katrina ("natuurlik" - in die Weste) - het vir my 'n groter boodskap saam as wat die individuele insidente dalk vir 'n mens wil wysmaak, of hoe ?
Waarheen nou ...wat dink jy hiervan ?
Sjoe - hierbo is 'n klomp dinge waaroor ons lekker kan gesels en debatteer. Ek hoop ek hoor van elkeen van julle.
Groete en seënwense,
Johann












